Onsekerhede oor Eskom sal ekonomie kniehalter

Intussen het die jongste beurtkrag in Pretoria veral die verkeer in die hoofstad ontwrig. Pretorius- en Bosmanstraat wat gewoonlik teen halfsewe besig is, was ʼn skadu van hul ou self. Busse wat gewoonlik die strate vol is, was ook skaars. Foto: Yuri Thumbran.

Die staatsbeheerde elektrisiteit-voorsiener Eskom is besig om die ekonomie op sy knieë te dwing en dringende stappe is nodig om die stand van sake te verander. Dit is die mening van verskeie ekonome oor die jongste krisis waarin Eskom tot fase 4-beurtkrag oorgegaan het.

Eskom het Maandagmiddag fase 4-beurtkrag toegepas. Wanneer fase 4 toegepas word, onttrek Eskom 4 000 MW elektrisiteit van sy stelsel om die algehele ineenstorting van die kragnetwerk te voorkom.

Professor Raymond Parsons van die Noordwes-Universiteit se sakeskool het gesê pres. Cyril Ramaphosa se kommer oor die implikasies wat beurtkrag vir die ekonomie gaan inhou, moet gesteun word.

Parsons wys daarop dat beurtkrag ’n negatiewe effek op beleggings, werkgeleenthede, verbruikersbesteding en begrotingsprojeksies sal hê.

“Dit is almal belangrike aandrywers van die ekonomie. Die onsekerheid oor Eskom moet so gou doenlik uit die weggeruim word. Die tyd het aangebreek dat die regering en privaat sektor moet kyk na noodmaatreëls om die negatiewe impak op die ekonomie te verklein,” het hy gesê.

Parsons meen dat beleggers- en sakevertroue herstel moet word. Hy het bygevoeg dat Eskom dringend gestabiliseer moet word om te verseker dat ekonomiese groei nie verder afplat nie.

“Groei van 1,4% word vir 2019 voorspel en dit kan verder verswak, indien daar nie dringend oplossings vir beurtkrag voorgelê word nie,” het hy gesê.

Elize Kruger, ʼn senior ekonoom by NKC Research, sê dat dié rondte beurtkrag die reeds sukkelende ekonomie verder gaan skaad. Sy voeg by dat die regering se pogings om Eskom reg te ruk, nie juis oortuigend is nie.

“Wat teleurstellend is, is dat die ontbondeling van Eskom nie veel beteken nie omdat die drie afsonderlike maatskappye steeds onder Eskom Bpk., ʼn staatsbeheerde onderneming, gaan ressorteer. Dus bly die monopolie vir krag in stand,” het sy gesê.

Kruger wys daarop dat dit nou die gulde geleentheid is om Eskom te privatiseer en private ondernemings te kry om van sy operasies oor te neem. Dit sal ook die geleentheid verskaf om van oortollige personeel ontslae te raak. Sy sê na raming is Eskom se personeel tussen 40% en 60% te veel.

Sy is egter bekommerd dat beurtkrag die ekonomie gaan strem. Sy sê dit gaan veral hul effektiwiteit benadeel.

Intussen het Henk Langenhoven, die hoofekonoom van die Suid-Afrikaanse Mineraleraad, gesê dat die beurtkrag die mynbedryf op verskeie maniere tref.

Hy het op The Money Show op 702 Talk Radio gesê tot 150 000 mynwerkers werk ondergronds en daar is nie voldoende waarskuwing om hulle uit te kry nie. Hy het beaam dat dit gevaarlik is.

Boonop het hy beraam dat die bedryf tot so veel as R2 miljard weens verlore produksie per dag verloor. Dit sluit in die ontginning van metale en die smeltproses wat onderbreek word.

“Beurtkrag het ook sy negatiewe effek dat, indien dit aanhoudend toegepas word, ons smelters beskadig word weens die drastiese afname in temperatuur.”

Die jongste rondte beurtkrag het net ure begin nadat Moody’s Investor Services ʼn verklaring uitgereik het waarin die maatskappy sê dat Eskom ʼn beduidende risiko vir die land se finansies is, ondanks Ramaphosa se plan om dit in drie te verdeel.

Moody’s, wat aangedui het dat hy vir die begroting wag voor hy ʼn beslissing oor die land se kredietgradering sal gee, is die enigste kredietgraderingsmaatskappy wat die land nog op ʼn positiewe gradering het.

