Sakevertroue weer op ’n laagtepunt

uurglas-geld-rande-rand

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid (SAKKN) se sakevertroue-indeks toon sakevertroue is die laagste sedert 1985. Alle data dui boonop op ʼn ekonomie wat in nood is.

Die indeks het in Desember gestyg tot 93,1 punte ná November se 92,7 punte, maar het gedaal met 2,1 indekspunte teenoor dieselfde tydperk in 2018.

Suid-Afrika se gemiddelde punt op dié indeks van 1985 tot 2019 was 108,5 punte en het ʼn hoogtepunt van 141,17 punte in Desember 2006 behaal. Die SAKKN se indeks het ʼn rekordlaagtepunt van 88,12 punte in April 1985 behaal en dié jaar word as een van die onstuimigste jare van die apartheidsera beskou.

Dié indeks word uit 13 ekonomiese faktore saamgestel en kyk onder meer na aandeelpryse, inflasie, elektrisiteitsverskaffing, motorverkope en die wisselkoers. Ses van hierdie faktore het tussen November en Desember onveranderd gebly en vier het positief geword.

“Alle aanduidings is dat die potensiaal van die ekonomie besig om te wankel en dit sal positiewe regstellende stappe vereis om die ekonomie in ʼn toepaslike rigting te stuur,” het die SAKKN gesê.

ʼn Gedempte wêreldekonomie help ook nie juis om ʼn uitvoer-aangedrewe ekonomiese herstel teweegbring nie. Die kamer meen verder dat die land met strukturele uitdagings sit wat Suid-Afrika se mededingendheid wêreldwyd beïnvloed en dat die donker prentjie tot die plaaslike sake-omgewing bydra.

Data van Statistiek Suid-Afrika het verlede maand getoon dat die ekonomie in die derde kwartaal van 2019 met 0,6 persent gekrimp het. Mynbou, vervaardiging en vervoer was van die sektore wat toe die swaarste getrek het.

Die SAKKN het gesê sakevertroue kan in die komende weke en maande na enige kant beweeg en bly maar broos. Prestasie in hierdie indeks sal grootliks afhang van die ekonomiese prestasie wat in die vooruitsig gestel word in pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede en die tesourie se begrotingsrede vir 2020. Albei dié redes vind in Februarie plaas. Die kredietgraderingsagentskap Moody’s Investors Service se besluit oor die land se kredietgradering is nog ʼn risikofaktor wat sakevertroue verder kan ondermyn.

Lae sakevertroue veroorsaak ʼn bose kringloop. ʼn Swak ekonomie gee aanleiding tot swak sakevertroue wat op sy beurt beteken ondernemings bly konserwatief met enige planne om uit te brei of beleggings in vaste bates en nuwe aanstellings te maak. Dít laat die plaaslike ekonomie nog verder vasval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

André André ·

Cyril sal die bogemelde by sy toespraak vandag inwerk. Gegewe die matriek slaagsyfer van 30% het die ANC onder Cyril se waak dan nou nog ‘n nuwe rekord daargestel wat die vorige swakste van 1985 klop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.