Swartsee-konflik krap graanpryse om

  • Graanboere kry baie swaar omdat geen produkte vanuit Oekraïne uitgevoer kan word nie. (Foto: Intel Slava Z)

    Deur Christiaan Vercueil, interne landbou-ekonoom by Graan SA

Met sanksies deur die Weste teen Rusland, word Russiese uitvoere vertraag weens lande se onbereidwilligheid om met Rusland handel te dryf. Die sanksies sal na verwagting in plek bly totdat die konflik tot ʼn einde kom, waarna handel na normaal kan terugkeer.

Hawens in Oekraïne is totaal en al buite aksie weens vrese dat hierdie hawens deur Russiese magte aangeval kan word. Al was dit die geval dat hawens normaal gefunksioneer het, is daar nie ʼn manier hoe produsente hul produk van die plase na die hawens toe kan skuif nie.

Die oorlog heers ook in die Swartsee-gebied, vanwaar die meeste van Oekraïne se uitvoere plaasvind. Die Swartsee-are is nou heeltemal onbegaanbaar. Daar is berigte van kommersiële skepe wat al in die harwar beskadig en gesink is.

Tot op hede word mielies die minste deur hierdie oorlog beïnvloed, weens die feit dat Rusland se plantseisoen eers in die volgende paar maande sal afskop, terwyl die meeste van Oekraïne se uitvoerbare produk reeds uitgevoer is.

Suid-Afrika sal egter nie ʼn wesenlike probleem ondervind nie, want daar is altyd ander gebiede waarvandaan produkte ingevoer kan word. Kommoditeitspryse en insetkoste is die twee faktore wat die meeste gevaar vir die bedryf en die publiek inhou.

Mielievoorraad in SA

Suid-Afrika het vir die 2021‑’22‑seisoen 16 miljoen ton mielies geproduseer, waarvan 8,6 miljoen ton witmielies en 7,7 miljoen ton geelmielies is. Tans staan witmielie-uitvoere op 570 000 ton en geelmielies op 2,4 miljoen ton. Die plaaslike verbruik is omtrent 11 miljoen ton.

 

Wit (ton) Geel (ton) Totaal (ton)
Produksie 8 600 000 7 715 000 16 315 000
Verbruik 6 984 000 4 105 000 11 089 000
Uitvoere 568 569 2 473 253 3 047 822
Voorraad 1 047 431 1 136 747 2 184 178

Uit hierdie tabel kan ons sien dat Suid-Afrika tans voldoende voorraad het om tot in Mei aan plaaslike verbruik te voldoen, wanneer die volgende seisoen begin en nuwe mielies in die mark kom.

 

Koringvoorraad in SA

Suid‑Afrika is ʼn netto invoerder van koring, wat beteken dat ons nie genoeg koring produseer om aan ons eie verbruik te voldoen nie. Suid‑Afrika moet ongeveer die helfte van ons plaaslike verbruik invoer, afhangend van die plaaslike produksie. Indien die konflik voortduur, is daar ander gebiede vanwaar koring ingevoer kan word. Vir die huidige bemarkingseisoen het Suid-Afrika koring van lande soos Litaue, Argentinië, Australië en Letland ingevoer. In die vorige seisoen het Suid-Afrika 210 000 ton van Rusland af ingevoer.

Afhangend van die gehaltegraad wat benodig word, kan Suid-Afrika koring van heelwat lande af invoer. Rusland en Oekraïne is sulke groot rol spelers in die internasionale koringmark dat die huidige oorlog wêreldpryse beïnvloed, en sodoende ook invoerpryse vir Suid‑Afrika. Dit beteken dat koring teen hoë pryse kan verhandel, tot nadeel van die Suid-Afrikaanse verbruiker. Internasionale koringpryse het in 2022 tot en met 68% gestyg, voordat dit weer effens teruggesak het. Hierdie pryse was selfs hoër as die koringpryse tydens die finansiële krisis in 2008.

Volgens die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) se nuutste vraag- en aanbodskattings, behoort Suid-Afrika 1,475 miljoen ton koring vir die 2021‑’22‑seisoen in te voer, wat vanaf Oktober verlede jaar tot in September vanjaar sal strek. Die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdienste (SAGIS) se getalle dui sover op 662 826 ton se invoere.

 

Die oorlog en SA invoere

Suid-Afrika voer ʼn wye verskeidenheid graan in. Dit is wel nie noodwendig in graanvorm nie, maar in verwerkte vorm, waarna verwys word as graanprodukte. Hierdie produkte is kommoditeite soos sonneblomolie en -meel, wat hoofsaaklik van Bulgarye en die res van Asië (ROA) afkomstig is.

Sojaboonolie en -meel en grondboontjie-olie en -botter kom hoofsaaklik van Argentinië. Daar is ʼn  moontlikheid dat Suid-Afrika mettertyd genoeg sal produseer om aan plaaslike verbruik te voldoen. ʼn Voorbeeld hiervan is sojabone.

 

Die oorlog en internasionale graanpryse

Daar word verwag dat internasionale pryse weens graan- en oliesaadvoorraadontwrigtings in die oorloggebied vir ʼn wyle hoog gaan bly. Die Amerikaanse oes gaan derhalwe ʼn groot impak op wêreldvoorraad en -pryse hê.

Dié land se sojaboon- en mielieplantseisoen begin in Aprilmaand en die oes gaan baie sensitief oor die weersomstandighede wees, wat die vordering en gehalte van die oes sal beïnvloed. Dit geld veral vir sojabone weens droogtetoestande in Suid-Amerika wat tot groot verliese gelei het.

Koringpryse was in ʼn onbekende omgewing met rekordpryse wat behaal is, maar dit het onlangs afgekoel.

 

Plaaslike fokus

Die huidige oorlog en onsekerheid in die wêreld het die belangrikheid van plaaslike volhoubaarheid in die kollig geplaas.

Dit is ook belangrik om te noem dat dit nie net graan en oliesade is wat op rekordvlakke verhandel nie. Die prys van energie en insette soos olie, kunsmis en landbouchemikalieë  is tans ook baie hoog en daarbenewens beïnvloed energiekoste die ander landbouinsetkoste.

Verder het ʼn toename in energiekoste in sommige gevalle ʼn groter invloed op voedselinflasie as ʼn  toename in kommoditeitspryse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marthinus

Kan ons as BRICS-land nie dalk n goeie prys met Rusland onderhandel nie? Indie het bv n 25% afslag op olie met Rusland geonderhandel.