Staatsbesteding moet dringend ingekort word

dawie-roodt-begrotingsrede-2018

Dawie Roodt sê alhoewel hy alles in vanjaar se begrotingsrede verwag het, was dit steeds ‘n teleurstelling. Foto: Reint Dykema/AfriSake.

Twee van die land se voorste ekonome waarsku dat staatsbesteding dringend ingekort moet word omdat geld vir die staatskas al hoe minder word. Hulle wys daarop dat ofskoon Eskom voortdurend in die soeklig is weens sy knellende finansiële probleme, kan maatskaplike toelaes soos ’n bom in die regering se gesig opblaas.

Mike Schüssler, die senior ekonoom by Economists.co.za, sê die regering begin nou betaal vir sy minder vriendelike ekonomiese beleid en houding teenoor die sakegemeenskap. Hy wys daarop dat die regering se beleidsrigting nog nie die sakegemeenskap kon oortuig om in werkskepping te belê nie.

Volgens Schüssler is een van die land se mees tasbare probleme werkloosheid. Hy sê dit is nie net ’n probleem waar mense rondskarrel vir werksgeleenthede nie.

“Dit het ’n dieper impak. Werkloosheid beteken dat jy minder belastingbetalers het en dit sypel deur na die staatskas. Daarteenoor bestee die regering meer geld op toelaes. Die regering ontvang minder inkomste en sal meer op kapitaalmarkte moet geld leen om kop bo water te hou,” het hy gesê.

Schüssler wys daarop dat dit nie juis ’n gewenste ekonomiese plan is nie.

“Daarom is dit ’n ongunstig ekonomiese klimaat waar ons reeds deur twee graderingsmaatskappye – Fitch en Standard & Poor’s Global – afgegradeer is.”

Dawie Roodt, die hoofekonoom by die Efficient Group, sê juis dat die groeiende toue by die Suid-Afrikaanse Sosiale Sekuriteitsagentskap (Sassa) gevaarligte laat flikker.

Beide Roodt en Schüssler beaam dat regeringsleiers bewus is van die probleme, maar dat hulle nie die ongewilde stap wil doen om uitgawes te sny nie.

Roodt sê dat, onder meer, Eskom, die SAUK, Transnet, SAL, Sanral Prasa en Denel se skuld deel van die oorhoofse staatsskuld is.

“Die sogenaamde staatsbeheerde maatskappye is ’n foefie. In werklikheid is hulle deel van die staat. Daarom moet die belastingbetaler pa staan vir hul skuld,” sê hy.

Roodt meen hoe gouer die regering begin om sy uitgawes in te kort, hoe gouer kan vooruitsigte vir die land verbeter.

Hy sê deur ordentlike werk te skep, kan veral help om die afhanklikheid op staatstoelaes te verminder.

“Omdat daar nie werk is nie, hardloop baie mense Sassa toe” sê hy.

Roodt voeg by dat die regering se Sassa-kaart ook binnekort sy hand gaan verswak.

“Basies moet uitgawes gesny word. Dit beteken ’n drastiese inkorting van personeel in die staatsdiens en staatsbeheerde ondernemings. En daar moet gekyk word na die Sassa-begunstigdes.”

Sassa het sowat 17 miljoen ontvangers van staatstoelaes.

Dit is vir Schüssler ’n probleem omdat die mense wat tans werk en belasting betaal, veel minder is as dié wat toelaes ontvang.

mike-schussler-irr-pensioene-2018-03-07-verwerk

Die ekonoom Mike Schüssler. Argieffoto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Albei is egter bekommerd oor die groeiende werkloosheid ondanks voorsiening wat deur die werkloosheidsverskeringsfonds gedoen word. Schüssler sê ʼn werklose se werkloosheidsversekeringsvoordele is beperk.

“In baie gevalle word daar dan na Sassa gekyk vir ’n uitkoms.”

Die laaste kwartaallikse arbeidsverslag wat deur Statistiek Suid-Afrika uitgereik is, het getoon dat die land se arbeidsmark in 2018 pap was.

