Tribunaal sê Sibanye en Lonmin mag saamsmelt

Die Beatrix-myn. Foto: Sibanye-Stillwater

Die Mededingingstribunaal het die groen lig gegee vir Sibyane-Stillwater se voorgestelde oorname van die sukkelende Lonmin-maatskappy, onderworpe aan spesifieke voorwaardes.

Sibyane-Stillwater, wat goud en platimungroepmetale (PGM’e) in Suid-Afrika en die VSA ontgin, het in Desember R5,17 miljard vir Lonmin aangebied.

Die Mededingingskommissie het in September die groen lig gegee dat Sibanye en Lonmin mag saamsmelt en het aanbeveel dat die Mededingingstribunaal, die regulatoriese liggaam wat finale goedkeuring vir groot samesmeltings in Suid-Afrika gee, ook die oorname goedkeur.

Die kommissie het die tribunaal ook aangeraai om die ooreenkoms aan spesifieke voorwaardes te onderwerp, insluitend die versagting van die negatiewe impak van werksverliese op meer as 3 000 werknemers wat waarskynlik afgedank sal word.

Benewens die voorwaardes waarop tussen Sibanye-Stillwater en die Mededingingskommissie ooreengekom is, is ʼn moratorium op afleggings by Lonmin-bedrywighede ingestel vir ʼn tydperk van ses maande vanaf die implementeringsdatum.

Dit sluit egter enige vrywillige skeidingspakette en gewone verloop van beëindigings uit en verhoed nie dat Sibanye ʼn proses ingevolge artikel 189 van die Wet op Arbeidsverhoudinge mag begin nie, solank sodanige verrigtinge nie ses maande voor die implementering van die transaksie afgehandel word nie.

Sibanye het ook reeds ingestem om Lonmin se huidige en toekomstige maatskaplike en arbeidsplanne te erken soos ooreengekom met die departement van minerale hulpbronne, asook die ooreenkomste wat tans met die Bapo ba Mogale-gemeenskap van toepassing is.

Neal Froneman, uitvoerende hoof van Sibanye, het gesê hulle glo die voorwaardes vir goedkeuring van die ooreenkoms was “billik, redelik en in die beste belang van al die rolspelers”.

“Ons is vol vertroue dat die integrasie van Lonmin se PGM-bates en Sibanye-Stillwater se aangrensende PGM-bedrywighede ʼn meer volhoubare en positiewe toekoms vir hierdie bates sal verseker en groter stabiliteit in die streek sal bring.

“Ek wil ook graag die kommissie en tribunaal loof vir hul omvattende en pragmatiese benadering, met [die argumente van] alle belanghebbendes wat behoorlike oorweging gekry het. Dit het ʼn regverdige en oordeelkundige uitkoms verseker wat Sibanye-Stillwater se verbintenis tot die Suid-Afrikaanse mynbousektor erken en die voordele wat alle belanghebbendes sal kry.”

Die transaksie bly onderworpe aan die voldoening of afstanddoening van die voorwaardes waaronder die goedkeuring van Lonmin- en Sibanye-aandeelhouers en die howe van Engeland en Wallis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.