Só staan sake vir SA se ekonomie in 2019

ekonomie-finansies-geld-sakrekenaar-knyp-spaar

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Die afgelope jaar was bitter, taai en uitdagend. Nog van dieselfde word volgende jaar verwag in die aanloop tot die algemene verkiesing voor die mark en ekonomiese omstandighede hul kop sal lig.

Dit is die mening van ʼn markontleder en ʼn ekonoom wat ʼn oorsig vir vanjaar en hul verwagtinge vir 2019 gegee het. Die twee kenners is Mike Schüssler, hoof-ekonoom by economists.co.za en Dawie Klopper, ʼn portefeuljebestuurder by PSG Wealth.

Dit is duidelik dat vanjaar, waarin ekonomiese groei verslap het, oliepryse die hoogte ingeskiet en Donald Trump sy handelsoorlog met verskeie lande, insluitend China, gevoer het, die mark gestonk het.

Die rand is ook deur eksterne faktore ontwrig, wat onder meer die finansiële krisis in Turkye ingesluit het, asook die VSA se handelsoorlog.

Op die tuisfront het ʼn verhoging in belasting op toegevoegde waarde (BTW), stygende brandstofpryse en ʼn rentekoersverhoging vuisvoos verbruikers hard geslaan.

Die negatiewe wendings het verbruikers en sake-sentiment ontspoor. Die JSE was ook vir ʼn groot gedeelte van die jaar op die agtervoet.

Dawie Klopper

Die afgelope jaar was ʼn jaar gevul met baie wisselvalligheid en net wanneer daar bietjie hoop was, soos vroeg in November, gebeur daar iets soos die daling in die olieprys wat die mark weer afbring.

Die daling in die olieprys kan egter ook goed wees vir verbruikersbesteding. Dinge is uiters moeilik. Die negatiwiteit hou nie op nie.

Eskom se probleme maak mens net nog meer negatief. Dit is droog in die land. Daar is `ʼn El Niño-verskynsel in die Stille Oseaan teenwoordig wat dié droogte veroorsaak. En boonop duur die gronddebat nog voort.

Die versterking in die rand (teen die verwagting in) het ʼn groot invloed gehad op van ons randverskansde aandele die afgelope jaar op ons plaaslike beurs wat aandele soos Naspers, Richemont, MNT en Aspen insluit, om net ʼn paar te noem

Die wêreld gaan ook deur moeilike tye. Dit is basies Trump geïnduseer. Wisselvalligheid was nog altyd inherent aan markte. Ongelukkig maak Trump se proteksionisme, Brexit en die Britte se kortsigtigheid, die Franse se terugstoot teen Macron en die swak ekonomiese groei in China sake baie onvoorspelbaar.

Die feit dat die JSE nou al vir vyf jaar niks doen nie, is die ergste waarmee ek in my loopbaan te kampe gehad het. Ons weet nou hoekom dit so is. Dit is die gevolg van die Zuma‑era en alles wat daarom plaasgevind het.

Die Suid-Afrikaanse beurs is nou goedkoop. Al die slegte nuus is ingeprys. ʼn Klein bietjie goeie nuus kan die beurs nou vinnig en skerp laat draai.

Is dit ʼn alternatief om dan nou handdoek in te gooi en al mens se groeibates na byvoorbeeld die geldmark toe te skuif? Dit is seker ʼn alternatief, maar dan maak jy jou verliese vas en gaan jy permanent agter bly as ʼn opwaartse draai in aandele kom. Ons probeer tog beskerm deur ons kliënte se portefeuljes te diversifiseer. Ons gebruik verskillende bateklasse, binnelands en buitelands, om tog te probeer beskerm.

Beide Coronation en Investec het in onlangse navorsingstukke daarop gewys dat nadat die mark vir drie jaar so swak gevaar het as wat die afgelope drie jaar in Suid-Afrika die geval was, dan is die volgende drie jaar gewoonlik baie goed. Die vraag bly egter nou wat die sneller gaan wees om die mark te laat draai. Dit is gewoonlik ʼn verrassing of ʼn sogenaamde swartswaan-verskynsel en juis daarom is dit nie voorspelbaar nie.

Ekonoom Mike Schüssler (Skermskoot uit die video)

Mike Schüssler

Volgende jaar kan vir my meer na dieselfde as vanjaar wees nadat ons weer elektrisiteitsprobleme ondervind het weens Eskom se probleme.

Ek dink dit sal dalk wel weer beter gaan in die tweede helfte van 2019 maar die eerste helfte se vooruitsigte lyk tam.

Daar gaan ʼn addisionele vakansiedag weens die verkiesing wees. Dit saam met die spanning van verkiesing, sal die ekonomie op sy agtervoet sit.

Dit lyk ook of droogte vir die eerste rukkie van die jaar Suid-Afrika sal teister en dit sal die landboubedryf benadeel. Kommoditeitspryse bly onder druk en dit laat mynbou ook sukkel.

Olie lyk asof dit gelukkig redelik laag, of nie te hoog nie, gaan wees.

Eskom sal seker nog ʼn probleem wees vir minstes ʼn paar maande en ʼn groot Eskom‑prysverhoging is op pad.

My voorspelling vir die tweede helfte sluit die siening in dat die wêreldekonomie gaan begin afplat.

Die goeie nuus is dat Eskom weer stadig op dreef behoort te kom en ses maande behoort genoeg tyd te wees om die meeste herstelwerk te voltooi plus ʼn ekstra eenheid van Medupi-kragsentrale sal dan ook byna voltooi wees.

Hopelik sal die droogte in die tweede helfte van die jaar ook breek.

Trump begin minder geraas maak oor China en dit kan begin om kommoditeitpryse dalk effe te help.

Daar kan genoeg water in die Kaap wees, terwyl toerisme weer spoed kry nadat visums vir baie besoekers afgeskaf is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

B ·

Behalwe vir die R1000e rande wat ek en jy per maand betaal het om die kaders te verryk, het ons persoonlike beleggingsportefeuljes (veral pensioen / annuiteite) ook ontsettend baie waarde verloor, veral as jy na lang termyn opbrengs kyk.

Hierdie onkapabiliteit + ideologiese projekvan die ANC is onbekostigbaar op alle vlakke – hulle is DIREK verantwoordelik vir die grootskaalse verarming van SA se inwoners, nou en in aftrede.

Johanna Botha ·

Dankie anc julle het ons in die knyp gekry …net mooi alles waaraan julle vat verander in n GROOT FLOP !

Lido Pellencin ·

Ek wonder van wie julle praat, wanneer julle voorspel dat dit beter sal gaan met die ekonomie of dat die ekonomie sy kop gaan “oplig”. Wie gaan werklik daarby baat? Dit voel vir my of dit net die staatsamptenare(en die BEE-manne en vroue) is wat hierby baat vind. Baie van ons voel maar redelik onaangeraak deur die fluktuasies van die ekonomie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.