Somber Desember vir vervaardiging- en kleinhandelbedryf

Foto: Pixabay

Hernieude kommer oor die prestasie van die Suid-Afrikaanse ekonomie gedurende 2018 is weer eens kwaai aangeblaas. Die ekonomie het gedurende die eerste helfte van verlede jaar in ʼn tegniese resessie verval.

Dit het egter in die derde kwartaal van verlede jaar met 2,2% gegroei om die ekonomie weer op ʼn positiewe voet te sit. Maar die jongste ekonomiese gegewens uit die vervaardigingsektor het opnuut kommer oor die groeikoers aangewakker.

Ofskoon ʼn algehele groeikoers vir verlede jaar van tussen 0,9% en 1,4% verwag word, meen ekonome dat daar dalk ʼn nare verrassing vir beleggers, die regering en ander rolspelers kan wag.

Daar is ook kommer oor die kleinhandelsektor nadat verskeie staatmakermaatskappye in die tydperk tot Desember – wat Swart Vrydag en Kersfees insluit – ondergemiddeld presteer het. Van die maatskappye wat harde bene gekou het, sluit in Shoprite-Checkers, Mr Price en Woolworths.

Die swak prestasies het ook op die Johannesburgse Effektebeurs uitgekring waar kleinhandelaandele gestraf is.

Die kleinhandelgegewens word die week bekendgemaak en kan ʼn beter aanduiding van die ekonomiese groeivooruitsig gee.

Volgens Statistiek Suid-Afrika het die vervaardigingsektor met 0,1% in Desember gegroei. Verwagtinge was dat dit met 1,7% sou groei. Die sektor se groei is vir November van 1,6% tot 1,3% afwaarts hersien.

Die ekonomiese agentskap NKC Research sê dat, ofskoon groei in die sektor bykans tot ʼn stilstand in Desember gekom het, was groei in die vierde kwartaal 1,2% en dat dit wel die groeikoers kan ondersteun.

“Die jongste syfer wat uitgereik is, was erger as wat ons verwag het,” het die maatskappy gesê.

Vir die jaar het net vier kategorieë stewiger produksie teenoor ʼn jaar gelede aangemeld. Ses sektore het oor die jaar verswak.

NKC meen ondanks al die terugslae kan die vervaardigingsektor wel ʼn positiewe bydrae tot die groeikoers bydra.

Hy waarsku egter dat nuwe uitdagings die sektor vanjaar in die gesig staar. Dit sluit in lae sakevertroue, die hernieude aanwend van beurtkrag, lae plaaslike vraag, potensieel hoër elektrisiteitstariewe en die effek van die nuwe minimumloon (wat in Januarie in werking getree het) wat R20 per uur, of R3 500 ʼn maand beloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Platsak ·

As ons die syfers kan glo, het die middelklas gemiddeld 25% armer geword. ‘n Mens is dan mos nie verbaas as daar nie meer koopkrag is nie! Self sukkel ons deesdae om te oorleef, laat staan nog geskenke vir enige feesgeleentheid koop, groot feesetes kook, nuwe klere koop, met vakansie gaan, ens. Daai luukses is verlede tyd!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.