Verbruikers­besteding, -vertroue verkeer toenemend onder druk

verkope-koop-aankope

Foto: Rawpixel/Unsplash.com

Suid-Afrikaanse verbruikers is vasgevang in ’n knyptang van skerp prysstygings en stygende skuldvlakke. En kenners waarsku dat dit niks goed inhou vir die ekonomie nie.

’n Ekonoom en skuldberader het hul kommer uitgespreek oor die huidige lot wat verbruikers in die gesig staar. Hulle wys daarop dat toestande al moeiliker vir verbruikers word, wat weer verbruiksbesteding strem en dit uiteraard op die ekonomie deursypel.

Neil Roets, die bestuurshoof van Debt Rescue, sê die impak van lewenskostes op verbruikers affekteer hulle van alle kante, met elektrisiteit wat 14% gestyg het, en brandstof wat al met meer as R2 per liter opgegaan het sedert die begin van die jaar.

“Brandstof het natuurlik nie net ’n direkte impak op persoonlike vervoeruitgawes nie, maar ook indirek op die koste van goedere wat per pad vervoer word. En dit kan inflasie aanblaas wat tot hoër rentekoerse kan lei,” het hy gesê.

Roets wys daarop dat, behalwe vir die administratiewe prysstygings wat deur die staat gehef word, daar ander stygings is waarmee verbruikers sal moet stoei.

Gevolglik sê hy daar is beslis ’n groot toename in verbruikers wat hulp soek vir hul skuldprobleme.

“Die huidige ekonomiese situasie plaas groot druk op verbruikers se begrotings en hulle soek na hulp in die vorm van skuldberading om hul skuld terug te betaal, terwyl hulle hul lewenskostes kan betaal, en hulself van regsaksie kan beskerm,” het hy bygevoeg.

Volgens Roets het Debt Rescue ’n dramatiese toename in aansoeke vir skuldberading sover vanjaar gesien.

Hy sê finansieel is verbruikers onder baie druk om al hul uitgawes en skulde te kan dek, en daarom doen meer mense navraag en aansoek om skuldberading.

Roets het bygevoeg die grootste faktor wat skuldberaders tans sien wat ’n impak het op verbruikers se lewenskostes, is die heffings wat in die begroting aangekondig is.

“Dit plaas druk op verbruikers. Verbruikers sukkel om kop bo water te hou tussen lewenskostes en skuld, en salarisse verhoog nie in ooreenstemming met die verhoging in uitgawes nie,” het Roets gesê.

Elize Kruger, ’n senior ekonoom by NKC Research, sê dat die huidige ontwikkelinge rakende prysstygings en verbruikers juis verbruikersentiment gaan benadeel, en dit is nie goed vir die ekonomie nie.

Verbruikersbesteding was een van die groot steunpilare van ekonomiese groeiverlede jaar.

Kruger sê verbruikers is toenemend onder druk as gevolg van hoër brandstofpryse, ’n hoër belastinglas (onder meer, persoonlike inkomstebelasting en ook die brandstofheffings), beurtkrag en ’n lae ekonomiese groeitrajek wat werkgeleenthede bedreig.

“Dit is dus geen verrassing dat verbruikersvertroue laag bly en dat verbruikers baie konserwatief te werk gaan met hul geld en spandering nie,” het sy gesê.

Kruger het bygevoeg dat daar ook verbruikers is wat hul na meer krediet wend om kop bo water te hou, wat uiteraard risiko’s inhou vir die ekonomie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gerhardt O ·

Ek kan jaar net die beaam wat die ekonome se. Dinge lyk sleg.

Wielspore ·

Gedurende 1989 het ek die eerste keer huis gekoop en rentekoerse het omtrent elke derde maand gestyg. In daardie tyd het ekonome ‘n donker prentjie vir SA geskilder agv die hoë skuldvlak van Suid Afrikaners. Net daarna het die ekonomie gedraai en verligting gebring vir verbruikers.
Met alle respek teenoor die skrywer van die berig wil ek die vraag vra, tussen die getal van 1 en 10, met 1 as die minste moontlikheid en 10 as die mees waarskynlikste. Wat is die kans dat dit wat in die berig staan wel waar gaan word.
Na my mening sal dit ‘n 2 gee.

Johanna Botha ·

Die anc se heeltyd dom goed wat belegers wegjaag die Rand verswak duurder petrol duurder kos …maar ons leer nie anc sal ons bly stem !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.