Versekeringsmaatskappy bly beste in bedryf vir derde jaar

virseker-is-nommer-een

Grafika: Virseker se Facebook-blad.

Virseker is vir die derde agtereenvolgende jaar as toppresteerder by die Suid-Afrikaanse verbruikerstevredenheidsindeks (SA-csi) aangewys en is erken vir die lewering van ʼn klasleidende ervaring in verbruikerstevredenheid.

Die SA-csi wat jaarliks deur die navorsingsfirma, Consulta, uitgevoer word, bied objektiewe en statisties akkurate insae in verbruikersdienstendense binne die Suid-Afrikaanse korttermynversekeringsbedryf. Die SA-csi is gegrond in ʼn akademiese model wat deur verskeie markte wêreldwyd aangeneem is. Dié model smelt verbruikersverwagtings, waargenome gehalte en waargenome waarde saam om uiteindelik ʼn telling uit 100 te verkry.

Volgens die mees onlangse SA-csi-uitslae het verbruikers ʼn gemiddelde tevredenheidstelling van 80.0 uit 100 aan die korttermynversekeringsbedryf toegeken.

Virseker het ʼn punt van 83.2 behaal – ʼn verbetering op hul 2018-telling van 80.7 – wat die maatskappy die toppresteerder vir die derde jaar agtereenvolgens gemaak het. Virseker het die beste presteer in waargenome gehalte, asook waargenome waarde vir geld in 2019 en het ook die voortou geneem in die afdeling vir regverdige behandeling van kliënte. Virseker se kliënte het ook die sterkste lojaliteit teenoor die handelsmerk getoon en het aangedui dat hulle die versekeraar vir hulle familie en vriende sal aanbeveel.

“Ons voel geëerd deur hierdie toekenning en is innig dankbaar daarvoor. Om dit vir die derde jaar agtereenvolgens te ontvang maak dit ekstra spesiaal, want dit wys dat ons nie net ons belofte van ʼn eersteklas-kliënte-ervaring en goeie waarde vir geld nakom nie, maar dat ons dit jaarliks konsekwent handhaaf. Ons bedank elkeen van ons gewaardeerde kliënte vir hulle terugvoer in die SA-csi-navorsing, asook vir hulle onwrikbare ondersteuning,” het Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker, gesê.

Faktore wat bygedra het tot die tevredenheid onder Virseker-kliënte was die handelsmerk se vermoë om gemoedsrus te bied, beloftes na te kom en kundige konsultante asook maklik verstaanbare produkte te hê.

Virseker is in 2011 in die lewe geroep vir Suid-Afrika se Afrikaanssprekende gemeenskap. Tesame met die aanbieding van gehalteversekeringsprodukte word ʼn persentasie van Virseker-polishouers se premies in die Virseker Trust geplaas en dan toegeken aan verdienstelike inisiatiewe, na aan die hart van die Afrikaanssprekende gemeenskap. Tot op hede is meer as R58 miljoen ingesamel en geskenk aan onder andere Akademia, ad hoc-beurse, die Vereniging van Afrikaanse Wiskunde- (VAW-)onderwysers en, mees onlangs, Covid-19-verligtingsprojekte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Abie ·

Hou op om negatief te wees! Waarom gaan jy dan nie na nommer hoeveel op die ranglys wat dan “meer beskostigbaar” is nie? As jy met die tweede of tiende beste tevrede is, kan jy by hulle aansluit….jy het ‘n keuse. Gaan kyk gerus na wat Virseker met hulle “winste” doen – dis nie daar bloot om die aandeelhouers te verryk nie, maar dien die Afrikaanse gemeenskap op vele ( finansiële) maniere. Ek verstaan nie mense soos jy nie…..kla oor alles, Glas is altyd half leeg ipv half vol….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.