Onmoontlike Sasria-tariewe vir boere

Die nuwe Sasria-tariewe vir plaastoerusting gaan boere hard slaan. (Foto: Maroela Media)

Die Suid-Afrikaanse Spesiale Risikoversekeringsvereniging (Sasria) het aangekondig dat hy sy premies drasties gaan verhoog. Dié staatsbeheerde instansie bied dekking teen uitsonderlike risiko’s soos burgerlike opstand, openbare wanorde, stakings, onluste en terrorisme.

Maroela Media het vroeër berig dat Sasria, wat nog altyd baie goed presteer het, ná die Julie-onluste in ernstige finansiële moeilikheid gedompel is.

Die verhoogde tariewe is gedurende September en Oktober verlede jaar by wyse van ʼn skrywe aan Sasria se agente en tussengangers bekendgemaak en gaan na beplanning op 1 Februarie vir sekere voertuie in werking tree.

Volgens dié kennisgewing is die verhoging op swaar kommersiële voertuie (HCV) soos vragmotors, wat vir kommersiële vragvervoer teen vergoeding gebruik word, tot 1 736%.

Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL), sê hy vermoed die aanpassing kan moontlik toegeskryf word aan die geweldige skade wat tydens die onluste in KwaZulu-Natal in Julie 2021 aan vragmotors aangerig is.

Wilken sê hy het egter met skok verneem dat plaastoerusting se Sasria-tariewe ook aan dieselfde verhogings onderwerp is. Die skerp verhoging in tariewe op plaastoerusting kan boere hard slaan.

“Indien die rasionaal agter die drastiese verhoging gegrond is op die skade wat aan kommersiële vragmotors aangerig is, maak hierdie ongeregverdigde verhoging op landboutoerusting, wat bykans nooit aan hierdie soort risiko blootgestel word nie, net eenvoudig nie sin nie.

“Dit sal ʼn geweldige aanpassing meebring aan die Sasria-tariewe op trekkers, stropers, selfaangedrewe spuite en planters,” sê Wilken. “Die landbousektor, wat reeds veral in die Vrystaat aan wesenlike ekonomiese uitdagings blootgestel is, sal eenvoudig nie die tariewe kan bekostig nie.”

 

Voorbeelde van die aanpassings wat aan VL voorsien is:

TipeBedrag verseker2021 PremieNuwe premie%-verhoging
TrekkerR2 800 000R52,61R966,171 736%
TrekkerR4 270 000R80,18R1 472,371 736%
TrekkerR450 000R8,46R155,281 735%
StroperR4 700 000R87,88R1 613,861 736%
Selfaangedrewe spuitR4 200 000R78,91R1 469,931 762%
PlanterR1 600 000R30,06R552,101 736%
PlaasvragmotorR900 000R16,91R310,551 736%

 

Hy sê daar moet anders besin word oor die klassifikasie van hierdie tipe toerusting. “Die dikwels spreekwoordelike beskouing van die landbousektor as ‘melkkoei’ kan nie hierdeur verder gemelk word nie.”

Vrystaat Landbou het aangedui dat hy wel navraag aan Sasria oor die drastiese aanpassings gerig het, maar nog vir terugvoer wag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
casper

Ja nee – En niemand in die tronk vir al die miljoene se skade nie !!!

AW

Ja Nee !!!

Johannes_64

Klink of iemand dalk die risiko aangepas het. Iemand moet ook gaan kyk hoe speel die geld in SASRIA ‘n rol in die onteiening wat dalk verwag word, al is die nieamptelike onteiening nie.

Baardman

AfriForum sal maar weer moet help hier.

Diets

Dis verregaande en belaglik!!!!!