Pepkor presteer te midde van Steinhoff-saga

Argieffoto.

Die kleinhandelaar Pepkor het in die jaar tot September daarin geslaag om sy wins op te jaag en die spoke van sy beherende maatskappy Steinhoff, wat hom kniehalter, af te skud.

Pepkor, wat tot in die tweede helfte van verlede jaar as Steinhoff Africa Retail, oftewel STAR, bekend gestaan het, het sy naam na Pepkor verander namate die skandes rondom Steinhoff se gekonkel met sy boeke al duideliker geword het.

Steinhoff besit ’n 71%-belang in Pepkor.

Die Pepkor-groep, wat grootliks in klerasie en meubels handel dryf, sê sy omset het met 10,9% tot R64,2 miljard gestyg. Sy bedryfswins het met 10,7% tot R6,4 miljard verstewig. Vir die jaar het Pepkor ’n dividend van 27,8 sent per aandeel verdien.

Hooflynverdienste per aandeel was 36,7% laer op 84,5 sent per aandeel.

Volgens Pepkor was dit te wyte aan die uitreiking van 882 miljoen aandele wat in 2017 uitgereik is om Tekkie Town te bekom en die notering van Pepkor op die aandelemark.

Pepkor is ook deur die Johannesburgse aandelebeurs (JSE) met ’n boete van R5 miljoen opgelê omdat hy sy aandeelhouers mislei het. Dit hou verband met ’n waarborg vir R15 miljard wat die maatskappy vir Steinhoff gedoen het.

Die JSE het een miljoen rand vir twee jaar opgeskort.

Pepkor was ook in die sop omdat hy aan direkteure en senior bestuurslede lenings toegestaan het wat nie aan aandeelhouers bekendgemaak is nie.

Die maatskappy het egter gesê dat hy in ’n kleinhandelklimaat wat taai was, wel daarin geslaag het om goed te presteer. Dit het tevredenheid uitgespreek oor die inkomstegroei gedurende die jaar.

Pepkor het bygevoeg dat vuisvoosverbruikers vanjaar moes bontstaan weens die pap plaaslike ekonomie.

Die maatskappy se voorste winkels – Pep Stores, Ackermans, Tekkie Town en Refinery het die grootste bydra tot sy wins gelewer,

Pepkor het vanjaar 137 nuwe winkels geopen en vir die 19 agtereenvolgende jaar groei getoon wat in dubbelsyfers was.

Aan die meubel- en toebehorekant het HiFi Corp, Incredible Connection en Bradlows hul omset met 11% tot R8,6 miljard verhoog.

By sy boumateriaalafdeling het BUCO en Timber City stewig presteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Calamarie ·

Want die land is arm en dis waar mense klere koop as jy nie baie geld het nie.

charmaine ·

Dit gaan nie net oor arm nie, ek ondersteun hulle op maandlikse basis, hulle klere pas my hoef nie n aanpas hok te gaan nie, die kwaliteit het verbeter en ek kry gereeld komplimente dat ek mooi lyk in my “Image Botiek” klere en hulle goed meng en pas lekker.
En as jy jou klere oppas goed versorg hou dit net so lank soos die groot name winkels indien nie langer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.