Vooruitsigte op JSE kry ’n hupstoot

Johannesburgse Aandelebeurs (JSE). Argieffoto.

Vooruitsigte vir die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) het ’n hupstoot gekry nadat dit in die eerste kwartaal van vanjaar vir die eerste keer in 12 jaar in die eerste kwartaal verstewig het. Die indeks van alle aandele het in die tydperk met 7% gestyg.

Dawie Klopper, die aandelemakelaar by PSG Wealth, meen die weg is gebaan vir ’n goeie jaar op die beurs.

Hy sê Suid-Afrikaanse aandele is tans goedkoop ná die nagmerriejaar wat hulle verlede jaar ondervind het en vertroue kan herstel ná afloop van die algemene verkiesing op 8 Mei. Hy sê ’n verbetering in vertroue kan die mark net ondersteun.

Klopper meen egter dat president Cyril Ramaphosa ná die verkiesing ’n sterk hand moet uitsteek en leiding oor die ekonomie moet neem.

“Plaaslik moet die mark se vertroue in Ramaphosa herstel en hy sal moet sterk leiding begin neem ten opsigte van die ekonomie,” het Klopper bygevoeg.

Verbruikersgerigte-aandele soos Woolworths, Shoprite en Massmart kan dalk sukkel omdat verbruikersbesteding onder druk is. Hy meen prysverhogings soos die nuwe Eskom-tariewe en brandstofprysverhogings vuisvoos-verbruikers net verder tot versigtigheid sal dwing.

“Dit sal ook ’n negatiewe invloed op voedselvervaardigers hê. Vraag na hul produkte kan daal terwyl die mark met goedkoop buitelandse produkte oorvoer word.”

Klopper wys daarop dat konstruksie- en eiendomsaandele ook die gevaar staan om nie te presteer nie. Dit is omdat infrastruktuurbesteding tans laag is en maatskappye soos Basil Red en Group Five onder skuldberading is.

“Eiendomsmaatskappye gaan sukkel met huurders wat trek. Hier is die redes veelvoudig. Edcon is besig om sy winkels af te skaal en beurtkrag slaan klein sake-ondernemings hard,” het hy gesê.

Klopper sê ofskoon hy nie opgewonde is oor goud nie, kan kommoditeitsaandele wel uitblink weens buitelandse faktore wat Brexit, die China-Amerika handelssamesprekinge en wêreld- ekonomiese toestande insluit.

Hy maan egter dat die wêreldekonomie nie juis nou moet stol nie.

“Ons het die afgelope tyd ’n skerp daling in effektekoerse gesien wat dalk op ’n swakker wêreldgroei wys en/of baie lae inflasie – selfs elemente van deflasie, wat baie sleg is,” het hy gesê.

Intussen sê hy Moody’s Investor Services se besluit oor Suid-Afrika se kredietgradering ook markpositief is.

“Markte het ’n afgradering begin inprys en dit lyk nie of dit nou gaan gebeur nie. Eskom sal egter wel gered moet word.”

Klopper sê die JSE is in alle opsigte baie goedkoop veral as jy Naspers en Richemont uitsluit. Naspers het egter eiesoortige kragte wat die maatskappy ondersteun.

“Die feit dat die VSA-opbrengskurwe begin invers, is potensieel ’n gevaarlike ontwikkeling wat nou dopgehou moet word. Indien VSA-aandele afverkoop, kan dit ook ’n impak op Suid-Afrika hê,” het hy bygevoeg.

Andre Botha, die senior valutahandelaar by TreasuryONE, sê dat beter-as-verwagte vervaardigingsgegewens uit China en Amerika risiko-aptyt laat gedy het.

“Die rand het hieruit munt geslaan,” het Botha bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.