Omnia trek swaar in moeilike vervaardigingsektor

omnia-holdings

Foto: Omnia Holdings

Die maatskappy Omnia, wat grootliks deur kwessies soos die gronddebat en die Mynbouhandves geraak word, het aangekondig dat hy vir die tussentydse periode tot September swaar getrek het.

Die maatskappy wat, onder meer, plofstof, chemikalieë en kunsmis vervaardig, sê sy uitslae toon die moeilike toestande in die plaaslike vervaardigingsektor.

Omnia se Protea Chemicals word ook herstruktureer. Dit sal daartoe lei dat 125 poste besnoei gaan word. Die maatskappy sê die werkverliese onderstreep die moeilike toestande wat die filiaal in die gesig staar.

Omnia het bygevoeg dat verkope by Protea Chemicals oor die tydperk tot September met 4% gedaal het. Protea het ook tydens dié periode vir Umongo Petroleum bekom.

Die chemiese afdeling het R2,6 miljard tot die groep se omset van R8,7 miljard bygedra. Myn- en landbou het onderskeidelik R2,5 miljard en R4,3 miljard tot omset bygedra.

Volgens Omnia is boere onder finansiële druk. Die maatskappy voeg by dat van die redes wat aangevoer word, die gronddebat is en dat landbou tans in ʼn negatiewe siklus is. Boonop sê dit daar ʼn ooraanbod van grond is.

Die groep sê ook dat onsekerheid oor die Mynbouhandves ʼn impak op hom gehad het. Dit voeg by dat onsekere vooruitsigte nooit ʼn goeie ding vir enige maatskappy is nie.

Die maatskappy beoog om in die buiteland uit te brei om sy winsmarges te verhoog. Hy het die Amerikaanse maatskappy Oro Agri vir $100 miljoen verkry.

Dit het ʼn tussentydse dividend van 75 sent per aandeel uitgekeer. Dit is 62,5% laer as die vorige tussentydse periode se 200 sent per aandeel.

Een van die land se voorste maatskappye, wat sy status as keuraandeel ingeboet het weens sy uitbreiding na Afrika en Europa, is weer op die winspad.

Die verpakkingsmaatskappy Nampak, wat voorheen onder die blouste van blou onder maatskappye getel het, het weens sy uitbreidingsplanne die laaste vyf jaar taamlik gestruikel.

Die maatskappy sê dat in die boekjaar tot September sy bedryf in, onder meer, Angola, Nigerië en Zimbabwe die kop gelig en hul winsmarges verdubbel het.

Nampak het sedert 2015 nie ʼn dividend uitbetaal nie. Dit het bygevoeg dat dit ook nie vanjaar ʼn dividend gaan uitkeer nie totdat sy kontantvloei uit Angola en Tanzanië volhoubaar is en die groep sy glasbesigheid verkoop het.

Nampak sê dat sy omset met 0,5% tot R13,3 miljard gegly het. Die R3,5 miljard wat hy in Angola, Nigerië en Zimbabwe verdien het, het die netto wins met 60% tot R569 miljoen ondersteun.

Die groep se filiale in Europa het ʼn bedryfswins van R5 miljoen behaal teenoor ʼn verlies van R64 miljoen die vorige jaar.

Intussen het Capitec ʼn Swart Vrydag-winskopie losgeslaan deurdat sy aanbod om Mercantile Bank te bekom, suksesvol was. Hy het die ander twee spelers in die wedloop, Nedbank en die Staatsbeleggingsfonds, se hand in die as geslaan.

Capitec sien die aanwins as ʼn stap om in die winsgewende korporatiewe sektor toe te tree. Die transaksie beloop R3,2 miljard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ruan Calitz ·

Springstof, nie plofstof nie
Oro Agri en nie Ori Agri nie

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Ruan

Die maatskappy se naam is reggemaak soos versoek, dankie dat jy dit onder ons aandag gebring het.
In die geval is die woord plofstof aanvaarbaar aangesien hier gepraat word van kommersieel vervaardigde plofstowwe:

Lees gerus die verklaring oor springstof versus plofstof op Litnet: “Die veld tussen kommersiële en militêre plofstowwe is so wyd as die ooste van die weste. Kommersiële plofstof word grootmaat vervaardig en is in die algemeen baie eenvoudig. Militêre plofstowwe, insluitend bomme, is baie gevorderd, duursaam en uiters gevorderd. Alhoewel die militêre veld hoofsaaklik van springstowwe gebruik maak, is dit tegnies nog steeds nie verkeerd om daarna as plofstof te verwys nie.”
http://blogs.litnet.co.za/papegaaislaai/2010/09/16/kaboem/

Groetnis
Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.