SA se begrafnisbedryf en die pandemie-ontwrigter

Foto ter illustrasie. (Foto:
Rhodi Lopez/Unsplash)

In Maart 2021 was dit ʼn jaar sedert Suid-Afrika se eerste inperking weens Covid-19. Sakeondernemings asook individue besef dat daar nog struikelblokke voorlê. Hulle is dus meer voorbereid ná die tweede vlaag en kan juis daarom die nodige voorsorgmaatreëls tref om die impak te minimaliseer. Een van hierdie besighede is Avbob.

Pieter van der Westhuizen, hoofbestuurder van die begrafnisdiens by Avbob se onderlinge versekeringsgenootskap, deel sy insigte omtrent die begrafnisbedryf en wat 2021 vir die industrie asook vir Avbob inhou.

Soos ander besighede, moes Avbob drastiese veranderinge implementeer om aan die vereistes van die inperkings te voldoen. Omdat begrafnisse as ʼn noodsaaklike diens beskou word, was Avbob in staat om met hul aktiwiteite voort te gaan. Daar was egter beperkings op die aantal mense wat teraardebestellings of verassings kon bywoon en wat toegang tot hul kantore kon verkry.

“Ons kliënte was in die meeste gevalle baie ondersteunend,” sê Van der Westhuizen. “Ons het koelkashouers in koelkamers omskep om ons verkoelingsgeriewe uit te brei. Ons agente het ook van regstreekse stroming gebruikgemaak om te verseker dat vriende en familie wat nie begrafnisse kon bywoon nie, dit op hierdie manier kon ervaar.”

Van der Westhuizen is van mening dat bekostigbaarheid ʼn brandpunt sal word namate die ekonomie verder verswak en ʼn toename in werkloosheid gedryf word deur die impak van die pandemie. ʼn Kleiner ekonomie beteken minder geld in sirkulasie en minder besteebare inkomste. Dit sal boonop des te moeiliker word om kliënte by hul werksplek te besoek, wat beteken alternatiewe moet gevind word.

Hy wys daarop dat nie veel tydens Covid-19 vir die begrafnisbedryf verander het nie.

“Dit was duidelik dat kleiner spelers in die mark gesukkel het om hul verkoelingsgeriewe uit te brei en met die verskaffing van doodkiste by te hou. Die bedryf kan trots wees op die feit dat ons wel in staat was om baie meer begrafnisse as tevore te kon hanteer en dit suksesvol gedoen het – veral gegewe al die regulasies wat agterblywendes ontneem van die persoonlike aspek wat sinoniem is met begrafnisdienste,” sê hy.

Van der Westhuizen beklemtoon dat Avbob geleer het dat ʼn onderneming nie sonder behoorlik opgeleide en toegewyde personeel kan funksioneer nie, en dat ratsheid en aanpasbaarheid deurslaggewend belangrik is wanneer vinnige besluite geneem moet word om verbeteringe te implementeer.

“Ons moet voortgaan om te belê in tegnologie,” verduidelik hy. “Die pandemie is ʼn enorme ontwrigting, en besighede wat uitsluitlik van fisieke infrastruktuur en verspreidingskanale afhanklik is, sal dit moeilik vind om in die toekoms mee te ding. Ek glo ʼn kombinasie van persoonlike aangesig-tot-aangesig verkope en die gebruik van tegnologie is die toekoms.”

ʼn Derde vlaag en die jaar wat voorlê

(Argieffoto)

Van der Westhuizen is van mening dat Suid-Afrika tussen die einde van Mei en die begin van Julie 2021 ʼn derde vlaag sal ervaar.

“Ter voorbereiding hiervoor, het Avbob daadwerklike stappe gedoen om te verseker dat genoeg doodskiste beskikbaar sal wees om aan die vraag te voldoen,” sê hy. “Hierdie stappe dek egter slegs een aspek. Daar moet ook bergruimte vir die addisionele kiste wees. Ons moet die uitdagings wat met produksiekapasiteit gepaardgaan verder verlig en terselfdertyd verseker dat daar genoeg grondstowwe beskikbaar is.”

