Pick n Pay se verkopegroei op die herstelpad

Argieffoto

Die kleinhandelgroep Pick n Pay het as’t ware soos ’n middelgewigbokser wat platgeslaan is deur ’n veel groter swaargewig, van die planke opgestaan om verder te veg. Die swaargewig wat deur sy ligter opponent getakel is, is die Shoprite Checkers-groep wat sy markaandeel aan Pick n Pay afgestaan het.

Pick n Pay se jongste handelsoorsig toon dat hy in die afgelope boekjaar tot einde Maart verkopegroei van 7,4% behaal het. Ontleders sê dit dui daarop dat die groep nou aan die herstel is nadat dit vir jare gesukkel het.

Die syfers toon ook dat die kleinhandelaar markaandeel van Shoprite en Checkers wegrokkel. Nadat die syfers bekendgemaak is, het Pick  n Pay se aandeelprys met 4% gestyg terwyl Shoprite se aandeel  met 0,5% verswak het.

Shoprite het in die tussentydse periode tot einde Desember groei van 2,5% bereik. In die oorsig het Shoprite aangedui dat hy nie net in Suid-Afrika sukkel nie, maar ook in sy winkels in die res van Afrika, veral in Angola.

Pick  n Pay het sedert sy sukkeldae verskeie maatreëls in werking gestel om weer winsgewend te word. Dit sluit in die afskaling van sy getal werkers met bykans ’n tiende, die instelling van die Pick n Pay-kredietkaart, ’n nuwe benadering tot logistieke en die skep van nuwe winkels.

Nog ’n strategie wat gewerk het, is die skerp verlaging van pryse.

Ontleders meen egter dat Pick n Pay ook bevoordeel is deur die staking en probleem by Shoprite se verspreidingsentrum in Gauteng.

Pick n Pay sê sy hooflynverdienste kan tussen 13% en 23% hoër wees as ’n jaar gelede.

Intussen het dit aan die lig gekom dat Shoprite se aandeelhouers nie gelukkig is met die maatskappy se vergoeding vir direkteure nie. Inligting wat verlede week aan die lig gekom het, toon dat net 26,98% van gewone aandeelhouers ten gunste van die vergoedingspakket vir direkteure gestem het.

Die stemming dui daarop dat aandeelhouers ongelukkig was oor die vergoedingsbeleid en die vergoeding wat direkteure ontvang het.

Dit was egter advokaat Christo Wiese se Thibualt Square Financial Services-stem van 32,35% wat die resolusie gedra het.

Ofskoon Shoprite sy aandeelstruktuur onder die vergrootlas geplaas het, bly Wiese die groep se grootste aandeelhouer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johan ·

As Steve ‘n ware rassis was, was hy nou al aangekla of in die tronk. Dus hou hierdie argument geen water nie. Hy trap op tone. Ja…. Maar waarom word die beginsel van vryheid van spraak so selektief toegepas?

Juanita van der Merwe ·

Hey my maat ons is nou by pick en pay, steve sit op die trap voor die ghoemas, hy is nie hier nie!

Johan.L ·

Pick and Pay is glad nie so goedkoop nie.Die beste pryse op die oomblik is by Spar.Buitendien die meeste mense wat jou help by Pick and Pay se betaalpunte is baie onvriendelik .

PIJ ·

Pick & Pay kan gerus meer personeel by die betaalpunte laat werk

Mening ·

Kry nog altyd net goeie diens by PnP betaalpunte.
Pryse is ook vir my baie billik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.