Shoprite steeds tops

Pieter Engelbrecht, uitvoerende hoof van die Shoprite-groep. (Foto: Verskaf)

Shoprite presteer al vir vyf jaar agtereenvolgens beter as sy eweknieë.

Dié kleinhandelreus het vandeesweek bekend gemaak dat hy in die tweede helfte van verlede jaar nie minder nie as R121 miljard met verkope verdien het – ʼn indrukwekkende styging van 13,9%.

Ongeouditeerde resultate vir die halfjaar geëindig 31 Desember toon dat al drie van die groep se kleinhandelwinkelkettings – Shoprite, Checkers en Usave – se verkope dubbelsyfergroei gedurende die ses maande onder oorsig gelewer het.

Checkers en Checkers Hyper se verkope het gedurende die betrokke tydperk met 13,7% gegroei terwyl Shoprite se verkope met 13,1% verhoog het.

Usave se verkope het gedurende die ses maande met 12,3% gegroei.

Intussen het tussentydse dividend per aandeel met 7,7% tot 267 sent (2023: 248 sent) gestyg.

Die kleinhandelaar het in hierdie tydperk byna 200 nuwe winkels geopen en meer as 2 000 nuwe werksgeleenthede geskep.

Pieter Engelbrecht, uitvoerende hoof van die Shoprite-groep, sê resultate vir die tydperk onder oorsig weerspieël bloot die groep se toewyding aan sy kliënte.

Dit is danksy die kliente wie se ondersteuning in die winkels én aanlyn daartoe gelei het dat die groep sy tydperk van ononderbroke markaandeeltoename in sy kern Suid-Afrikaanse supermarkbesigheid tot 58 maande kon verleng.

“’n Toename van 14,6% in verkope van ons kernsakesegment is gelyk aan R12,4 miljard se bykomende klantebesteding by ons op dieselfde tydperk verlede jaar.

“Ondanks verslagdoening teen ʼn buitengewoon hoë basis van verkopegroei van 17,5% vir dieselfde tydperk verlede jaar, vergelyk die 14,6%-toename in verkope vir hierdie tussentydse tydperk uitstekend met die res van die markgroei in Suid-Afrika, per NielsenIQ, vir dieselfde tydperk van 7,6%,” verduidelik Engelbrecht.

Een van die Checkers Foods-winkels in die Wes-Kaap. (Foto: Verskaf)

Engelbrecht skryf die groei van 13,7% in Checkers en Checkers Hyper se verkope toe aan onder meer voortgesette winkelopgraderings én sy aanlyn aanbod. Die Checkers Sixty60-app het verkope met ʼn verdere 63,1% oor die ses maande verhoog.

Shoprite, met die insluiting van 51 winkels wat van Massmart verkry is, se verkope het gedurende die laaste ses maande van 2023 met 13,2% toegeneem, terwyl Usave se verkope met 12,3% gestyg het.

Die groep het ook, ondanks verskeie uitdagings, ʼn toename in winste en dividende vir die tydperk aangemeld.

Altesame 197 nuwe winkels is gedurende die tydperk onder oorsig tot sy portefeulje gevoeg en die kleinhandelreus spog nou met 3 543 winkels.

Engelbrecht sê die groep se verbintenis tot groei in indiensneming het ook gelei tot die skep van 2 617 nuwe werkgeleenthede.

“Ons Shoprite-werknemerstrust het boonop R122 miljoen aan werknemersuitkerings aan kwalifiserende werknemers in Suid-Afrika bestee met gelykwaardige toekennings wat deur filiale in lande buite Suid-Afrika toegestaan is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JN ·

Hoe is dit moontlik? Top in uitbyting as jy my vra..
Ek vergelyk hul pryse met ander supermarkte en sien dat hul baie duurder is met meeste van hul produkte,sommer met rande en nie eens sente in baie gevalle!

Varl ·

Hulle verkoop produkte teen 300% wins. Mort in ag neem. Hulle moet seker baie vir die groot moderne wnkel komplekse betaal. En dan hul prrsoneel minimum sodat jy en ek darm net 300 keer die prys van n produk moet betaal. Kan daar nie n maatskapy gestig word wat kleiner goedkoper winkels het en regtig goedkoper pryse aanbied nie? Sal daarin belê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.