Video: Onteiening, beslaglegging en die waarde van eiendom

(Grafika: Sakeliga)

Deur Tian Alberts

Die sakeorganisasie Sakeliga het Dinsdag ʼn regstreekse paneelgesprek op sy Facebook-blad gehou, waartydens verskeie brandpunte rakende die omstrede Onteieningswetsontwerp en wysigings aan artikel 25 van die Grondwet bespreek is.

Dit volg ná twee sterk parlementêre voorleggings deur Sakeliga tydens onlangse openbare verhore. Verskeie kwessies wat Sakeliga tydens sy voorlegging uitgelig het, is verder onder die loep geneem. Die deelnemers by hierdie geleentheid was Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, prof. Koos Malan, professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria, en Martin van Staden, regsgenoot by Sakeliga.

Van Staden se kommentaar het ag geslaan op die verskynsel van fraus legis – ʼn wanvoorstelling in die reg met die oog daarop om die reg self te bedrieg en die werking van die reg te verydel. In die konteks van onteiening sonder vergoeding kom dit daarop neer: Indien die parlement besluit om voort te gaan met die wysiging van die Grondwet om sogenaamde “onteiening sonder vergoeding” moontlik te maak, sal dit ʼn handeling in fraudem legis wees, aangesien onteiening en vergoeding onskeidbaar is en onteiening teen “nul waarde” eintlik neerkom op beslaglegging of verbeurdverklaring van bates. Met ander woorde, wanneer sogenaamde “onteiening sonder vergoeding” ter sprake is, is dit eintlik die verbeurdverklaring van bates aan die staat onder die dekmantel van die term “onteiening”, wat nog altyd met vergoeding gepaard gegaan het.

Die parlement sou op hierdie trant onder die vaandel van ʼn onaanvegbare begrip van “onteiening” juis ʼn aanvegbare, onkonstitusionele beginsel – beslaglegging van wettige eienaars se grond – tot die Grondwet bywerk.

Daar word sodoende wegbeweeg van onteiening in die korrekte sin daarvan, na die domein van bateverbeuring soos waar die staat tipies beslag lê op bates wat tydens ʼn misdaad aangewend is. Dit beteken indien die Grondwet gewysig word om voorsiening te maak vir sogenaamde onteiening sonder vergoeding, word die wysiging besmet deur bedrog. Dit is, ipso facto, ongeldig.

Konstitusionaliste van alle strepe uit die burgerlike samelewing, hier en in die buiteland, moet die wysiging teenstaan en onverpoos daaraan werk om dit te herroep, asook om grondwetlike legitimiteit te herstel.

Malan het deurlopend geargumenteer dat die voorgestelde wysiging van die Grondwet indruis teen die fundamentele idee van konstitusionalisme, want dit doen weg met die waarde van burgerskap deurdat mense gereduseer word tot onderdane van die staat wat tevrede moet wees met die staat se ongebreidelde mag.

“Jy kan enige optrede bestempel met ʼn aangenaam klinkende etiket … maar die parlement wat dit in die eerste plek deurgevoer het, het eintlik afbreuk gedoen aan die inherente aard van die konstitusie op sigself,” meen Malan. “In vorm kan dit nog ʼn konstitusie wees, maar in wese is dit iets anders.”

Malan beklemtoon aangesien die Grondwet juis weggedoen het met die beginsel van parlementêre soewereiniteit in die 1990’s, sal die aanvaarding van onteiening sonder vergoeding, selfs met ʼn tweederdemeerderheidstem in die parlement, inherent onkonstitusioneel wees omdat dit wegdoen met die fundamentele uitgangspunte van ʼn regstaat en konstitusionalisme.

Die deelnemers was dit eens vanweë georganiseerde burgerlike teenstand teen onteiening sonder vergoeding wat oor demografiese grense heen strek, asook vanweë uitbundige ekonomiese werklikhede sal die regering nie so ʼn grondwetlike wysiging kan instel nie.

“Die punt is ons moet nie dink dat al die mag by die regering lê om ingevolge ʼn grondwetlike wysiging te doen wat hy wil nie. Mag is verspreid oor die hele gemeenskap heen,” sê Malan.

Ter samevatting het Le Roux daarop gewys dat die konstitusionele praktyk altyd meer weeg as die onkonstitusionele teks, en dat die burgerlike samelewing nie in enige omstandighede onteiening sonder vergoeding, oftewel beslaglegging van bates, as praktyk in ons konstitusionele bestel sal aanvaar nie. ʼn Wysiging van die Grondwet wat die weg baan na onwettige onteiening sal op alle wettige maniere teengestaan word.

  • Kyk die video van die paneelgesprek hier:

Kyk hier na Sakeliga se voorleggings by die parlement oor die voorgestelde wysiging van die Grondwet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Wie die grootste kattekwaad kan aanvang sal bepaal wie die stryd tussen CR en ACE sal wen, Ace het in Kuba geboer… groot staatsgeld verkwansel om daar kers te gaan opsteek. ‘n Totaal nuwe bedeling word beplan nie net nuwe drukkersink vir die staatsdrukkery se geldfabriek nie. Wie die mooiste van die twee is se gesig sal dan ook op die noot verskyn. Hou my vas!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.