Talle knelpunte vir Mboweni se eerste mediumtermyn-begroting

Pres. Cyril Ramaphosa skud blad met die nuutaangestelde minister van finansies, Tito Mboweni. Mboweni het slegs twee weke gehad om vir die mediumtermyn-begroting voor te berei. Foto: Phando Jikelo/African News Agency(ANA)

Die kans dat Tito Mboweni, die minister van finansies, vir die 77-jarige oom Koos Benade, ʼn pensioenaris van Sunnyside, gaan ken, is waarskynlik minder as een uit ʼn miljoen. Tog het dié twee mans een gemeenskaplike mikpunt – die mediumtermynbegrotingsraamwerk wat Woensdag gelewer word.

Vir oom Koos gaan die begroting oor een aspek, naamlik die mikro-ekonomie. Sy pensioen, waarvoor hy voorsiening gemaak het, strek net so ver en nie verder nie. En hy erken hy is vuisvoos.

“So kan dit nie aangaan nie,” sê hy.

Dus is een van sy gunstelingtydverdrywe juis om weekliks die spesiale aanbiedinge in ʼn gratis gemeenskapskoerant wat in Pretoria versprei word, te bestudeer.

“Met my pensioen moet jy versigtig wees. Jy probeer maar om specials te soek. So rek jy jou rande,” vertel hy.

Hy kan ʼn lekker gesprek oor die ekonomie opsteek. Sy bron van inligting is Geldsake op RSG. En hy is bewus van die markwoelinge, stygende ruoliepryse en ander markskokke.

Uit sy pensioen moet hy ook voorsiening maak vir mediese kostes. Sy vervoer is grootliks per privaat taxi of Tshwane se busdiens. Hy knyp ook op uitspattighede sodat hy homself een keer per maand (op pensioenarisdag) met ʼn middagete by ʼn Spur kan bederf.

In Sunnyside is daar ʼn Shoprite, Pick n Pay en Checkers waar hy inkopies doen. Hy hou pryse met ʼn arendsoog dop. Af en toe sal hy by die naaste KitKat-winkel gaan inloer vir winskopies.

Oom Koos se wens is dat Mboweni se toespraak vuisvoos-verbruikers soos hy verligting kan gee. Hy meen dat die minister ernstige aandag moet gee aan knaende kwessies soos hoër brandstofpryse en belasting.

“Dit kan meer geld in ons sakke sit. Dit is duidelik dat die regering heelwat geld vermors,” sê hy.

Of Mboweni die mikrokwessies gaan dek in sy toespraak, sal ons maar mettertyd moet uitvind.

Die bestuurshoof van Canon Asset Managers, dr. Adrian Saville, sê die begrotingstoespraak gaan een van die belangrikste wees in Suid-Afrika se geskiedenis gegewe die swak ekonomiese vooruitsig, die gedempte fiskale posisie van die land en verdere kommer oor kredietgraderings en belastingsverhogings.

Saville sê dit is onwaarskynlik dat Mboweni enige daadwerklike beleidsveranderinge in die toespraak sal aankondig. Hy glo dié toespraak sal wel gebruik word om hindernisse wat die ekonomie in die gesig staar, uit te wys.

Saville voeg by dat Mboweni waarskynlik ʼn paadjie sal wil baan om die hindernisse uit die weg te ruim en die ekonomie op ʼn aanvaarbare groeikoers sal wil kry.

Hy waarsku dat om ʼn groeikoers van 3% te kry, die land ten minste beleggings gelykstaande aan 30% van bruto binnelandse produk (BBP) sal moet insamel.

“Tans is ons beleggingsinkomste net twee derdes van wat vereis word.”

Dié lae beleggingskoers beteken dat die regering nie net plaaslike beleggers sal moet paai met groter beleidsekerheid nie, maar ook buitelandse kapitaal sal moet lok deur kredietgraderingsmaatskappye tevrede te stel. Hy sê die begroting sal getuienis lewer oor watter ekonomiese rigting die land gaan inslaan.

Volgens Saville is dit duidelik dat daar vyf knelpunte is waaraan Mboweni aandag sal moet gee. Dit is die lae ekonomiese groei, en ʼn beter belastingsstelsel omdat die insameling hiervan afgeneem het weens die pap ekonomie.

“Die regering se stygende skuldvlakke sal ook onder die loep geneem moet word. Dit en die regering se begrotingstekort is problematies vir graderingsmaatskappye.

Die ander knelpunt wat Saville identifiseer, is die stand van staatsbeheerde ondernemings (SBO) Maree ontleed die kostefaktor verder. Hy sê dat wat verbruikers ook nie moet vergeet nie, is dat kunsmis en chemiese middels se pryse ook gekoppel is aan die olieprys, want dit is neweprodukte van die proses. ’n Styging in die olieprys laat ook kunsmispryse toeneem. Hy sê die geraamde 55%-skuld-tot-BBP-ratio verskuil die bykomende 15% wat die regering as waarborg aan SBO’s gegee het.

“Graderingsmaatskappye sal dus kyk na pragmatiese aksie wat beplan word ten opsigte van Eskom, die poskantoor, die SAUK en SAL om huidige tekorte uit te wis, hul gesondheid te herstel en hul balansstate positief te kry.”

Saville se maatskaplike kwessies sal ook aandag moet kry. Van die sosiale kwessies wat syns insiens oorbrug moet word, is die grondbeleid, werkloosheid en onderwys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

2 punte: Die stand van SA ekonomie kan in een sin opgesom word: Hopeloos teveel mense kry hopeloos teveel geld vir hopeloos te min werk. En………jy kan jouself nie uit die skuld uit LEEN nie………jy moet jouself uit die skuld uit werk, en dit nie weer doen nie. Eenvoudig…

wilma ·

Wat is die korrekte spelling vir ‘n persoon wat pensioen trek? Pensioenaris/Pensionaris?

Dankie.

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Wilma

Dankie vir jou navraag. Die korrekte spelling is pensioenaris en ons het seker gemaak die regte woord word in die berig gebruik.

Groetnis
Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.