Regte aanstelling kan kredietafgradering moontlik afweer

Maria Ramos. Foto: Home.barclays

Die graderingsagentskap Moody’s Investors Services het die regering gewaarsku oor die stygende staatsskuld om sukkelende staatsbeheerde ondernemings uit hul finansiële verknorsing te help.

Moody’s sê die hulp kan druk op die land se beleggingstatus plaas. Die waarskuwing het gekom voordat dit bekend geword het dat die Nasionale Tesourie weer moes ingryp om die kragvoorsiener Eskom met R5 miljard te help.

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, het dit as ʼn voorskot beskryf wat van die regering se reddingspakket van R69 miljard oor drie jaar aan Eskom geleen gaan word.

Gordhan het op die 702 Breakfast Show gesê dat planne nou gereed is om Eskom reg te ruk en te stabiliseer. Hy sê die werk sal van kragsentralevlak na die boonste vlak geskied.

Hy het ook te kenne gegee dat daar daadwerklike planne is om kragvoorsiening van Eskom se jongste twee kragstasies – Medupi en Kusile – oor die medium termyn te normaliseer. Gordhan het erken dat daar nog probleme is, maar dat dit binnekort aandag gaan geniet.

Eskom het ʼn kontantprobleem opgetel nadat die Chinese Ontwikkelingsbank se beplande lening nie gematerialiseer het nie. Tesourie moes inderhaas met Absa onderhandel om die R5 miljard te kry.

Gordhan het afsonderlik gesê dat Eskom reeds R17,1 miljard rand van die R23 miljard uit die R69 miljard wat oor drie jaar vir ondersteuning verskaf sal word soos in die begroting aangekondig is, ontvang het.

Die geld is reeds op 2 April goedgekeur. Eskom se skuldlas beloop R4 290 miljard. Dit word toegeskryf aan wanbestuur, korrupsie en staatskaping.

Intussen sê Moody’s die opwaartse trajek van staatsskuld en swak ekonomiese groei kommerwekkend is.

Hy voeg by dat die volgehoue beurtkrag in Februarie en Maart grootliks kan bydra tot trae ekonomiese groei in die eerste kwartaal.

Daar was egter ʼn ligstraaltjie. Moody’s sê dat dit ʼn opswaai in vertroue verwag ná die verkiesing. Hy voeg by dat dit vol vertroue is dat president Cyril Ramaphosa met sy hervormingsplanne sal voortgaan

Intussen het dit deurgeskemer dat die vorige Absa-bestuurshoof en grootbaas van die Nasionale Tesourie, Maria Ramos, oorweeg word om Eskom uit die moeras te lig.

Ramos sê kennis met kapitaalmarkte en rolspelers by ontwikkelingsagentskappe soos die Internasionale Monetêre Fonds en die Wêreldbank kan haar handig te staan kom.

Ontleders meen met so ʼn aanstelling sal die regering waarskynlik ook tyd kan wen om ʼn Moody’s-afgradering vry te spring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Justice ·

Stel Ramos aan as uitvoerende hoof met Ted Blom as haar assistent – betaal hom egter baie meer vir sy insig en waarde toevoeging.

Willemien ·

Stel Chris Yelland aan. Hy sal doen wat gedorn moet word.

Henk ·

Ramos aanstel as hoof by Eskom ? Gaan kyk hoe goed het sy Transnet in die grond in bestuur

Buite Stander ·

Onder haar leiding het Absa agteruitgeboer tot ‘n bank wat markaandeel verloor het en glad nie gereed om met nuwe tegnologie banke mee te ding nie. Baie mense daar se loopbane is deur Ramos gekelder.

MARIE VAN GRAAN WESTONARIA. ·

Gaan ñ wonderwerk wees om Eskom reg te ruk.. Feite is dat al die goeie gardes wat baie bekwame tegnici was hul poste verloor het. In hul plek is onbekwame persone aangestel in Bestuursposte. Boonop is daar vir jare geen onderhoud gedoen nie. Eskom leeg getap deur Molefe en ander wat geld net verdwyn het. Als in S.A. van uitmekaar. SARS.Pokantoor. Stadsrade. Munisipaliteite. Skole.
Hospitale. PAAIE. TE VEEL OM TE NOEM. DAAROM emigreer soveel kundiges.

Marinda ·

Hoe beplan Maria om Exkom se groot skuld las af betaal te kry? O wee. Kom ons kyk maar hoe waai die wind.

Andrew ·

Maklik Marinda – om geld te spaar gaan sy net die ligte afsit….