Volgens Roodt is ekonomiese groei te swak om genoeg werkgeleenthede te skep. En beurtkrag deur Eskom help ook nie veel om werkskepping te steun nie.

“Nog ’n probleem is dat ons bevolking vinniger as die ekonomie groei. As ons mooi kyk, is ernstige ekonomiese probleme ons voorland,” het hy gesê.

Roodt wys daarop dat die regering nie die wilskrag het om die probleme op te los nie, veral nie in ’n verkiesingsjaar nie. En sonder drastiese ingryping, gaan die probleme net vererger.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Andre Coetzee ·

Die probleem is al lankal onder die aandag van die regering gebring maar die is te onkundig en onwillig om enige positiewe stappe te neem.Soos met Eskom moet alles eers omval voordat die regering aandag skenk.Die “grants” is ‘n tydbom en as ek afhanklik daarvan was sou ek nou al baie bekommerd gewees het.Dit gaan omval net ‘n kwessie van tyd.

Anne ·

Sommige van die “wit” staatsamptenare word nie na 15 jaar op n level, bevorder na die volgende level nie. So word daar op ons “gespaar”. Lekker man, lekker!!

Jerry ·

Daar is geen manier wat die ANC regering sy uitgawes sal inkort nie, veral nie op salarisse vir botallige lede nie, omrede die ANC daardie botallige strukture doelbewus vir revolusionere kaders geskep het en eerder nog sou wou uitbrei! Die ANC regering het dit ten doel om die ANC elite en revolusionere kaders te vergoed ten koste van belastingbetalers. Die geluide wat die ekonome nou maak gaan veroorsaak dat belasting doodeenvoudig verhoog gaan word. Die ANC hoef nie werk te laat skep buite die staat nie. Die wat werk het sal betaal vir die wat nie werk het nie. Dit is hoe die kommunistiese sosialiste dink en redeneer! Sterkte aan diegene wat gereken het dat die ANC ten goede verander het!

Human ·

Totale anargie is die inwoners van die land se voorland ongeag wat politisie wil voorgee. As gekyk, gehoor en ontleed word van wat tans in die land gebeur moet enige nugterdenkende mens tot die besef kom, dat dit net ‘n kwessie van tyd is. Berei jouself en diegene wie vir jou belangrik is voor, vir wat wag, dit gaan baie moeiliker tye wees as tans.

thea ·

die regering luister nie, net die staatsinhuldig gaan n fortuin kos

Anoniem ·

Stem saam met die stop van toelaes want elkeen gaan le om n kind te verwek net om die toelaag te kry en jan en alleman betaal vir haar plesiertjie

dejager ·

Hierdie is bloot herdistrubisie van eiendom.Dit is nie ANC wat foutloop nie maar amptelike ANC beleid.Daar is nog baaaaie geld om te stroop.Dink aan pensioenfondse,privaateiendom, banke en so meer.Pynlik sal dit wees maar nie vir die elite nie.
Dan is daar sowaar wittes wat vir die ANC wil stem!

Johanna Botha ·

Onthou die meeste mense is aangestel deur vriende en kennise nie omdat hulle regtig gewalifiseer is vir die job so die kundiges maan en maan maar hulle praat met die mure want die mense is dom en verstaan dit gladnie ! O ja en die unie beskerm hulle ook nog verder en dit is maar net n ”job” en ons gaan van tee na tee en wag salig vir die 25ste ????

Vlakvark ·

Daar is net één oplossing: Suid-Afrikaners kollektief moet as nasie spoedig ekonomies wêreldkompeteerbaar raak om volhoubaar en vodoende buitelandse valuta op ‘n winsbasis te verdien tot voordeel van die hele bevolking wat sy ongebreidelde bevolkingsaannwas moet hokslaan. Verg nie 10 doktorsgrade in ekonomie om dit te verstaan nie. En vergeet buitelandse beleggings: praat minder politiek en raak self doeltreffend en effektief in wat ons doen en beleef selfaktualisering en werkstrots. Bestudeer die Baldrige Excellence Framework for Business Excellence.
Groetnis. Vrydenker Johann Vlakvark.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.