
Die sleepwaonderneming, Trailored, het op sy beurt R2,275 miljoen van beleggers bekom. (Foto: verskaf)
Twee ondernemings wat onlangs op die aandeleskarefinansieringsplatform GoGetta genoteer is, het hul finansieringsteikens sommer in ʼn japtrap bereik. Beleggers wat die potensiaal in dié twee besighede raakgesien het, het binne ses weke meer as R6 miljoen daarin belê.
Shuthuka Flagship Farm, ʼn makadamiaboerdery wat in KwaZulu-Natal gesetel is, het R4 miljoen vir die uitbreiding van dié onderneming ingesamel. Trailored, ʼn Gautengse vervaardiger van pasgemaakte sleepwaens, het op sy beurt R2,275 miljoen van beleggers bekom.
Volgens Warwick Blamey, uitvoerende hoof van Shuthuka, sal die finansiering gebruik word om dié neutonderneming uit te brei en uitvoere te verhoog. “GoGetta bied soveel meer as ʼn platform om sakeondernemings bekend te stel en te bemark, en beleggers te lok. Die span staan ʼn mens met raad en daad by, en vind beleggers wat soos ʼn ontbrekende legkaartstukkie pas.”
Hlanganiso Maluleke, uitvoerende hoof van Trailored, stem saam en sê die GoGetta-span se jare lange ondervinding met beginnerondernemings voeg soveel waarde toe. “Nie net ontsluit dit geleenthede vir ʼn kapitaalinspuiting nie, maar die raad en strategiese rigtingwysing is van onskatbare waarde. Dié sleepwaonderneming, wat deur my pa in sy motorhuis begin is, se toekomswiele kan danksy die finansiering nou die pad na aansienlike groei- en uitbreidingsgeleenthede aandurf.”
Die waagkapitaalgroep WDB Growth Fund, ʼn filiaal van WDB Investment Holdings, het ʼn aansienlike deel van die finansiering vir Shuthuka verskaf en ook in Trailored belê. Die balans is deur individuele beleggers gefinansier.
Volgens Oupa Monamodi, ʼn lid van WDB Growth Fund se beleggingskomitee, is die besluit om in hierdie ondernemings te belê, vergemaklik deur die uitgebreide omsigtigheidsondersoek deur GoGetta. “Die geverifieerde en geloofwaardige inligting oor elkeen van die besighede vergemaklik die beleggingsbesluitnemingsproses.”
GoGetta is ʼn aandeleskarefinansieringsplatform wat uitsluitlik op ondernemings in Afrika fokus en entrepreneurskap op die vasteland broodnodige stukrag gee. Ondernemings ondergaan nie net ʼn streng keuringsproses om op dié platform gelys te word nie, maar sake-eienaars het toegang tot mentorskap en beleggers wat se hande jeuk om aandele in verdienstige sake te bekom. Van die 256 ondernemings wat sedert Januarie 2022 vir notering oorweeg is, is net ʼn handjievol uiteindelik vir notering op die platform goedgekeur.
GoGetta word aangevuur deur Grovest, ʼn gerespekteerde administrateur in die alternatiewe kleinkapitalisasiebeleggingsruimte. Grovest spog met meer as 10 jaar se ervaring in entrepreneurskapfinansiering, en meer as R3,5 miljard se bates onder sy vlerk
Plaaslike en internasionale kleinhandel-, engel- en waagkapitaalbeleggers kan goedgekeurde geleenthede op GoGetta kies en vinnig en veilig bedrae van R1 000 of meer belê om aandele in verskeie Afrika-ondernemings te besit.
GoGetta soek op sy beurt aantreklike ondernemings wat op die platform wil noteer en beleggings van tussen R1,5 miljoen en R10 miljoen in ruil vir belange in hul ondernemings wil insamel. Slegs ondernemings in Afrika kan op die platform noteer, maar beleggers kan op enige plek geleë wees.
Volgens Sthembiso Zwane, medestigter van GoGetta, toon aandeleskarefinansiering reusegroei wêreldwyd. “Dit is ʼn innoverende manier vir entrepreneurs om kapitaal te bekom. Pleks daarvan om aan die deur van banke en waagkapitaliste te klop, dikwels sonder welslae, bied GoGetta ʼn unieke bemarkingsinstrument om beleggers te lok.”
“Drie ander opwindende ondernemings wat tans na beleggers op soek is, is UMOYA!, Investmint en Naked Cuber. UMOYA! is ʼn telekommunikasieonderneming wat op die verskaffing van bekostigbare data en hoëspoed-internetverbinding fokus. Investmint, ʼn innoverende leningsplatform vir klein en middelslagondernemings (KMO’s), is in 2019 bekendgestel en het reeds R30 miljoen se lenings toegestaan. Naked Cuber skep op sy beurt pasgemaakte kunsstukke wat geheel en al uit Rubik’s Cubes gemaak is.
“Die verwagte opbrengskoers (“internal rate of return” of IRR) op UMOYA! is 21,3%. Beleggers kan ʼn geteikende IRR van 27,33% op Investmint verwag en Naked Cuber beoog om ʼn IRR van 23,4% oor ʼn vyfjaartydperk vir sy beleggers te behaal,” het Zwane gesê.