ChrisE ·

Dit gaan my beperkte intellektuele vermoë te bowe. Hoe op dees aarde kan Ramos ooit in enige bestuurspos van enige korporatiewe maatskappy aangestel word. Ek praat nie eers van Gill Marcus nie. Ramos het waar sy ook al was ‘n spoor van mislukking nagelaat. Kan iemand my inlig waar is Spoornet/Transnet of enige net onder haar “bestuur” nou. Sy en haar vriend het groot aangejaag. Hulle met bekend staan as Skepnet.

marja ·

Sy het as administratiewe klerk begin in die 1970’s. In 2019 is haar kennis van Bankwese niks meer as hoe om dokumente rond te dra nie. Sy was egter in ten minste 3 van haar 10 jaar as Absa CEO gelys in die Forbes top 10 swakste CEO’s ter wêreld. As sy gesien word as ‘n goeie kandidaat moet die res van die kandidaatslys maar sleg lyk!

Wildeboer ·

By Nasionale Tesourie was sy ‘n hoogsbetaalde klerk met ‘n gladde bek en die minister as boyfriend.

Terius ·

Eskom skuld 429 miljard en nie 4290 miljard nie.n Miljard is 1000 000 000 .volgens die
artikel skuld Eskom R 4 290 000 000 000. Die werklike skuld aan die einde van Maart
was R 470 000 000 000.

Roger ·

Ramos is die rede dat Transnet se oues van dae nou so moet sukkel. Bloed aan haar hande!

Kabous ·

Niemand sal ‘n rammelkas wat uitmekaar val wil koop nie. Boonop het Eskom 30 000 oortollige personeel wat oorbetaal word.

ChrisE ·

Hulle moet haar en haar maatjie Trevor Automatic nader trek en hoor waar is die geld heen wat in hul rekenings ingespring het.

Deon ·

Ons Suid Afrikaners glo graag dat een persoon se doen en late die skip sal omdraai. Eskom het gesink en addisionele geld sal die entiteit nie kan omdraai nie. Nie eers hoër tariewe nie. Die sektor moet geprivatiseer word met Eskom as ‘n deelnemer. Dit is die enigste oplossing.

Janee ·

Janee Maria Ramos se groot konneksie is Trevor gladdemond; nie een vd twee weet veel v finansiele bestuur nie; dankie tog vir konsultante, juniors en google

Huh ·

Eskom en SAL is die twee albatrosse om die nek in SA waarvan Suid Afrikaners nooit maar nooit ontslae van gaan raak nie. Want die ANC regering wil nie omdat hulle en hulle kamerade, familie en maatjies almal skep daardeur vd belastingkas. Regruk sal nooit gebeur nie want regruk beteken korrupsie stopsit, wat die geldkraan toedraai. So, mens moet dit aanvaar of jou tassies pak

ES ·

Net een persoon alleenlik kan nie ‘n verskil maak nie. Toe Ramos by Absa in bewind was het sy in elke geval net na die pype gedans van die direksie. Dit vat nie net een persoon om ‘n ommekeer te maak nie, net soos wat dit nie net een persoon vat om ‘n instelling af te breek nie…

Treindrywer ·

Ramos word elke dag vervloek deur Transnet se ou pensioenlede. Sy die skuld van die grootste klas-aksie hofsaak tans in S.A. Kom ons kyk wat gebeur met die kredietgradering wanneer hierdie hofsaak afgehandel word. (100 miljard )En Transnet “stall” natuurlik hierdie hofsaak ten koste van honderde pensioentrekkers wat elke maand in uiterste armoede doodgaan. Gaan my verstand te bowe hoe Eskom so hulp pakkette kan kry, maar Transnet het geen geldtjie/simpatie met hul oues. Selfs die tradisionele April bonus van Transnet aan hul oues het hierdie maand NIE gebeur. Sonder enige verduideliking. Sies.

Henk ·

Treindrywer , onthou net dat niks hiervan kon gedoen word sonder die medewete en samewerking van die hoof vakbonde destyds nie. Almal van hulle het verteenwoordigers gehad op die trustees van die fondse en hulle moes na die belange van hul lede en oud lede omgesien het. Jammer om te se , hulle het nie

Anoniem ·

Dis te laat… die kennis is landuit. Mens kan ‘n dooie bees se bene rangskik soos jy wil. Die ding bly dood.

SjN ·

Dit is maklik om bates te verkoop en dan baie goed op papier te vertoon, sy en outomatic moet maar liewers uittree.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.