RCL Foods se tussentydse wins kry ʼn knou

rcl-foods-logoDie Remgro-beheerde RCL Foods se tussentydse wins het ʼn knou gekry in die periode tot einde Desember. Die maatskappy besit, onder meer, Rainbow Chicken en Transvaal Suiker Beperk (TSB) wat Selati-suiker vervaardig.

RCL sê dat sy wesensverdienste met 26,3% tot R475,1 miljoen gedaal het.

Die groep wys daarop dat drie faktore sy wins gepootjie het, naamlik die vloed goedkoop ingevoerde hoender uit Brasilië en Amerika, die finansiële druk waaronder Suid-Afrikaanse verbruikers is en dat sy marges gepootjie is deur stygende kommoditeitspryse en vervoerkostes.

Onder die handelsname wat binne die RCL-stal is, sluit in Nola, Sunbake en Selati.

Volgens RCL het goedkoop ingevoerde suiker ook sy winsmarges gedemp.

Die maatskappy wys daarop dat goedkoop hoenderinvoere reeds tot bo 25% gestyg het. Die maatskappy sê die tyd het aangebreek dat die regering ingryp om die goedkoop invoere stop te sit wat die plaaslike hoenderbedryf bedreig.

Dit wys daarop dat die regering ʼn soortgelyke versoek van die sementbedryf gekry het om dumping hok te slaan. Die sementbedryf wil ʼn beperking op invoere hê.

RCL wys daarop dat dumping tot groot frustrasie lei omdat dit die plaaslike bedryf lamlê wat tot fabrieksluitings en werksverliese lei.

Die Suid-Afrikaanse pluimveevereniging beraam dat die hoeveelheid ingevoerde hoender uit Brasilië steeds styg. Die invoere is 57,3%, of 21 637 ton. Brasilië is ʼn Brics-land.

Miles Dally, die groep se finansiële hoof, het die volgehoue invoere van suiker en hoenderprodukte betreur. Hy het beaam dat ʼn regulerende raamwerk nodig is om die invoere te beperk.

RCL, deur sy TSB-belange, produseer 700 000 ton suiker per jaar. Dally het bygevoeg dat die hoender- en suikerbedryf die regering gereeld raadpleeg oor die stand van sake.

“Ons is uiters bekommerd hieroor,” het hy gesê.

edgars-edcon

Foto: Edcon

Edcon gaan talle winkels sluit

Intussen het die sukkelende klerekleinhandelaar Edcon, wat, onder meer, as Edgars, Jet en CNA sake doen, aangekondig dat hy ʼn derde van sy winkels gaan sluit. Edcon het 40 000 mense wat vir hom werk.

Sy bestuurshoof Grant Pattison het op die The Money Show gesê dat die groep hom nou daarop kan toespits om Edcon reg te ruk en sy oorlewingsplan in werking te stel. Die sluiting van die winkels sal oor ʼn twee jaar periode geskied en sy winkels sal ook nie weer die klem lê op ingevoerde handelsname nie.

Dié besluit kom nadat Edcon Vrydag ʼn ooreenkoms met sy bankiers, verhuurders en die Openbare Beleggingsmaatskappy bereik het om sy skuld van R2,7 miljard te herstruktureer.

Daarvolgens sal sy skuldeisers aandele in die maatskappy kry. Dit is Edcon se twee herfinansieringsooreenkoms in twee jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Deloris ·

Ek weet hoekom…. rekeninge was mos geopen vir al wat leef, en en en …dan koop hulle vir n vale, as dit by betaal kom, trek hulle skouers op…..

Wielspore ·

Tot en met so ‘n paar jaar gelede kon ons nog klere bekostig by Edgards en Woolworths, nou is dit buite ons bereik as gevolg van stygende pryse. My skoonseun is ‘n bestuurder by ‘n bekende klere winkel en as jy sien wat die profeit elke maand is en hoe min van daardie geld in salaris aan die werkers betaal word, dit is ‘n skande. Iewers is daar onsigbare werknemers wat die meerderheid geld vat en of die direkteure wat dit in hulle sake druk.
Heelwat kleiner privaat besighede se winste is van so ‘n aard dat die eienaar ‘n goeie leefstyl kan handhaaf en voldoende opvoeding aan sy kinders kan handhaaf.
So, ons probeer so ver moontlik die privaat besighede ondersteun.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.