Fitch en Standard & Poor’s Global het die land op ʼn negatiewe gradering.

Ekonome sê egter dat Eskom nou duidelik die groot gevaar is wat die land se kredietwaardigheid bedreig.

Volgens Moody’s sal die verdeling van Eskom in drie dele deursigtigheid meebring, maar dit gaan nie sy finansiële probleem uit die weg ruim nie. Moody’s wys daarop dat groter duidelikheid nodig is om te bepaal hoe Eskom sy finansiële probleme gaan uitstryk.

Eskom het skuld van R420 miljard en Moody’s beskou dit as krediet negatief vir die land.

Die maatskappy soek antwoorde oor hoe die regering Eskom se skuldlas gaan oplos en stappe om geldelike besparings mee te bring.

Tanya Cohen, uitvoerende direkteur van Sake-eenheid Suid-Afrika, sê beurtkrag het juis ʼn negatiewe effek op kleinsake omdat hulle nie soos groot maatskappye alternatiewe reëlings kan tref nie.

Dit is juis kleinsake wat die regering wil ondersteun om die ekonomie ʼn hupstoot te gee.

Andre Botha, ’n senior valutahandelaar by TreasuryONE, sê dat kommer oor Eskom en die sterk Amerikaanse dollar die rand gepootjie het.

“Die geldeenheid het gister op die spreekwoordelike piesangskil gegly,” het Botha opgemerk.

Hy sê beurtkrag is negatief vir die rand omdat dit verskeie sektore benadeel en daardeur die ekonomiese groeikoers onder druk hou.

Hy het bygevoeg dat enige negatiewe ontwikkelinge die rand op die agtervoet sal hou.

Intussen het die jongste beurtkrag in Pretoria veral die verkeer in die hoofstad ontwrig. Pretorius- en Bosmanstraat wat gewoonlik teen halfsewe besig is, was ʼn skadu van hul ou self. Busse wat gewoonlik die strate vol is, was ook skaars.

ʼn Senior Tshwane-busdiensbestuurder wat nie genoem wou wees nie, sê dat skoliere, studente en werkers vanoggend baie laat was. Dit was juis weens verkeersligte wat nie gewerk het nie.

“Dit is spitstyd. Wat dink die mense doen hulle? Hulle moet beter beplan,” het hy gesê.

Die stad se Areyeng-busdiens is ook kwaai geraak weens die vertragings.

By verskeie geboue het mense buite saamgedrom omdat die hysbakke in ʼn hul geboue buite werking was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Domkop ·

Ons weet almal waar die probleem lê, maar niemand durf die rede by die naam noem nie, dan is jy môre in die hof en oormôre in die tronk. Daarom sal ek dit maar so noem: bi.

marco polo ·

IK, jy beter versigtig wees met daardie woorde, netnou word jy aangekla. Ek sou dit eerder as ‘whiteless’ beskryf?

Domkrag ·

Ek stem saam met jou Domkop
Ek dink nie die lot besef wat se skade hulle aanrig nie.
Voorsien ons ook krag aan Zim?

Anoniem ·

Jy weet. 30 jaar trug het ons NIE hierdie probleme gehad
Nie en ek ‘se maar net’. Kan die regering nie net iets wat aan hul gegee word suksesvol laat werk nie?? Net een iets is klaar ‘n liggie aan die einde van die tonnel, letterlik

Tanstaafl ·

Die probleem is almal sit net en aanvaar dinge soos dit gebeur en niemand ruk op teen dit nie ons moet begin saamstaan anders gaan dinge soos die gemors met eskom en al die staatskapings voortsleep

John ·

Ongelukkig sit ons met ‘n probleem wat nie in ander lande geduld word nie. Waar kan werkers voorskryf hoe ‘n maatskappy bestuur moet word en beveel dat niemand afbetaal mag word nie en dan verder eise stel oor verhogings en bonusse wat die publiek, wat moet skarrel vir krag, aan hulle moet en sal betaal. Dan is daar massas wat weier om vir krag te betaal… hierdie selfde betogers se naaste. Hoekom nie in Alexandra gaan betoog nie? Op ‘n stadium, en dit is soos in nou, gaan krag onbekostigbaar word en babas en bejaardes van die koue sterf, terwyl die big chiefs sitting bulls hul nekkies styf trek. Oppas as die IMF en die buiteland hul opruk… Dit kom. Die unies oorskat hul rol in die heelal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.