SA se ekonomie ploeter voort

ekonomie-stockfoto-02

Foto: Pexels/Pixabay.com

Die Suid-Afrikaanse ekonomie het in ’n groef verval – en die pad vorentoe lyk nog baie duister. Dit is die mening van die ekonomiese agentskap NKC Research in reaksie op die 0,8%-groeikoers wat die land in 2018 behaal het.

Die groeikoers was ’n aks beter as markverwagtinge en is ondersteun deur die 1,4%-groei wat in die vierde kwartaal behaal is. Die ekonomie het in die eerste helfte van 2018 in ’n tegniese resessie verlangsaam nadat groei in die eerste twee kwartale negatief was.

Volgens NKC dui die gegewens daarop dat die ekonomie voortploeter en dat dit nou op ’n stadige pad na herstel is. Dit voeg by dat dit duidelik is dat die ekonomie nie uit die moeras is nie en baie werk nog voorlê.

Die agentskap waarsku ook dat beurtkrag, stygende brandstofpryse, ’n hoër belastingslas en die verlangsaming van die wêreldekonomie waarskynlik vanjaar ’n negatiewe impak op die groeikoers kan hê.

NKC wys daarop dat die faktore ook ’n nadelige effek op broodnodige herstel in sake, beleggers- en verbruikersvertroue kan lei.

Die maatskappy sê Suid-Afrika benodig dringend ’n gunstige omgewing waarin die privaat sektor kan floreer – die voorvereiste is beleidsekerheid. Verskeie kwessies oor beleid, wat die mynbouhandves en die gronddebat insluit, stook steeds onsekerheid by beleggers.

NKC sê terwyl die negatiewe toedrag van sake aan die orde van die dag is, sal die ekonomie steeds voortploeter en sukkel.

“Dit is ’n scenario wat Suid-Afrika en die regering nie kan bekostig nie,” het die agentskap bygevoeg.

Ekonome waarsku dat die bevolkingsgroei steeds hoër as ekonomiese groei is en dat dit nie tot ’n gesonde stand van sake kan lei nie.

Mike Schüssler, die hoofekonoom by economists.co.za, sê daar is verskeie stappe wat die regering moet neem om ekonomiese groei ’n hupstoot te gee.

Dit sluit in die deregulering van kritiese sakebelange soos elektrisiteitsvoorsiening, die afbreek van monopolie wat in staatsbesit is en die regruk van alle staatsbeheerde ondernemings, soos Eskom, Transnet, SAL, Prasa, Denel en die SAUK.

Volgens hom is die grootste fokus op Eskom, maar ander staatsbeheerde ondernemings is ook in krisisse van hul eie, ofskoon op ’n kleiner skaal as Eskom.

Schüssler sê staatsbesteding sal ook dringend gesny moet word.

“Ingryping met die staat se loonrekening is nou uiters belangrik. Dit kan in die kort- tot medium termyn voordelig wees,” het hy gesê.

Schüssler wys daarop dat ander stappe moet beleidsekerheid wees en hy het ook na die gronddebat en mynbouhandves as knelpunte verwys. Hy het bygevoeg dat rompslomp ook verminder moet word omdat dit tot talle frustrasies vir beleggers lei.

Hy sê egter dat, ofskoon die regering in meer konkrete infrastruktuurprojekte sal moet belê om ekonomiese groei ’n hupstoot te gee, is dit noodsaaklik dat die privaat sektor ook nou sy bydrae moet lewer.

“Ons het ’n gesamentlike aksie nodig tussen die regering en privaat sektor om die ekonomie aan die gang te kry wat ook tot werkskepping kan lei.

Intussen het die ekonomie nog slegte nuus gekry. Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid, (Sacci) sê sakevertroue het in Februarie verder verlangsaam. Die Sacci-vertroue-indeks het 93,4 beloop, wat 1,7 punte laer was as in Januarie. Dit was ook 5,5 punte laer as Februarie ’n jaar gelede.

Volgens Sacci is vertroue gekniehalter deur beleid- en politieke onsekerheid. Dit wys daarop dat beleggers skepties jeens president Cyril Ramaphosa is en of hy wel die hervorming kan lewer wat nodig is.

Die getuienis oor staatskaping, sukkelende staatsbeheerde ondernemings en volgehoue beurtkrag eis ook sy tol op vertroue, het Sacci bygevoeg.

Die organisasie wys daarop dat verskeie ekonomiese uitdagings Suid-Afrika in die gesig staar en die verkiesing sal waarskynlik die platform vir Ramaphosa bied om ’n rasionele en volhoubare ekonomiese beleid te implementeer.

Lesetja, die president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, het ook aangekondig dat die sentrale bank steeds by sy beraamde  groeikoers van 1,7% vir vanjaar volstaan. Hy het bygevoeg dat stygende brandstofpryse en elektrisiteitstariewe die inflasievooruitsig kan belemmer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

dr. Sakkie van der Merwe ·

Met pres Ramaja se aankondiging dat die Reserwe Bank genasionaliseer gaan word het beleggers vertroue verder gedaal en sal die toename aan vlug kapitaal of te wel buitelandse beleggings nog meer word. Die land is op ‘n finansiele afgrond. Eiendom word nie meer beskerm nie, jou geld word al hoe minder werd en die tollenaars vat al hoe meer van die salaris trekker se geld deur heffings en belastings.

NeeBroer ·

Die afdraende raak nou erg styl… en die remme is gabreuk !

Afrikaner ·

Ek wil my verstout om te sê dat daar is soveel armes in die land waarvan die ANC vir stemme afhanklik is, die ANC kan basies enigiets doen om die boonste helfte van die land se mense met ekonomiese agteruitgaan te slaan, hul tentakels op daardie gans wat die goue eiers gelê het te kry, maar waarvan daar nou amper nie eens meer vere oor is nie, en daardie armstes van die armes het dalk so paar sent meer van die toelaes wat uitgedeel word, ook het die ANC nog vir hulle tyd gekoop om daardie geld mildelik te misbruik, maar net totdat die realiteit van ‘n Zimstaat hulle tussen die oë slaan.

Johanna Botha ·

En die belasting betalers is weggejaag …nou trek die beld al stywer

Pieter ·

Dis net die begin. Ons gaan nog baie dieper in die modder wegsak. Voorbeeld vir my is die opwek van sonkrag met sonpanele op ‘n woonhuis. Elke stadsraad is stadig besig om ‘n stel belaglike en bykans onmoontlike eiese te stel aan alle installasies. Dit lyk of die owerhede agter die skerms is om mense te keer om hulle eie krag op te wek. Dis alles besig om in ‘n moeras weg te sink. Die regulasies geld natuurlik allen as jy in ‘n normale woongebied woon. As jy ‘n woning het in ‘n informele gebied sal die reels mos nie geld nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.