Van der Westhuizen beklemtoon dat Avbob nie op sigself onkant gevang is deur die tweede vlaag nie, maar eerder deur die konsentrasie van die virus in spesifieke areas.

“In Julie was Covid-19 relatief eweredig oor die land versprei,” sê hy. “Hierdie keer ervaar ons egter ʼn ekstreme vraag in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal. Dit is eenvoudig onmoontlik om genoeg mense op te lei of addisionele infrastruktuur te skep om binne so ʼn kort tydperk vir hierdie tipe groei voorsiening te maak”.

Desnieteenstaande kon Avbob hul kant bring, danksy die feit dat hulle bestaande infrastruktuur gehad het en in ʼn posisie was om te belê om dit uit te brei toe dit nodig was.

“Ons mense was ook toegewy, aanpasbaar en hoogs gemotiveerd, wat al hierdie veranderinge binne ʼn baie kort tydperk moontlik gemaak het,” verduidelik Van der Westhuizen.

Volgens Van der Westhuizen lê die uitdaging van ʼn moontlike nuwe vlaag daarin dat Avbob moet identifiseer waar dit sal uitbreek, of dit gekonsentreerd sal wees, en of hulle die geriewe gereed het om aan die behoeftes te voldoen.

“Wat die res van die jaar betref, moet ons, soos almal anders, wag en sien wat met die uitrol van die inentings gaan gebeur, wat sal bepaal hoe ons op die pad vorentoe die aanvraag gaan hanteer,” sê hy.

Avbob: Altyd daar vir hul polishouers

(Foto: Unsplash)

Avbob was vanuit die staanspoor, reg deur die pandemie, dáár vir hul polishouers. Sedert hul ontstaan het die maatskappy ʼn totaal van drie pandemies deurleef: die

Spaanse Griep, die Vigs-pandemie en nou Covid-19. Avbob het ten diepste begrip en deernis vir die swaarkry wat hul polishouers deurgaan, asook die swaarkry van hul eie personeel wat onder enorme druk en dikwels emosioneel veeleisende omstandighede hul diens moet lewer.

“Die afgelope jaar was moeiliker as enige ander jaar in ons onlangse geskiedenis en het meer druk op ons mense geplaas,” sê Van der Westhuizen. “Tydens hierdie enorm uitdagende tyd het hulle gewys hoe buigsaam en aanpasbaar hulle is. Ons was egter ook gelukkig dat ons, as ʼn noodsaaklike diens, toegelaat is om te bly werk en om werk te bied aan mense wat dit nodig het.”

Ter afsluiting wys Van der Westhuizen daarop dat Avbob nêrens heen gaan nie.

“Mense wil die gemoedsrus hê wat spruit uit die wete dat indien iets gebeur en hulle moet eis, die eis betaal sal word en dat die maatskappy hul beloftes sal nakom.”

Afgesien van die eise wat Avbob sedert Julie 2020 betaal het, het hul polishouers tot en met die einde van Februarie 2021 begrafniskoste ter waarde van R290 miljoen gespaar danksy Avbob se gratis ledevoordele.

“Elke versekerde kwalifiseer ná twee jaar se dekking vir ʼn gratis basiese doodskis, die gratis reëling en uitvoering van die begrafnis, gratis vervoer van die oorledene binne Suid-Afrika en ʼn kontantvoorskot van R2 500,” verduidelik Van der Westhuizen.

Daarbenewens het kliënte ook R12,5 miljoen gespaar deur die gratis persoonlike beskermingstoerusting wat Avbob verskaf het.

“Avbob was daar deur al die swaarkry wat verby is en ons sal in 2021 daar bly vir ons polishouers, geïnspireer en gedryf deur ons slagspreuk: ‘Ons is daar vir jou®’,” is sy slotsom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.