‘SA’ners kan nie wag vir Swart Vrydag’

Argieffoto: Pixabay

Suid-Afrikaanse kleinhandelaars rol hul moue op vir wat as die hoogtepunt van die jaar op die kleinhandelbedryf se kalander kan beskou word.

Swart Vrydag vind vanjaar op 23 November plaas. Ekonome verwag dat dit kleinhandelverkope wat vanjaar gesukkel het weens die brandstofprysverhogings en die styging in belasting op toegevoegde waarde, ʼn hupstoot sal gee.

Die betalingsmeganisme PayPal verwag dat kleinhandelverkope in hierdie periode tot meer as R53 miljard kan styg. Verlede jaar het die syfer tot R37,1 miljard geklim.

PriceCheck het bevind dat die konsep van Swart Vrydag tans die vinnigste in Suid-Afrika groei as in enige ander land ter wêreld.

Volgens PriceCheck het veral aanlyn aankope goed gedoen met kliënte wat tot drie keer op dié dag kleinhandelwebwerwe besoek het. Die webwerfkuiertjies, het PriceCheck ook bevind, het tot 30% langer geneem as vorige kere.

Die konsep van Swart Vrydag is in 1952 in Amerika begin en gee Kersverkope ʼn groot hupstoot omdat ʼn wye reeks produkte dié dag op uitverkoping is. Die uitverkoping duur tot vyf dae by sommige winkelgroepe.

PriceCheck sê die manier waarop Suid-Afrikaners die konsep omvou het, word onderstreep deur die hoë volume verkeer buite winkelsentrums. Voorts voeg dit by dat aanlyn aankope reeds in die eerste uur met oor die 4% styg.

“Suid-Afrikaners kan nie wag vir Swart Vrydag nie. Hulle is gereed daarvoor,” sê PriceCheck.

Swart Vrydag is in Suid-Afrika deur Checkers bekendgestel. Dit is vanjaar die vyfde keer dat Swart Vrydag hier gehou word.

Sedert die instelling van Swart Vrydag het die meeste kettingwinkels, insluitend kleinhandelaars, hardeware winkels, musiekwinkels en eetplekke die konsep ingestel.

Van Suid-Afrika se voorste maatskappye het beloof dat Swart Vrydag vanjaar die grootste ooit in die land sal wees. Onder die maatskappye tel Pick n Pay, Telkom, Checkers, Shoprite, Superbalist, Takealot, Game en H&M.

Julie-Anne Walsh, hoofbemarkingsbeampte by Takealot, sê dat hul buitengewone afslag op derduisende produkte oor die vyfdagperiode sal hê.

John Bradshaw, bemarkingshoof van Pick n Pay, sê dat die groep reëlings tref om meer goedere beskikbaar te hê om aan die hoë vraag te voldoen. Hy sê daar sal ook buitengewone aanbiedinge op sy webwerf wees.

Die Shoprite- en Checkers-stalle maak hulle ook gereed vir ʼn stewige Swart Vrydag. Die twee winkelgroepe sê dat hulle verskeie spesiale aanbiedinge gaan bekendstel. Dit sluit in kruideniersware, elektroniese goedere en huishoudelike toestelle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Nettie ·

Aaaaarrrggggghhhhhh!!!!!!!!!!!!!!!!

Ek begin nou al hardloop!!!!!!!!!! Vrydag, 23 November 2018, sien g’n winkel my nie – dis eenvoudig malligheid!!!!!!!!!! Ek wonder net: waar werk dié mense wat so geld het om op dié tradisioneel-Amerikaanse dag, so te spandeer – ek werk duidelik by die verkeerde plek, want ek het nie die geld om so te koop nie.

Petrie ·

“Suid Afrikaners kan nie wag vir Swart Vrydag nie”;..Wensdenkery van Kleinhandelaars!!. Hulle probeer(en kry dit nogal reg) om ‘n soort paniek te kweek onder kopers om nie winskopies mis te loop nie. Ek steur my geensins daaraan nie. Enkele gevalle waar iets werklik winskopie te kry is,het ek gewoonlik nie nodig nie en sal liewer met groot graagte dit op my eie tyd en rustig wil uitsoek as ek die geld daarvoor het. In ‘n gemaal en stoei vir items kan mens boonop beroof word,nie net in winkels nie maar op pad daarheen en op pad terug huis toe. !!

Malligheid ·

Hoeveel winskopies is daar regtig?
Mense vertrap en verskreeu mekaar?
Ag nee wat, geen winkel sien my nie. Al moet ek n week later Meer betaal.

Trudu ·

Nee dankie, daardie geskarrel en gestamp om ‘n paar rand te spaar is nie my gemoeds vrede werd nie………… dalk aanlyn vir iets wat die spaar werd is maar nie kruideniersware of klerasie nie ……….. die dag is vir my net ‘n “black friday” omdat ek nie my normale inkopies dan doen vir die naweek nie………….

GM ·

Ag nee wat, om vertrap te word vir ‘n paar rand afslag is nou nie my idee van opwinding nie.

Mariette ·

Is daar nie manier dat pensionarisse ook ‘n kans kan gegun word met Black friday hulle kry so min pensioen maar glo hulle sal ‘nbietjie meer kan koop

Kuhgirl ·

Dis ‘n baie goeie idee. Voorwaar ‘n geval waar minstens gelyke geleenthede nodig is.

Jay ·

Daarsy, hier kom die Saffas sterk deur, moan goed is te duur, n lekker dag van baaaie afslag en daar word gemoan. Niks in die wereld sal n Saffa tevrede stel nie. Bly ek sien nie sommer iemand van SA nie.

Penellope Jones ·

Nee wat, sal my goedjies voor die tyd kry en rustig by die huis bly.
Ek gaan my nie begeef in ‘n plek vol mense wat almal mekaar vertrap nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.