Sakeliga stuur nuwe arbitrasieplatform van stapel

hof-hamer

(Argieffoto)

Sakeliga het onlangs ’n projek met meer as R5 miljoen se pro Deo (gratis) arbiterdienste vir kommersiële arbitrasie in Pretoria aangekondig.

Die projek het ten doel om die enorme agterstande met kommersiële regspleging in Suid-Afrika, wat die ekonomie ernstig kniehalter, te help oplos. Partye met verhoorryp sake in die Hooggeregshof oor ʼn kommersiële aangeleentheid word reeds genooi om hul geskille na ʼn geskikte arbiter op Sakeliga se arbiterlys te verwys.

Waarom is privaatgeskilbeslegting belangrik vir Sakeliga se lede en besighede in die algemeen?

Die meeste van Sakeliga se sakelede is KMMO’s of eenmansake, wat beteken dat hulle oor die algemeen op die howe steun en dáár hul geskille moet laat besleg.

Sakeliga beywer hom vir ʼn meer gunstige sakeomgewing, en is goed geposisioneer om alternatiewe meganismes vir sake doen te ontwikkel en aan besighede beskikbaar te stel. Dit is belangrik vir ʼn selfstandige sakeomgewing om ruimte te bied vir die doeltreffende oplossing van kommersiële geskille.

ʼn Sakeomgewing wat aan ʼn toenemend verswakkende hofstelsel uitgelewer is wanneer dit by geskilbeslegting kom, sal sukkel om op selfstandigheid aanspraak te maak. Dit lê aan die hart van Sakeliga se waardeaanbod om gunstige, selfstandige sakegemeenskappe op die been te bring, waarby ingesluit is om geleenthede vir alternatiewe geskilbeslegting te bied.

Daar bestaan dan reeds arbitrasieforums. Herontwerp Sakeliga nie die wiel hier nie?

Arbitrasie is geweldig duur, selfs duurder as die hofproses. Dit maak eenvoudig nie vir kleiner kommersiële rolspelers soos KMMO’s sin om van bestaande arbitrasieoplossings gebruik te maak indien selfs net die administrasiekoste hoër kan wees as die eisbedrag self nie.

Daardie besighede is met ander woorde aan die tydrowende hofproses uitgelewer. Sakeliga se gratis verwysingsplatform bied aan kleiner besighede wat reeds op die hofrol vasgevang is en nie aan hoë koste van gewone arbitrasie blootgestel wil word nie ʼn geleentheid.

Is Sakeliga se platform ’n arbitrasieplatform of ’n verwysingsplatform?

Sakeliga se arbitrasieloodsprojek is ’n verwysingsplatform. Sakeliga se rol is bloot om partye wat met ’n verhoorryp kommersiële saak op die hofrol vashaak na een van die ervare arbiters wat aangebied het om via Sakeliga se platform pro Deo arbitrasiedienste te lewer te verwys.

Sakeliga se loodsprojek is daarom nie ’n arbitrasieforum soos die van die Arbitrasiegenootskap van Suid-Afrika nie. In hierdie stadium verwys Sakeliga bloot partye na geskikte en bekwame arbiters wat bereid is om te help om die bottelnek op die hofrol op te los.

Wat beteken pro Deo?

In die Suid-Afrikaanse reg kom daar hoofsaaklik drie vorme van kostelose of kosteverminderde regsdienste voor: pro amico (ten behoewe van ʼn vriend), pro bono (ten behoewe van ʼn verdienstelike persoon) en pro Deo (ten behoewe van ʼn verdienstelike saak, in besonder die gemeenskaplike goeie). Omdat die dienste wat die regslui in hierdie arbitrasieprojek kosteloos in belang van die regspleging self gelewer word en die gemene goeie in die samelewing is, is pro Deo die aangewese term.

Is Sakeliga se verwysingsplatform heeltemal gratis?

Sakeliga hef geen administrasiefooie vir partye wat van Sakeliga se verwysingsplatform gebruik maak nie, en die arbiters op ons lys het almal ingestem om elk gratis ’n arbitrasieverhoor van een tot drie dae te behartig.

Dit wil sê, tensy die partye daartoe aanleiding gee dat die arbiter buiten die voorgeskrewe tyd van drie dae werk moet verrig, is daar geen koste aan die verwysingsplatform verbonde nie. Die diskresie om in buitengewone omstandighede fooie te hef waar die partye byvoorbeeld vertraging veroorsaak, lê by die arbiter en nie by Sakeliga nie.

Partye is natuurlik verantwoordelik vir hul eie regspanne se rekeninge, en dit hou nie verband met die verwysingsplatform nie.

Is daar enige waarborg dat partye wat aansoek doen na ’n geskikte arbiter verwys sal word?

Al die arbiters op Sakeliga se lys is regslui of professionele arbiters met arbitrasie-ervaring. Baie van hulle is senior advokate met meer as 30 jaar se ervaring as advokaat en/of arbiter. Verwysing na arbiters is egter onderhewig aan beskikbaarheid, en Sakeliga kan nie waarborg dat ’n spesifieke arbiter vir nominasie beskikbaar sal wees nie.

Sakeliga sal aan partye wat aansoek doen drie arbiters voorstel, gegrond op die aard en besonderhede van die saak. Die partye moet een van daardie drie arbiters nomineer, anders verstryk die proses. Die diskresie oor of ’n arbiter voldoende ondervinding het, lê volledig by die partye wat die arbiter moet nomineer. Sakeliga skep bloot die geleentheid vir partye om ’n arbiter vir gratis arbitrasie te nomineer.

Waar en hoe kan partye aansoek doen?

Partye, of hul regsverteenwoordigers, kan hierdie webwerf besoek en die voorgeskrewe proses daar volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.