Restaurantwese in Suid-Afrika: Hoe dinge nou lyk

Deur Liza-Mari Oberholzer

(Foto: pixabay)

Met die beperkende regulasies wat die nasionale staat van inperking op verskeie sektore tot gevolg gehad het, is daar verskeie industrieë wat finansieel ly. Die restaurantbedryf is veral drasties geraak deur beperkings op die verkoop van alkohol, verkorte handelsure en ’n beperking op die aantal mense wat op enige gegewe oomblik op die perseel mag wees. Daarbenewens is nuwe regulasies wat in Januarie aangekondig is, vir dié industrie ’n verdere bron van kommer. Die vraag is natuurlik hoe dinge nou vir restauranteienaars lyk en wat hulle kan doen om die skade sover moontlik te beperk.

Die restaurantbedryf dra per jaar sowat R6 miljard tot die nasionale ekonomie by en het volgens skatting tans enigiets tussen 500 000 en 800 000 mense in diens. In die afgelope jaar is die probleem egter dat dié industrie die een is wat die meeste geraak is.

Die Restaurantvereniging van Suid-Afrika het opgemerk dat, volgens skattings, sowat ’n derde van restaurante sedert die begin van die inperkingsmaatreëls hul deure moes sluit en dat sowat 70% van restaurante genoodsaak was om werknemers af te lê. Vandat restaurante kon heropen, is die verkoop van drank slegs sporadies toegelaat. Volgens Stats SA het drankverkope voor die eerste tydperk van inperking sowat 7% van die omset in hierdie bedryf opgemaak. Die verlies aan drankverkope het dus ’n massiewe uitwerking op ’n reeds sukkelende industrie.

In Januarie 2021 het die departement van arbeid boonop aangekondig dat hulle die bepalings van die restaurantbedryf se bedingingsraad vir alle werknemers in die industrie van toepassing gaan maak en nie net vir huidige lede van dié raad nie. Alle restaurante en kitskosverkopers het ná die aankondiging dan ’n maand om by die raad te registreer. Volgens die nuwe bepalings gaan alle restaurante en kitskosverkopers die volgende moet nakom:

  • Alle werknemers moet teen 1 Mei 2021 minstens 7% meer as die nasionale minimum loon betaal word;
  • In die toekoms moet werkgewers salarisse verhoog met inflasie plus 1,5% en mag nie die salaris van enige werker afskaal indien hulle voorheen meer as die voorgeskrewe minimum betaal is nie;
  • Lidmaatskap moet aan die bedingingsraad betaal word vir elke werknemer; dit beloop R5 per werknemer en R5 per werkgewer;
  • ’n Geskilbeslegtingstarief (dispute resolution fee) van R3 moet ook maandeliks deur beide die werknemer en werkgewer betaal word;
  • Elke instansie moet maandeliks ’n heffing van R25 betaal;
  • Die maatskappy moet ’n begrafnisvoordeel van R12,50 vir elke werknemer betaal en die werknemer moet ook ’n verdere R12,50 bydra;
  • Beide die werknemer en die werkgewer moet 5% van die werknemer se salaris tot ’n voorsorgfonds bydra.
  • Werkgewers moet R17,50 per week aan die werknemer betaal om hulle in staat te stel om hul uniform te was; en
  • ’n Desemberbonus moet aan elke werknemer wat vir ’n jaar in diens is, betaal word. Die bedrag moet gelykstaande aan een week se loon wees. Indien ’n werknemer vir twee jaar of langer in diens is, moet hy/sy twee weke se lone as bonus ontvang.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash/Alex Holyoake)

Na beraming gaan dié nuwe regulasies die uitgawes van restauranteienaars met sowat 16% verhoog. Die restaurantbedryf is egter nie so geneë om hierdie nuwe bepalings te aanvaar nie en is in die proses om ’n regsaksie van stapel te stuur.

Is jy ’n restauranteienaar? Hoe om jou besigheid te beskerm:

  1. Leer uit die pandemie

Die restaurante wat die pandemie oorleef het, het by die veranderende omstandighede van die pandemie aangepas. In die toekoms kan buigsaamheid ook die verskil tussen oorlewing en sluiting beteken. Diversifiseer dus jou restaurant se inkomstestrome.

  1. Bied verskeie betaalopsies

Vir klein restaurante is kontant dalk koning, maar om in veranderende omstandighede te oorleef, is dit nodig om verskeie betaalopsies te aanvaar. Kredietkaarte is een van die wyses waarop baie individue steeds kan bekostig om uit te eet. Wees seker dat jy hul betalings kan ontvang en dat jou besigheid nie ’n transaksie misloop nie.

  1. Oorweeg wegneemetes

Baie restaurante moes vinnig ’n verandering in hul normale werkswyse maak. Om seker te maak dat jou restaurant enige ekonomiese krisis oorleef, is dit nodig om vinnig by veranderende omstandighede aan te pas. Wegneemetes en bevrore disse is ’n goeie byvoeging tot dit wat jou restaurant reeds lewer, aangesien jou besigheid reeds die kennis en die infrastruktuur vir hierdie soort dienste het.

  1. Bied geskenkbewyse aan

Geskenkbewyse is ’n goeie manier om jou restaurant se verkope te verhoog en ’n toekomstige kliënt te verseker. Dit is ook moontlik om kortingskoepons op verskeie verskillende webtuistes en apps soos Hyperli en The Entertainer aan te bied om sodoende meer kliënte van jou restaurant bewus te maak.

  • Die artikel is verskaf deur Stigter,’n Afrikaanse e-tydskrif wat jóú help om ’n beter leier, entrepreneur en bestuurder te wees. Elke uitgawe is tussen 28-34 bladsye en artikels handel oor finansies, leierskap, bemarking en vertel die stories en lesse van suksesvolle Suid-Afrikaanse entrepreneurs. Teken hier in en ontvang maandeliks jóú Stigter-tydskrif

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.