Verbruikersentiment steeds op lae vlakke

kredietkaart-geld-inkopies

Foto: Jarmoluk/Pixabay.com

Suid-Afrikaanse verbruikers is vuisvoos en tam. Volgens ekonome weerspieël dit nou nie net in kleinhandelaandele soos Shoprite-Checkers, Massmart en Mr Price nie. Die swakheid het ook nou oorgespoel na die produksiekant waar verbruikersgoedere ’n afname in vraag getoon het.

AVI wat, onder meer, Bakers-beskuit, Vyf Rose Tee, Douwe Egbert-koffie, Koffiehuis, Willard-skyfies, Provita en I&J produseer en verskaf, het Vrydag gewaarsku dat sy wins vir die tussentydse periode tot einde Desember met om en by 7% sal daal. Hy het bygevoeg dat die verkope nie juis ’n oplewing getoon het nie.

AVI het aangekondig dat verkope in 2018 laer was in die ooreenstemmende periode ’n jaar vroeër. Die maatskappy het bygevoeg dat bedryfwins ook laer was.

Die maatskappy sê dat verbruikersentiment steeds op lae vlakke is en dat moeilike tye vir voedselprodusente voorlê. Ontleders sê dat die verswakking in verbruikersentiment op ’n taai stryd vir verbruikers dui wat met dalende verbruikersbesteding sukkel.

Ekonome met wie Maroela Media voorheen gepraat het, het die swak posisie waarin verbruikers hul bevind, toegeskryf aan die verhoging in belasting op toegevoegde waarde (BTW) verlede jaar, die skerp styging in brandstofpryse gedurende die tweede helfte van 2018 en sentiment wat deur politieke retoriek gewurg is.

Elize Kruger, ’n senior ekonoom by NKC Research, sê dat ofskoon daar ’n verskil is tussen kleinhandelaars se verkoopsyfers en Statistiek Suid-Afrika se kleinhandelgegewens in November – wat die Swart Vrydag-verkoopsfees insluit – verskille wel weens die tydfaktor kan opduik.

Sy wys daarop dat maatskappye se syfers vir ’n kwartaal of tussentydse periode is, terwyl die statistiek net ’n blik op een maand gee.

Ná die uitreiking van sy waarskuwing, het AVI se aandeelpryse met bykans 9% tot R95,45 gedaal.

Ander handelsmerke wat in die AVI-stal val, sluit in Yardley of London-parfuum, Kurt Geiger-modes en Green Cross-skoene.

Volgens AVI was handelstoestande besonder moeilik.

“Druk op verbruikersbesteding het in laer verkoopsvolume in baie van ons ondernemings gelei. Dit is vererger deur mededingers wat in sommige kategorieë hul pryse verlaag het,” het die maatskappy gesê.

Volgens markkenners is die vooruitsig vir verbruikers-gefokusde maatskappye besonder stram omdat verbruikers onder druk is. Ander bykomende faktore wat uitgewys is as remskoen vir verbruikersbesteding, sluit in die rentekoersverhoging in November, hoë administratiewe kostes en die steeds stygende werkloosheidsyfer.

Intussen het Suid-Afrika se grootste selfoonnetwerk Vodacom gesê dat hy gedurende die drie maande tot einde Desember 86 000 kontrakklante bygekry het. Dit was in teenstelling met 337 000 voorafbetaalde klante wat verloor is.

Vodacom skryf dit toe aan sy prosedure om die eenmalige gebruik van SIM-kaarte hok te slaan.

“Groei in die voorafbetaalde mark was egter sterk,” het die maatskappy bygevoeg.

Die maatskappy sê met dié stap het sy totale kliëntebasis in Suid-Afrika met 0,6% verswak. Die kliëntegroei in ander lande waar die maatskappy sake doen, het egter verseker dat sy totale kliëntebasis tot 79 miljoen uitgebrei het.

Vodacom se omsetsyfers is egter beduiwel deurdat hy nuwe rekeningkundige reëls gevolg het. Hiervolgens het sy omset in die Desemberkwartaal R22,2 miljard beloop, wat laer was as die vorige jaar se R22,6 miljard.

Onder die ou reëls sou sy omset R23 miljard beloop het, wat 1,55% hoër was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gemaskderde Sopbeen ·

Verbruikers is net tam waar dit kom by die “middelmanne” wat sulke enorme winsgrense maak….Die boer kry R4/liter vir sy melk…en Spar verkoop dit vir R23/liter. Die boer kry R17,80/kg op die hoef vir sy beesvleis…en Pik en Betaal verkoop dit vir R119/kg. Jy sal nie glo wat met hierdie ekonomie sal gebeur as jy AL hierdie “wins-nemers” uit die prentjie haal nie………..Gaan soek daai “specials”……maar as jy te lui is en net wil kla….bly koop by die groot Supermarkte!!! Hulle vreet jou geld….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.