Steinhoff struikel weer met uitslae

Argieffoto

Die kleinhandelreus Steinhoff, wat in die middel van  ʼn finansiële skandaal is, het aangekondig dat hy nie soos vroeër sy finansiële uitslae vir 2017 en 2018 hierdie maand gaan aankondig nie.

Die maatskappy sê die PricewaterhouseCoopers (PwC)-verslag, wat sowat drie weke gelede uitgereik is, het nuwe uitdagings aan die maatskappy gestel.

Die PwC-verslag is ook al in die parlement onder oë gekry. Met die bespreking van die verslag deur drie portefeulje komitees is die voormalige bestuurshoof Markus Jooste as skuldige uitgewys wat die groep se finansiële state gemanipuleer het. Dit is ook deur die bestuurshoof van Steinhoff, Louis du Preez, bevestig.

Steinhoff se aandeelprys het met meer as 90% gesak nadat die maatskappy in Desember 2017 erken het dat daar fout met sy boeke is. Sedertdien het, onder meer, Jooste en die voormalige voorsitter, Christo Wiese, bedank.

Steinhoff beoog om op 7 Mei die 2017-finansiële verslag uit te reik en op 18 Junie sal die 2018-finansiële verslag beskikbaar gestel word.

Wiese het egter Steinhoff vir R59 miljard gedagvaar vir die verliese wat hy gely het. Dit nadat ʼn groep aandeelhouers ook by die Suid-Gautengse hooggeregshof ʼn klasaksie aanhangig gemaak het.

Ofskoon die Valke die bedrog in die maatskappy ondersoek, het hulle aan die parlementêre portefeuljekomitee oor finansies laat blyk dat hul ondersoek nie ver gevorder het nie.

Volgens Phillip Dieperink, sy finansiële hoof, het die volume en inhoud van die PwC-verslag ʼn groter werklas op die maatskappy geplaas. Dit het Deloitte, sy ouditeur, verplig om bykomende personeel vir die uitslae te laat ontplooi.

Goeie nuus vir Aspen

Intussen was daar goeie nuus vir die farmaseutiese reus Aspen Pharmacare. Nuus het begin deursypel dat hy sy babavoedingafdeling binne weke kan verkoop wat die swaargewigmaatskappy kan help om sy skuldlas te verminder. Aspen het die nuus Woensdag bevestig.

Dit volg nadat een van die laaste struikelblokke in Aspen se beoogde transaksie met die Franse maatskappy LACTALiS uit die weg geruim is. Owerhede in Nieu-Seeland het hul toestemming verleen vir die transaksie. Die toestemming was eers teen einde Mei verwag.

Volgens beraminge sal die opbrengs van die verkoop R11,7 miljard wees. Aspen het aangedui dat die toestemming van die Nieu-Seelandse owerhede noodsaaklik was. Sedert Aspen se gestruikel om die nodige toestemming te verkry, het sy aandeel met meer as 30% gedaal en sy grootste eendagverlies in 21 jaar gely.

Aspen se aandeel het die afgelope week met meer as 5% gestyg en verhandel weer bo R100 per aandeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.