SA geldeenheid benodig ’n behoorlike buffer

geld-munte-kleingeld

Foto: Negative Space/Pexels.com

Ontleders waarsku dat daar nog baie onsekerheid op Suid-Afrikaners wag weens die gewipplankryery van die rand. Daar is veral kommer dat die geldeenheid gaan sukkel weens ’n gebrek aan ’n buffer wat hom kan onderskraag.

Ontleders sê juis die gebrek ’n gesonde buffer laat verbruikers noustrop trek.

Die hoofekonoom by die Efficient Group, Dawie Roodt, sê daar is twee kwessies wat by die rand spook. Dit is die land se mediumtermynvooruitsigte en kommer oor beleid.

“Dit lyk net nie of die regering die regte stappe kan of gaan neem om die ekonomie te stabiliseer nie,” het hy gesê.

Gister het die rand effe teen die Amerikaanse dollar verstewig. Valutahandelaars se dat China gister tot valutamarkte toegetree het om die yuan – sy geldeenheid – te ondersteun. Dit het op sy beurt die Rand ’n hupstoot gegee.

Suid-Afrika en China se valuta is die twee in die Brics-lande wat die meeste blootgestel word aan onstuimigheid op markte. Dit is veral Amerika se handelsoorlog- en politieke praatjies wat op markte spook.

Die rand was bestendig vanoggend. Dit het teen R13,63 teen die dollar verhandel. Dit het gister ʼn aks hoër gesluit.

Valutahandelaars sê die dollar neem ’n blaaskans in afwagting op die uitreiking van die Amerikaanse Federale Reserwe se jongste notules wat môre uitgereik word en Junie se werkverskaffingsgegewens wat Vrydag uitgereik word.

Die syfers sal waarskynlik aan markte ’n aanduiding gee of die Fed een of twee keer nog vanjaar sy uitleenkoers kan verhoog. Valutahandelaars waarsku egter dat die rand se vooruitsigte baie beperk is en dat die geldeenheid nog verder kan vasval.

Roodt sê struktureel lei die swakker rand tot hoër inflasie en blaas dit brandstofpryse aan. Hy sê dit is ʼn bewys dat iets aan die geldeenheid gedoen moet word om verbruikers, wat nou vuisvoos is, te beskerm.

Nog ’n haakplek vir die rand is markte se negatiewe siening van president Cyril Ramaphosa se onvermoë om die ekonomie aan die gang te kry. Ontleders sê Ramaphosa sal baie dringend aandag moet skenk aan beleggings, werkskepping en ekonomiese groei.

Intussen het Moody’s weer eens ’n waarskuwing gerig oor sy skuldlas. Roodt sê  dit is duidelik dat die regering te vinnig geld leen en die uitstaande lenings van staatsbeheerde ondernemings nou duidelik ’n groot las is. Van die grootste uitstaande lenings val onder Eskom, Transnet, Sanral en Prasa.

Volgens Moody’s het die rand reeds vanjaar met 14% verswak, terwyl portefeulje-uitvloeie wat die kapitaal en aandelemark direk raak, reeds 6,4 miljard dollar beloop.

Moody’s gee toe dat baie van die skade deur Amerika se beoogde handelsoorloë-gesprekke veroorsaak is. Maar dit wys daarop dat ontluikende markte soos Suid-Afrika vanjaar kwaai gestraf is.

Nog ’n kommer wat die rand pootjie, is Suid-Afrika se stygende tekort op die lopende rekening. Dit het in die eerste kwartaal tot 4,8% gestyg, terwyl dit vir die hele 2017 net 2,5% beloop het. Moody’s sê hy verwag dat die lopende rekening vanjaar tot bo ’n geskatte 2,7%  vooruitsig kan styg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Andre ·

Vreemd dat die ongelooflike korrupsie, en die onkeerbare uitvloei van beleggings in die land nie as faktore vermeld word nie. In Zim het die inflasiekoers tot 80 BILJOEN persent gestyg nadat die boere daar uitgejaag is. Waar gaan die Rand heen wanneer onteiening sonder vergoeding begin plaasvind? 100 Biljoen persent inflasie? Die oorsese beleggers onttrek nie sonder rede hul beleggings hier sedert die “grondhervorming” storie aan die lig gekom het.

Liberaal ·

Polities korrektheit is baie belangriker as om aan kernoorsake te dink. Ons mag gladnie so ver dink nie hoor jy Andre, en jy mag ook niks daaroor se nie aldus liberale waardes.

Willem ·

En intussen het ek as pensionaris nou al van my kapitaal moes begin onttrek om van te leef, aangesien die rente en beleggings wat tot ‘n jaar of so gelede nog positiewe groei getoon het, in negatiewe groei gegaan het, van die geld moes ek buiteland toe skuif. Nou vra ek mnr CR die president, wat nou?? Wat aanvanklik meer as genoeg was om van te leef, sit ek nou met probleme.

Ben ·

Solank daar gepraat word van onteiening sonder vergoeding, korrupsie is en die werkers aanhou staak en betogings hou, bly die toekomst in Suid-Afrika onseker. Beleggings sal uitbly en die rand sal verder verswak. Nog steeds niet geleer van Zimbabwe nie.

marous ·

Hoe verstewig ‘n geldeenheid effens as dit geag word rommelstatus te wees ? As ‘n gebou totaal inmekaar gefoeter het , moet daar gejuig word as daar twee heel bakstene gevind word?

Gestremde ·

Die skrif is teen die muur en die land gaan dieselfde paatjie loop as Zimbabwe. Die Rand gaan nie verbeter nie en met die huidige politieke klimaat gaan niemand geld belê in die land nie. Dus nie nodig om ‘n ekonoom te wees nie en selfs die gewone persoon op straat kan sien hoe is die land besig om onder te gaan. Vir die wat nog in die posisie is om vir hulself voorsiening te maak, moet nou begin om sover as moontlik geld oorsee te belê en noodsaaklike hulpbronne opsy sit. Die Rand gaan een van die dae inplof en dan gaan dieselfde situasie daar wees as in Zimbabwe dat dit goedkoper is om geld te gebruik vir toiletpapier as om eerder ‘n rol te gaan koop. Met die grondonteiening sonder vergoeding die land teen die einde van die jaar in anargie verval. En ‘n laaste woord van my kant af….begin saam staan want almal gaan dit nodig hê ten spyte van jou huidige armmoede of welvaart.

Andre ·

@Gestremde: goeie kommentaar! @ Liberaal: jy is heeltemal reg, stem saam met jou.

Hanna Hoekom ·

Seker weer Jan van Riebeeck se skuld… Tog net nooit “ons” skuld nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.