Sterker rand hou voordele en nadele in

geld-finansies-rand-note

Ter illustrasie. Foto: Verskaf.

Die huidige sterkte van die rand kan ’n tweesnydende swaard vir Suid-Afrika word. Dit kan egter voordele soos ’n laer brandstofprys en matige inflasie meebring.

Dit is die siening van Mike Schüssler, hoofekonoom by Economists.co.za. Hy voeg by dat die geldeenheid waarskynlik besig is om te herstel ná sy swak vertoning verlede jaar en dat die sterker rand ook deur die swakker Amerikaanse dollar gedryf word.

“Die vraag is egter vir hoe lank kan die lopie voortduur,” het hy bygevoeg.

Schüssler wys daarop dat die stewiger rand se voordele, onder meer, ’n bestendige rentekoersbeleid deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) kan noodsaak. Dít juis omdat die stewiger geldeenheid die rand en ingevoerde inflasie kan hokslaan

“Maar aan die ander kant sal ons sleuteluitvoere wat belangrike buitelandse valuta verdien, laer wees,” se Schüssler.

“Indien die geldeenheid tot onder die R13-vlak teenoor die Amerikaanse dollar verstewig, sal ek bekommerd wees. Net so indien dit tot bo die R14-vlak verswak,” het hy gesê.

Suid-Afrika se belangrikste uitvoere sluit in steenkool, goud, ystererts, platinum, vrugte en motors.

Schüssler sê een voordeel wat soos ’n paal bo water uitstaan, is dat inflasie in toom gehou kan word en teen die huidige trant, kan brandstofpryse ook in Maart daal.

Dit is juis die rand se swak lopie verlede jaar wat tot Suid-Afrika se handelsoorskot in Desember gelei het.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het aangekondig dat die handelsoorskot in Desember R17,2 miljard beloop het teenoor ’n verwagte R9 miljard. Die oorskot was ’n hersiene R3,3 miljard in November.

In Desember het invoere met R29,8 miljard, of -25,8% gedaal, terwyl uitvoere R15,9 miljard, of 13,4% swakker was.

Die ekonomiese agentskap NKC Research sê dat, ondanks die groot oorskot wat in Desember behaal is, was die handelsvertoning in 2018 teleurstellend.

Die agentskap wys daarop dat Suid-Afrikaanse uitvoerders nie munt geslaan het uit die herstel in die wêreldekonomie nie, asook voordeel getrek het uit die swakker rand.

Volgens die agentskap het ’n afname in vraag na goedere daarop gedui dat die wêreldekonomie in die laaste kwartaal van 2018 besig was om af te plat. Dit voorsien ook nie dat die land se handelsvertoning vanjaar uitmuntend sal wees juis weens die trae wêreldekonomie nie.

Ondanks die blink handelsvertoning, voorspel die maatskappy dat Suid-Afrika se lopende rekening tot 3,7% van BBP kan styg teenoor 2017 se 2,4%.

Intussen sê markontleders dat die rand se sterkte waarskynlik die Reserwebank sal noop om sy rentekoerse eers in November te verhoog. Die rand verhandel tans teen sy beste vlakke sedert Augustus verlede jaar.

Die geldeenheid was ook die beste ontluikende markvaluta in Januarie. Dit het 7,35% teenoor die Amerikaanse dollar gestyg. Die Russiese roebel het daarteenoor met 5,64% geklim.

Die rand het ’n bykomende hupstoot gekry nadat die Amerikaanse Federale Raad Woensdag aangekondig het dat hy nie ’n aggressiewe rentekoersbeleid gaan navolg nie. Hy het sy uitleenkoers onveranderd gelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Staak saam ·

Ons is nou in 2019 in en saam dit kom die nuwe stakings vir salaris aanpassings.
Gou het wel geklim oor die onsekerhede internasioenaal, die vraag is, kan hierdie rondte stakings die myn kameel se rug breek, verseker en veral as die Rand verder verstewig.

Gemaskerde Sopbeen ·

Die hoof-ekonome darem………..as dit te swak word is dit nie goed nie, en as dit te sterk word is dit ook nie goed nie. Dis soos die kind wat in die Sondagskool klas, nadat hy gehoor het van 40 dae en 40 nagte se reën, gevra het: “Was die boere toe tevrede?” As die Rand sterk word en ons uitvoerprodukte bring minder geld die land in, voer net meer produkte uit. As mens luister na hierdie snert moet die hel wees om in Engeland te bly, en ‘n absolute paradys in Zimbabwe!! Hierdie land se ekonomie was nog nooit beter gewees toe ons 90c vir ‘n Amerikaanse Dollar betaal het nie………..

Jakob ·

As R15 teen ‘n Euro sterk is weet ek regtig nie meer nie..
Wat van R3 vir ‘n Dollar of Euro. Dit klink vir my sterk maar R15 vir een Euro. Klink pateties as jy my vra.

47 jarige laaitie ·

Hoe sterker die rand, hoe goedkoper is vliegtuie, motorfietse en ander ingevoerde speelgoetertjies. Ek sal sommer baie hou van R1=US$1.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.