Projeksies vir 2022, met 2021 in die truspieël

Thys van Zyl, hoof van produkontwikkeling by Everest Wealth (Foto verskaf)

Deur Thys van Zyl – produkontwikkelingshoof by Everest Wealth

Dit is weer daardie tyd van die jaar wat ons terugdink aan die gebeure van die laaste 12 maande en ons het baie om te verwerk. Ongelukkig is ons nog steeds in die greep van Covid-19 en beleef ons elke dag die impak van die pandemie. Daarmee gepaard beleef ons rekordhoë lewenskostes en inflasie.

Ná die agteruitgang van die markte in April 2019, waar verliese van tot en met 40% gely is, het ons voorsien dat dinge net erger gaan raak, veral met Covid-19 in gedagte. Ons het egter, ten spyte van die pandemie, rekordmarkte beleef, en sekere sektore soos tegnologie en kommoditeite het verdubbel.

Wêreldwyd het indekse ook opslae opgelewer en dit sluit die JSE in. In Januarie 2021 begin die JSE teen ʼn rekordhoogte van 59 408 basispunte. My projeksie was ongeveer 70 000 basispunte. Die projeksie was egter gefokus op binnelandse klein- en medium ondernemings en kommoditeit swaargewigte met die hulpbronne-top-10 teen ʼn groei van 20% plus op volume. Ek het ʼn totale volumegroei van ongeveer 20% op die plaaslike JSE geprojekteer en was sowat 95% in die kol.

As ons na internasionale markte kyk, oorweeg ons spesifiek die Nasdaq en die S&P 500. Ek het algemene groei van 25% op die Nasdaq geprojekteer terwyl ek groei van 20% op die S&P 500 geprojekteer het. Ek het egter beide die Nasdaq en S&P 500 onderskat met tussen 8% en 12%, grotendeels vanweë die dollar, wat my na my volgende punt bring. Talle ekonome het geprojekteer dat die rand teen R14,00 teenoor die dollar sou verhandel. Ek het egter standvastig geprojekteer dat die rand teen R16,00 plus teenoor die dollar sou verhandel teen laat Desember.

Die grootste probleem wat deur Suid-Afrikaners, en so ook die internasionale gemeenskap, in die gesig gestaar word, is inflasie. Daar is verwag dat die rentekoers hersien en verhoog sou word met tussen 0,75% en 1% en dat dit tot ʼn mate die probleem sou verbeter. Daar was egter slegs ʼn verhoging van 0,25%.

Die werklikheid is dat terwyl daar vir ons gesê word dat inflasie tussen 7% en 8% is, word die stygende koste van, onder andere, brandstof, elektrisiteit en privaat mediese sorg nie in ag geneem nie, en dan praat ons nie eens van ʼn kwaliteit whiskey of braaivleis nie. Sou ons al hierdie stygende kostes in ag neem, kyk ons na ʼn gesamentlike inflasiemandjie van ongeveer 15% plus. Dit het tot gevolg dat Suid-Afrikaners verarm. Individue wat die laaste jaar in verkeerde portefeuljes of sektore belê het, het niks behalwe hoë lewenskostes en slegte opbrengste beleef nie.

Ek voorspel dat Suid-Afrika in 2022 steeds die gevolge van die Covid-19-pandemie sal voel. Sektore soos die gasvryheidsbedryf, toerisme en die finansiële sektor sal steeds sterk beïnvloed word deur die pandemie en ek voorspel dat die werkloosheidsyfer tot oor die 40% sal styg indien daar nie ernstige ingrepe gemaak word nie.

Die rand sal in alle waarskynlikheid versterk gedurende die eerste twee kwartale, maar dan weer verswak na R16 plus teenoor die dollar in die laaste twee kwartale. Die plaaslike JSE behoort die jaar tussen 68 000 en 73 000 basispunte te verhandel, terwyl die S&P 500 en Nasdaq groei van tussen 8% en 15% behoort te lewer. Terwyl ons nie altyd al die antwoorde het nie, kan ons jou bystaan om die regte keuses te maak.

  • Hierdie is slegs projeksies en nie advies nie en bepalings en voorwaardes geld.
  • Everest Wealth is ʼn goedgekeurde finansiëlediensteverskaffer
  • Bepalings en voorwaardes geld

Kontak Thys per e-pos by [email protected]
Of besoek die webwerf https://everestwealth.co.za/

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Sakenuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.