Ramaphosa sal waarskynlik ‘louwarm’ staatsrede gee

Pres. Cyril Ramaphosa kyk vir oulaas oor sy staatsredetoespraak by sy amptelike woning in Kaapstad. Hy sal vanaand die staatsrede in die parlement lewer. Foto: Elmond Jiyane/GCIS

President Cyril Ramaphosa se staatsrede Donderdag in die parlement sal met arendsoë deur politieke kenners, ekonome, markontleders en Jan Alleman dopgehou word.

Dit is veral Ramaphosa se ekonomiese voorlegging wat na verwagting wyd aandag sal kry.

In sy weeklike ekonomiese kommentaar sê Nedbank se ekonomiese eenheid dat die oë veral op Ramaphosa sal wees oor stappe wat gedoen gaan word in die stryd teen korrupsie, om beleidsekerheid te verseker en ekonomiese groei ’n hupstoot te gee.

“Die toespraak sal ten nouste deur belanghebbendes ontleed word,” het die eenheid bygevoeg.

In sy gids vir die ekonomie wat in Januarie uitgereik is, wys die ekonomiese eenheid daarop dat verskeie uitdagings die regering in die gesig staar. Dit voeg by dat sedert Ramaphosa die leisels van die regering oorgeneem het, daar ’n volgehoue fokus was om die publiek se vertroue terug te wen en om sake- en beleggersvertroue ’n hupstoot te gee.

Volgens die gids wil Ramaphosa verseker dat vaste beleggings in die land groei en het hy plaaslike en buitelandse beleggers hieroor genader.

Hiervoor het Ramaphosa hom ten doel gestel om R1,2 triljoen se beleggings die land in te lok. Die ekonomiese eenheid se detail oor die projek bly nog vaag en groter duidelikheid is nodig.

Daar is egter optimisme dat vaste beleggings vanjaar effens sal verbeter.

Dog sê ekonome dat van die uitdagings wat hy moet takel, die volgende moet wees: die trae ekonomiese koers, hoë werkloosheidsyfer en beleidsekerheid.

Dawie Roodt, die hoofekonoom by die Efficient Group, het vroeër gesê dat die regering se beleid hoofsaaklik deur vakunies en populisme ontspoor word.

Hy sê die tyd het aangebreek dat Ramaphosa daadwerklike aksie oor Eskom moet aankondig.

“Hierdie aksie, wat die ontbondeling van Eskom sal insluit, sal nie oornag resultate wys nie. Dit sal ’n lang prosedure wees wat geleidelik vrugte kan dra,” het hy bygevoeg.

Roodt beaam wat ook by die huidige Nersa-verhore gelug is: dat bestendige kragvoorsiening nodig is om die ekonomie te ondersteun.

Die Nedbank-eenheid wys daarop dat Ramaphosa die ekonomie met erns bejeën en dat die werkskepping- en beleggingsberade wat verlede jaar in Sandton gehou is, dit beaam.

Die eenheid verwag dat Ramaphosa buitelandse en plaaslike beleggers betrokke sal kry om beleggings te bespoedig.

“Daar is egter probleme wat nie die beleid goedgunstig is nie. Dit sluit in probleme met elektrisiteitsvoorsiening, die hoë koste van plaaslike pryse, die stadige pas om beleidsekerheid te verseker en noodsaaklike strukturele hervormings,” het die eenheid bygevoeg.

Hy wys daarop dat die kwessie oor grondhervorming en oor kompensasie ook opgelos moet word.

Boonop sê die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid (Sacci), dat daar ’n verbetering in sakevertroue tussen Desember 2017 en verlede Desember was.

Dit wys daarop dat dit ’n groot taak sal wees om beleggers- en sakevertroue te herstel omdat dit nog ruimte vir verbetering het.

“Dit raak nou duidelik dat dit langer gaan duur om die ekonomie te herstel as wat aanvanklik gemeen is. Dit is duidelik dat die strukturele en die verlengde erosie van administratiewe kapasiteit en gebrek aan kundigheid die ekonomie gestrem het,” het Sacci gesê.

Ramaphosa het verlede week gesê hy glo die ekonomie kan teen 5% per jaar groei indien beleidsonsekerheid verwyder en strukturele raamwerke hersien word.

Verskeie ekonome, onder andere Roodt en Mike Schüssler van Economists.co.za, glo dat Jacob Zuma se jare as president die land duur te staan gekom het. Dit is verder beaam in die twietgeveg tussen Zuma en Tito Mboweni, die minister van finansies, wat die vorige president se ampstermyn as vermorste jare beskryf het.

Intussen het die politieke ontleder by NKC Research, Gary van Staden, gesê dat Ramaphosa waarskynlik ’n louwarm toespraak sal hou en dat die werklike aksie ná die verkiesing sal kom.

“Dan gaan ons radikale veranderinge sien,” het hy gesê.

Hy verwag fundamentele beleidsveranderinge en dat Ramaphosa die vakbonde gaan vasvat en Eskom gedeeltelik of algeheel sal privatiseer.

Hy wys daarop dat Ramaphosa se uitlatinge by die Wêreld-Ekonomiese Forum (WEF) by Davos in Switserland en druk uit alle oorde oor Eskom, hom wel tot aksie sal dwing. Maar dat die stembriewe in die verkiesing eers getel moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sarel ·

Die geskiedenis het bewys ons presidente vee hulle aan die ekonome af, niks sal vanjaar anders wees nie.

Spike ·

Die sogenaamde pres gaan net die comrades en kaders paai. Hy id bang vir hulle.

Cato ·

Natuurlik sal dit louwarm wees. Dit is altyd louwarm en niksseggend. Wat wou, alle oe gerig op Rama

Peter Holmes ·

Die ekonomie sal nooit groei terwyl die militante vakbonde, lui werkers die land gyselaar hou nie. Dit sal net n baie naiwe buitelander wees wat hier sal bele. COSATU staak Vrydag oor werk verliese. En oor n gebrek aan werkskepping. Hulke is n klomp morone. Hulle het die afgelope jare die werkloosheid veroorsaak . Met stakings, brandstigting, intimidasie, saakbeskadiging. Mense kan maar in hulle dagboeke aanteken. Geen groei voordat COSATU, SASFU en NACTU se mag gebreek is nie !!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.