Ongelukkigheid by Anglo oor te min SA direkteure

anil-argawal

Die Indiese miljardêr, Anil Argawal, wat ook die hoof van Volcan Investments is, wou glo nog ’n Suid-Afrikaner op die bestuursraad van Anglo American hê. Foto: Twitter.com

Dit lyk weer eens of een van die wêreld se mynreuse, Anglo American wat in Suid-Afrika ontstaan het, in die soeklig kan kom. Dit te midde van berigte dat sy grootste aandeelhouers nie gelukkig met die Anglo-bestuursraad is nie.

Die aandeelhouer Volcan Investments het hare met die raad gekloof oor die aanwysing van ’n nuwe direkteur. Die Brasiliaan Marcelo Bastos is vir die vakature verkies, maar Volcan se hoof, die Indiese miljardêr, Anil Argawal, wou ’n Suid-Afrikaner op die raad hê.

Ná Anglo se verhuising van Johannesburg na Londen in die laat neëntigs, het die maatskappy verskeie veranderings ondergaan. Terwyl sy primêre notering op die Johannesburgse Effektebeurs was, is Anglo as ’n aanwyser van die Suid-Afrikaanse ekonomie beskou.

Sy belange het gewissel van goud, steenkool, diamante, platinum, ystererts en staal tot in die nywerheidsektor waar hy deur Anglo American Industrial Corporation beheer gehad het oor maatskappye soos McCarthy Retail, Scaw Metals, ’n indirekte belang in SA Brouerye Haggie Rand, Boart Longyear, die destydse Cape Times en Cape Argus-mediagroepe, in bankwese en versekering om ’n paar uit te sonder.

Volcan het teen Bastos se aanstelling gestem, wat die spanning tussen aandeelhouer en raad vergroot het.

Die verhouding tussen Argawal en Anglo se raad het versleg nadat die minister van minerale hulpbronne, Gwede Mantashe, die mynmaatskappy in ’n toespraak met die opening van die Gamsberg-sinkmyn in Februarie aangeval het.

Volgens kenners dring Argawal aan dat Anglo meer as een Suid-Afrikaanse direkteur moet hê. Die enigste Suid-Afrikaner op die raad is Nolitha Fakude. Blykbaar het Argawal die keuse van Bastos as ’n verspeelde kans beskryf.

Die Oppenheimer-familie wie se patriarg, Sir Ernest, die groep begin het, het al hul belange in die groep verkoop. Boonop het Anglo meer in die buiteland – en veral Suid-Amerika – begin belê waar, onder meer, kopermyne nagejaag is. Hy het van sy belange in Suid-Afrika, soos goud en staal, verkoop.

In Suid-Afrika is sy huidige belange in Anglo Platinum, Kumba Iron Ore, steenkool en sink.

Anglo se voorsitter, Stuart Chambers, sê Bastos is verkies weens sy ervaring in die hulpbronnesektor. Hy is al 30 jaar in die sektor. Hy het bygevoeg dat die Suid-Amerikaanse belange ’n derde van Anglo se beleggingsportefeulje beloop.

Intussen is Anglo ook besig om hom voor te berei vir ’n vyandige oornamebod van Volcan. Dit kan enige tyd vanaf 2020 gebeur. Maar daar is egter een strik. Sou Argawal op dié stap besluit, moet hy sy voorneme voor die einde van hierdie jaar bekend maak.

Anglo het drie banke – Morgan Stanley, Goldman Sachs en Centerview nadergesleep om hom te adviseer, sou Argawal ’n vyandige aanbod maak.

Argawal het onlangs sy hulpbronnemaatskappy, Vedanta, van die Londense aandelebeurs gedenoteer. Dit was om geld te kry vir ’n moontlike aanbod aan Anglo en oor klagtes oor sy omgewingsrekord. Boonop beskou ontleders dat Vedanta se bates minderwaardig is teenoor dié van Anglo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

ChrisE ·

Ons in die land word daagliks met nuus van korrupsie, geldwassery en ander finaniseële misdrywe oordonder. Almal staar hulle blind teen die Guptas, Transnet, Escom en ander instellings en organisasies en persone wat wederegtelik opgetree het. Ons landjie is sedert 1966 stadig maar seker van ons minerale bronne en grondstowwe gestroop. Die sg Anglo onbondeling in die laat 90’s is een van die meesterlike boewery wat in die land plaasgevind het. Die magtige Yskor was ‘n ander. Wat het Anglo gedoen? Hulle het alternatiewe bronne gesoek en gekry. Die “myne” is die land aan SBB (Swart Bemagtigings Besighede) ten duurste verkoop. Waar het die SBB die geld gekry? Die belasting betalers het die rekening vereffen. Wat het die SBB maatskappye gekry? Gate in die grond (Byne uitgewerkte myne). Wie manipuleer die goud, diamant vinadium, yster steenkool pryse. Almal sal sê, dit is vraag en aanbod. Die London Metal Exchange bepaal/manipuleer die pryse. Ou storie. Die Amerikaners wou in die 1980’s sanksies teen SA instel. Mnr PW Botha sê tydens ‘n toespraak die VSA kan dit doen. Al wat SA doen is weerhou net 10 strategiese minerale van die VSA o.a uraan. Twee weke daarna sê die Yanks, nee wat hulle stel “selective sanctions” in. Dit is hoekom die land gekelder is, nie agv politieke beleid nie maar ekonomiese voordele vir die plunderaars. Die nuwe bestel het net gehelp agv totale onbevoegdheid en onkunde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.