Staatsbesteding moet dringend ingekort word

dawie-roodt-begrotingsrede-2018

Dawie Roodt sê alhoewel hy alles in vanjaar se begrotingsrede verwag het, was dit steeds ‘n teleurstelling. Foto: Reint Dykema/AfriSake.

Twee van die land se voorste ekonome waarsku dat staatsbesteding dringend ingekort moet word omdat geld vir die staatskas al hoe minder word. Hulle wys daarop dat ofskoon Eskom voortdurend in die soeklig is weens sy knellende finansiële probleme, kan maatskaplike toelaes soos ’n bom in die regering se gesig opblaas.

Mike Schüssler, die senior ekonoom by Economists.co.za, sê die regering begin nou betaal vir sy minder vriendelike ekonomiese beleid en houding teenoor die sakegemeenskap. Hy wys daarop dat die regering se beleidsrigting nog nie die sakegemeenskap kon oortuig om in werkskepping te belê nie.

Volgens Schüssler is een van die land se mees tasbare probleme werkloosheid. Hy sê dit is nie net ’n probleem waar mense rondskarrel vir werksgeleenthede nie.

“Dit het ’n dieper impak. Werkloosheid beteken dat jy minder belastingbetalers het en dit sypel deur na die staatskas. Daarteenoor bestee die regering meer geld op toelaes. Die regering ontvang minder inkomste en sal meer op kapitaalmarkte moet geld leen om kop bo water te hou,” het hy gesê.

Schüssler wys daarop dat dit nie juis ’n gewenste ekonomiese plan is nie.

“Daarom is dit ’n ongunstig ekonomiese klimaat waar ons reeds deur twee graderingsmaatskappye – Fitch en Standard & Poor’s Global – afgegradeer is.”

Dawie Roodt, die hoofekonoom by die Efficient Group, sê juis dat die groeiende toue by die Suid-Afrikaanse Sosiale Sekuriteitsagentskap (Sassa) gevaarligte laat flikker.

Beide Roodt en Schüssler beaam dat regeringsleiers bewus is van die probleme, maar dat hulle nie die ongewilde stap wil doen om uitgawes te sny nie.

Roodt sê dat, onder meer, Eskom, die SAUK, Transnet, SAL, Sanral Prasa en Denel se skuld deel van die oorhoofse staatsskuld is.

“Die sogenaamde staatsbeheerde maatskappye is ’n foefie. In werklikheid is hulle deel van die staat. Daarom moet die belastingbetaler pa staan vir hul skuld,” sê hy.

Roodt meen hoe gouer die regering begin om sy uitgawes in te kort, hoe gouer kan vooruitsigte vir die land verbeter.

Hy sê deur ordentlike werk te skep, kan veral help om die afhanklikheid op staatstoelaes te verminder.

“Omdat daar nie werk is nie, hardloop baie mense Sassa toe” sê hy.

Roodt voeg by dat die regering se Sassa-kaart ook binnekort sy hand gaan verswak.

“Basies moet uitgawes gesny word. Dit beteken ’n drastiese inkorting van personeel in die staatsdiens en staatsbeheerde ondernemings. En daar moet gekyk word na die Sassa-begunstigdes.”

Sassa het sowat 17 miljoen ontvangers van staatstoelaes.

Dit is vir Schüssler ’n probleem omdat die mense wat tans werk en belasting betaal, veel minder is as dié wat toelaes ontvang.

mike-schussler-irr-pensioene-2018-03-07-verwerk

Die ekonoom Mike Schüssler. Argieffoto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Albei is egter bekommerd oor die groeiende werkloosheid ondanks voorsiening wat deur die werkloosheidsverskeringsfonds gedoen word. Schüssler sê ʼn werklose se werkloosheidsversekeringsvoordele is beperk.

“In baie gevalle word daar dan na Sassa gekyk vir ’n uitkoms.”

Die laaste kwartaallikse arbeidsverslag wat deur Statistiek Suid-Afrika uitgereik is, het getoon dat die land se arbeidsmark in 2018 pap was.

Volgens Roodt is ekonomiese groei te swak om genoeg werkgeleenthede te skep. En beurtkrag deur Eskom help ook nie veel om werkskepping te steun nie.

“Nog ’n probleem is dat ons bevolking vinniger as die ekonomie groei. As ons mooi kyk, is ernstige ekonomiese probleme ons voorland,” het hy gesê.

Roodt wys daarop dat die regering nie die wilskrag het om die probleme op te los nie, veral nie in ’n verkiesingsjaar nie. En sonder drastiese ingryping, gaan die probleme net vererger.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Andre Coetzee

Die probleem is al lankal onder die aandag van die regering gebring maar die is te onkundig en onwillig om enige positiewe stappe te neem.Soos met Eskom moet alles eers omval voordat die regering aandag skenk.Die “grants” is ‘n tydbom en as ek afhanklik daarvan was sou ek nou al baie bekommerd gewees het.Dit gaan omval net ‘n kwessie van tyd.

Anne

Sommige van die “wit” staatsamptenare word nie na 15 jaar op n level, bevorder na die volgende level nie. So word daar op ons “gespaar”. Lekker man, lekker!!

Jerry

Daar is geen manier wat die ANC regering sy uitgawes sal inkort nie, veral nie op salarisse vir botallige lede nie, omrede die ANC daardie botallige strukture doelbewus vir revolusionere kaders geskep het en eerder nog sou wou uitbrei! Die ANC regering het dit ten doel om die ANC elite en revolusionere kaders te vergoed ten koste van belastingbetalers. Die geluide wat die ekonome nou maak gaan veroorsaak dat belasting doodeenvoudig verhoog gaan word. Die ANC hoef nie werk te laat skep buite die staat nie. Die wat werk het sal betaal vir die wat nie werk het nie. Dit… Lees meer »

Human

Totale anargie is die inwoners van die land se voorland ongeag wat politisie wil voorgee. As gekyk, gehoor en ontleed word van wat tans in die land gebeur moet enige nugterdenkende mens tot die besef kom, dat dit net ‘n kwessie van tyd is. Berei jouself en diegene wie vir jou belangrik is voor, vir wat wag, dit gaan baie moeiliker tye wees as tans.

thea

die regering luister nie, net die staatsinhuldig gaan n fortuin kos