Onrus oor looneise vir platinumbedryf

Argieffoto.

Kenners van die platinumbedryf meen die vakbond Amcu (Die Vereniging van Mynwerkers en Konstruksie-unie) se jongste looneis is kommerwekkend. Amcu wil ʼn nuwe minimumloon van R17 000 per maand vir werkers in dié bedryf instel.

Amcu het ʼn paar maande gelede sy loonstaking in die goudmynsektor opgeskort waar hy die Sibanye-Stillwater-groep geteiken het. Daar het die unie nie veel uitgerig nie. Sedertdien het Sibanye ʼn beduidende speler in die platinumbedryf geword deur Lonmin se platinumbelang te bekom.

Dit is juis by Lonmin waar Amcu sy berugtheid verwerf het toe 44 mense by Marikana dood is tydens en voor die staking in Augustus 2012 waarby dié vakbond betrokke was.

Amcu het egter intussen met verskeie rolspelers in die mynbedryf hare gekloof. Dit sluit die Nasionale Mynwerkers Unie (NUM) en verskeie werkgewers soos Sibanye in.

Amcu se president Joseph Mathunjwa sê die eis is opgestoot na R17 000 weens inflasie. Hy sê platinummynwerkers het aan die kortste ent gebyt terwyl groepe in die sektor “ryk” geword het weens stygings in die palladium- en rodiumpryse.

Voorheen het Amcu R12 500 per werker geëis. Dit het juis tot die Marikana-slagting gelei.

Boonop het die registrateur van arbeidsverhoudinge ʼn kennisgewing uitgereik waarin hy gewaarsku het dat Amcu se dae as vakbond getel kan word. Dit omdat Amcu nie sy registrasie gestand doen nie.

Ontleders sê Amcu loop op dun ys juis omdat werkers meer geld verloor het as wat hulle verdien het tydens die Sibanye-staking. Ook die kwessie oor Amcu se registrasie, is nog nie beslis nie.

Gary McNamara, ʼn ontleder van Sanlam Private Wealth, sê dat Suid-Afrika tans werkgeleenthede nodig het. Hy het op 702 Talk Radio se The Money Show gepraat.

“Amcu se staking sal net die teenoorgestelde meebring. Ons het beleggings nodig. Stakings is die maklikste manier om beleggers weg te jaag,” sê hy.

Boonop meen hy dat die onsekerheid wat die mynbousektor kenmerk sedert die Mynbouhandves gepubliseer is, ook beleggers afskrik.

Ontleders meen die Suid-Afrikaanse mynboubedryf het in ʼn treurmare verval. Die land se sektor is nou die tweede grootste in Afrika nadat dit deur Ghana verbygesteek is.

McNamara sê dit is nou tyd dat mynprodusente besef dat dit ʼn moeilike sektor is om in te wees.  Hy meen dat die stakings in die sektor negatief is en het reeds tot massiewe werksverliese gelei.

“Amcu se oproep is onverantwoordelik en sal duur wees.”

Hy sê dit sal nie werk nie en meer poste in gedrang bring.

Ontleders sê voorts Amcu se houding is nie goed vir arbeidsverhoudinge nie en kan net betrekkinge tussen werkers en werkgewers verder versuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

willem Botha ·

Die werkers het aan die kortste ent getrek ,hulle het vir maande nie n inkomste gehad nie en na die staking is die meeste ook afgelê weens die daaropvolgende sluiting van sekere skagte op Lohnmin.

piper ·

bring n wet in wat bepaal dat solank n staking aan die gang is mag niemand in die vakbond ook nie betaal word nie. dan sal stakings nie lank hou nie.

Frm ·

Is Amcu aan paddaman of zuma se kant. Hkm tree hulle so onverantwoordelik op?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.