Reserwebank te konserwatief, meen kenner  

sa-reserwebank

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank. Foto: Resbank.co.za

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank se besluit vandeesweek om die repokoers onveranderd te laat op 6,5%, is teleurstellend, sê prof. Raymond Parsons van die Noordwes-Universiteit se sakeskool.

Die bank se monetêrebeleidskomitee het Donderdag oor die repokoers besluit, met twee lede wat ten gunste was dat die repokoers met 25-basis punte laer aangepas word, terwyl die ander drie lede teen enige verandering gestem het.

Die bank se besluit om die repokoers – die koers waarteen die bank geld aan handelsbanke leen – onveranderd te laat kom te midde van voorspellings dat ekonomiese aktiwiteit vir die res van die jaar swak sal bly. Die komiteelede het aangevoer dat die bank nou eerder moes fokus om die verwagtinge vir inflasie te anker sodat dit na aan die bank se inflasieteiken sou bly.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het Donderdag gesê dat die bank eers teen die derde kwartaal van 2020 weer ʼn besluit sal neem om die koerse met 25-basis punte te verlaag.

“Dit is teleurstellend dat die komitee se meerderheidsiening nie die voordele kon sien om die repokoers laer aan te pas nie, veral omdat daar nou juis ʼn geleentheid vir só ʼn aanpassing was,” sê Parsons.

“Die feit dat hierdie nie ʼn eenparige besluit was nie, wys dat daar wel ʼn meer buigsame benadering teenoor die repokoers kan wees,” sê hy.

Parsons verduidelik dat wesensinflasie tydens Oktober tot 3,7% gesak het. Die bank se teiken is om die syfer tussen 3% en 6% te hou. “Met die opkoms van ʼn veel beter inflasievooruitsig is die meerderheidsopvatting van die komitee daarom onnodig versigtig, deur nie leenkostes in die ekonomie te verlig nie.”

Tog sê Parsons die gevaar bestaan ​​ook dat die geloofwaardigheid van die Reserwebank se teeninflasiemandaat in gedrang kan kom as dit gedurig beskou word dat dit nie positief reageer op tasbare verbeterings in die inflasievooruitsigte nie.

Rakende die bank se voorspelling dat toekomstige ekonomiese groeirisiko’s negatief sal wees, meen Parsons onlangse data toon dat inflasie gedaal het, ondanks vorige skokke wat die rand geknou het. Dit wys hoe swak die meganisme vir die oordrag van koste in veranderde ekonomiese omstandighede geword het, sê hy.

“Monetêre beleid kan en behoort nou ʼn nuttige, al is dit beskeie, rol te speel om sake- en verbruikersvertroue te versterk in ʼn kritieke stadium in die sakesiklus van Suid-Afrika. Dit bly nietemin waar dat die grootste las om die groei in die ekonomie te bevorder nie by monetêre beleid lê nie, maar eerder om die dringende ekonomiese hervormings waartoe die land verbind is te bespoedig en uit te voer,” sê Parsons.

Gerhard van Onselen, ʼn senior analis by Sakeliga, stem egter nie saam met Parsons se siening nie. “Die Reserwebank doen nie ʼn slegte werk wanneer dit by monetêre beleid kom nie. Die bank is tans onder baie druk, selfs politieke druk, om die rentekoerse te verlaag, maar dit is egter ʼn besluit wat baie versigtig geneem moet word.”

Hy verduidelik dat, sou die komitee te roekeloos met die repokoers omgegaan het, dit weer ʼn verdere skuldsiklus tot gevolg sou hê. “Kganyago werk baie hard om net die regte balans vir hierdie koerse te vind,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eddie ·

Dis verblydend dat die Repo koers onveranderd gelaat is ! Veral buitelandse beleggers is daarmee beindruk ! Te lae rentekoers laat Suid Afrikaners onnodig skuld maak en ontmoedig “SPAAR ” en benadeel pensioenarisse wat van rente moet leef !

Loeis ·

Waarom sê Parsons dat die land verbind is tot ekonomiese hervormings? Want dit is eenvoudig nie waar nie. Die regering is daartoe verbind om die ekonomie te vernietig. Hulle het dit darem al baie bewys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.