TymeBank kry Foschini-baadjie

(Foto: Tymebank.co.za)

Die digitale bank TymeBank het sy skoene onder die Foschini-groep (TFG) se bed ingeskop en hoop om munt te slaan uit dié kleregroep se sowat 26 miljoen Suid-Afrikaanse klante.

TymeBank word besit deur African Rainbow Capital (ARC), die beleggingshouermaatskappy wat deur die sakemagnaat dr. Patrice Motsepe op die been gebring is. TFG besit onder meer Foschini, American Swiss, @home, Totalsports en Sportscene.

TFG het Jet vroeër by Edcon gekoop in ’n transaksie ten bedrae van R480 miljoen, wat in September verlede jaar afgehandel is. Jet bied aan TFG toegang tot die laeinkomstegroep wat voorheen nie bereik is nie. Die groep meen die 345 Jet-vlagskipwinkels hou ’n markgeleentheid van meer as R12 miljard in.

“TFG het van Suid-Afrika se gewildste en mees gevestigde verbruikershandelsmerke in sy hangkas en is bekend vir sy kleinhandelkrag en sterk klantgerigtheid. Ons is baie opgewonde om dié strategiese vennootskap te kon sluit en só ons vastrapplek verder te vergroot,” het Tauriq Keraan, uitvoerende hoof van TymeBank, gesê.

Volgens Keraan is TymeBank se aanbod enersyds daarop gemik om bekostigbare bankdienste te bied en andersyds om ’n beter bankdienservaring te verseker. Die diversifisering én vergroting van sy kliëntebasis geniet voorkeur met die mikpunt om meer voete uit die middelinkomstegroep asook dié wat bo die gemiddelde kerf lê, deur sy kuberdeure te laat stroom.

Anthony Thunström, uitvoerende hoof van TFG, het op sy beurt gesê die vennootskap met TymeBank maak sin, omdat dié bank as een van die snelgroeiendste digitale banke ter wêreld geag word.

“TymeBank se kundigheid in die bestuur van ’n digitale ekostelselplatform asook verwante produkte en dienste voeg baie waarde toe, en ek glo dat TFG se klante by ’n verrykte en verbeterde winkelervaring sal baat vind.”

TymeBank spog met sowat 3,8 miljoen kliënte en voeg maandeliks sowat 110 000 mense by wat dié nuwe manier van banksake doen omarm.

Die vennootskap tussen TymeBank en TFG ontsluit ’n laai vol finansiële produkte en dienste wat versekering- en termynleningsprodukte insluit. Meer as 600 kiosks sal in TFG-winkels opgerig word en klante in staat stel om op ’n bekostigbare en maklike manier sake soos elektrisiteitbetaling en geldoorplasing te doen.

TFG-klante sal ook baat vind by TymeBank se “koop nou, betaal later”-produk, genaamd MoreTyme, wat ’n alternatiewe, rentevrye betaalopsie oor drie maande bied.

Volgens Keraan sal MoreTyme in November aanvanklik in Jet-winkels uitgerol word, terwyl klante teen 2022 in die res van die groep se winkels hieruit kan munt slaan.

Die diens maak dit moontlik om items by deelnemende handelaars te koop, slegs die helfte van die bedrag ten tyde van die aankoop te betaal en steeds die gekoopte item dieselfde dag huis toe te neem. Die balans van die aankoop is rentevry oor die volgende twee maande betaalbaar.

TymeBank het reeds ’n voet in die deur in meer as 700 Pick n Pay- en Boxer-winkels en het ook ’n vennootskap met een van die vasteland se grootste kerkgroepe, die Zion Christian Church (ZCC), gesluit. ZCC het meer as 12 miljoen kerkgangers as deel van sy lidmaatskap, waarvan 9 miljoen in Suid-Afrika woon en sowat 4 miljoen jaarliks die pelgrimstog na Moria in Limpopo onderneem.

TymeBank het in 2020 die tweede plek op die podium beklee op Forbes se lys van die beste banke in Suid-Afrika. Dié lys, wat in samewerking met die navorsingsgroep Statista opgestel is en meer as 40 000 kliënte in 23 lande oor hul bankervaring uitgevra het, sluit ook Capitec (in die eerste posisie), FNB (derde) en Nedbank (vierde) in.

TymeBank het in April verlede jaar die R1 miljard-kerf in deposito’s bereik. Volgens die groep bly die groei in deposito’s sterk en troef dit die vooruitskouings wat sy sakeplan ingesluit is.

TFG het die afgelope tyd 71 nuwe winkels in Suid-Afrika geopen en 29 gesluit. TFG Africa spog met meer as 2 500 winkels, terwyl die groep se totale getal winkels wêreldwyd op sowat 4 600 staan.

Die groep het boonop sy plaaslike klerevervaardigingsbeen die afgelope week uitgebrei met die opening van ’n nuwe Prestige Clothing-fabriek in Hillbrow, wat spesifiek op werkskepping vir gehoorgestremdes gerig is.

TFG het reeds drie Prestige Clothing-fabrieke in die Wes-Kaap en een in KwaZulu-Natal, en sê die nuwe fabriek is ’n bewys van die groep se verbintenis tot werkskepping en om die plaaslike vervaardigingsektor ’n broodnodige hupstoot te gee.

Dié sakebeen bied sowat 2 470 vaste werkgeleenthede. Ofskoon bykans 80% van die groepaankope vyf jaar gelede nog van die Ooste afkomstig was, word 37% van sy produkte nou plaaslik vervaardig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hardekwas ·

Baie dankie vir die artikel. Nou weet ek ek en my familie waar om nié weer inkopies te gaan doen nie.

Mallie ·

Ek sal graag wil weet waar dr. Patrice Motsepe sy miljoene gekry of gemaak het. Daar is skielik so baie miljardere in Suid Afrika dat ons nie meer kop of stert uitmaak van die spul nie. Hulle moet net nie dat Malema daarvan uitvind nie, want as hy president word gaan hulle baie belasting betaal.

Wanda ·

Ek is baie gelukkig by Tymebank. Betaal maar R10 bankkostes n maand net omdat ek geld trek en my salaris is n dag vroeer in. Geen probleme met hulle nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.