Tongaat Hulett finansiële state hersien

tongaat-hulett

Foto: Tongaat.co.za

Een van die eens gesogte keuraandele op die Johannesburgse Effektebeurs (JE), Tongaat Hulett is in troebel water. Die maatskappy gaan binnekort se boeke moet laat hersien weens ’n moontlike gekonkel met sy finansiële state. Dit is die jongste korporatiewe storm wat die Johannesburgse mark geskud het.

Kenners op die JE sê die skandaal waarin Tongaat betrokke geraak het, mag dalk ’n mini-Steinhoff-debakel wees.

Vrydagmiddag se aankondiging deur Tongaat was die jongste wat die mark geruk het. Tongaat waarsku dat die hersiening van sy 2018-finansiële state mag toon die groep se resultate vir dié jaar is met R4,5 miljard vergroot.

Die groep sê dat sy finansiële state forensies nagegaan word en dat hy nou op die uitslae en bevindinge van die verslag wag.

Volgens die groep sal die hersiening van sy 2019- en 2018-finansiële state waarskynlik teen Oktober afgehandel word.

Tongaat, wat in ʼn stadium deur Anglo American beheer is weens Anglo American Industrial Corporation se belang in die maatskappy, het beurs-swaargewigte soos Chris Saunders opgelewer. Sy belang het aluminium en suiker ingesluit.

Die groep sê dat strategiese en finansiële hersiening kommer gewek het.

Die maatskappy, wat in ’n stadium onder die JE se beste aandele getel het, is grootliks deur nuwe boekhouregulasies, oop markte en slapper tariefsvoorsiening, veral in die suikerbedryf gestonk.

Die nuwe bestuurshoof, Gavin Hudson, het aangekondig dat die boeke hersien sal word. Gerugte oor ongerymdhede het die groep se aandeelprys kwaai laat versleg.

Tongaat se aandeelprys het vir die jaar tot op hede met bykans 70% geval. Die eens beursgunsteling het Vrydag teen R10,70 per aandeel gesluit.

Intussen het Tongaat aangekondig dat hy 5 000 werkers se poste gaan afskaal om die maatskappy te herstruktureer. Die maatskappy sê dat die suikerbedryf sy eie uitdagings bied terwyl sy skuldlas daadwerklik aandag moet geniet.

In nog ’n ontwikkeling het die KZN se LUR vir ekonomiese ontwikkeling Nomusa Dube-Ncube samesprekings met Tongaat gehou om poste te red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos ·

Is dit nie maar het die gevolg van onvolhoubare werkers eise en regering beleid nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.