Vyf fases van besigheidsgroei

Foto: pixabay.com

Vanaf die oomblik wat jy besluit om ’n besigheid te begin, is jy amptelik in ’n besigheidslewensiklus. Elke fase van dié lewensiklus het sy eie uitdagings en dit is uiters belangrik om te verstaan in watter fase van groei jou kleinsakeonderneming homself bevind. Deur te weet waar jou besigheid in die groeikurwe trek, kan jy bepaal watter ontwikkeling en verandering gedoen moet word om te verseker dat die besigheid se groeitempo voortgesit word. Van die ontstaanjare tot wanneer jou besigheid volwassenheid bereik, is daar ’n drastiese verskil in die behoeftes van elke fase.

Fase 1: Bestaan

Die eerste fase van elke besigheid se lewensiklus is die ontstaan en die voortgesette bestaan van die besigheid. Die grootste probleem wat besighede in dié fase ervaar, is die verkryging van kliënte en die lewering van die produk of dienste wat nodig is vir voortbestaan. Tydens dié fase is die organisasie nog baie eenvoudig – die eienaar wat alles doen en direk met hul werknemers werk. Stelsels en formele beplanning is minimaal of niebestaande. Die hoofstrategie van die besigheid in hierdie fase is om bloot lewend te bly. Besighede in dié fase wissel van pas gestigte restaurante en winkels tot tegnologievervaardigers wat ’n nuwe produk in die mark stoot. Ongelukkig faal baie besighede in hierdie fase van die besigheid, hetsy weens ’n beperkte mark of ander faktore wat dan die eienaar noodsaak om die besigheid te sluit. Volgens ’n onlangse opname deur Startup Genome Report faal sowat 90% van nuwe besighede weens wat die verslag as selfvernietiging klassifiseer. Dit sluit hoofsaaklik faktore in soos slegte besluite deur die eienaars.

Fase 2: Oorlewing

Indien ’n besigheid dit deur fase 1 maak, is die volgende fase van ’n besigheid se ontwikkeling die oorlewingsfase. Teen hierdie tyd het die besigheid bewys dat dit ’n werkbare konsep is en dat die besigheid genoeg kliënte het wat gelukkig is om van die diens of produk gebruik te maak. Die organisasie is steeds baie eenvoudig en het gewoonlik ’n beperkte aantal werknemers wat nie groot besluite onafhanklik neem nie, maar eerder opdragte vanaf die eienaar neem. Stelsels in die besigheid is steeds minimaal en die beplanning behels gewoonlik bloot vooruitskattings vir kontantvloei. Die hoofdoel tydens dié fase van die besigheid is steeds om te oorleef en die eienaar is kern tot die oorlewing. Tydens hierdie fase groei sommige besighede tot fase 3, of ander bly vir ’n baie lang tydperk in dié fase. Uiteindelik gaan van die besighede dood wanneer die eienaar besluit om af te tree of iets anders aan te pak.

Fase 3: Sukses

Die grootste besluit wat eienaars tydens hierdie fase van die bestaan van hul besigheid moet maak, is of hulle die maatskappy se prestasies gaan benut en verder gaan uitbrei, of die maatskappy stabiel gaan hou en vir hulself die geleentheid gee om ander aktiwiteite aan te pak. Teen dié fase is dit duidelik dat die besigheidsmodel van die maatskappy werk en die besigheid kry konstant nuwe besigheid, behou bestaande besigheid en het stelsels in plek. Die maatskappy is waarskynlik groot genoeg om bestuurders oor sekere funksies aan te stel wat voorheen deur die eienaar hanteer is. Dié bestuurders moet doeltreffend wees, maar hoef nie noodwendig van die hoogste kaliber te wees nie, aangesien hul potensiële groei in die organisasie steeds beperk is deur die grootte van die maatskappy. Tydens dié fase kan die eienaar kies om terug te tree en sy/haar tyd aan ander funksies, belangstellings of besighede te spandeer. Die ander opsie is dat die eienaar kies om die besigheid se hulpbronne vir groei in te span. Die eienaar kan die kontant van die besigheid en/of lenings neem om in te span vir verdere uitbreiding.

Fase 4: Groei

Die hoofuitdaging van hierdie fase is om te bepaal hoe om vinnig te groei en daardie groei te befonds. Tipies van dié fase is dit belangrik dat die eienaar leer om te delegeer – dus is doeltreffende werknemers, wat vinnige groei kan handhaaf, noodsaaklik. Bestuurders moet opgewasse wees om snelveranderende omstandighede te hanteer. Met vinnige groei ontstaan daar ook ’n groter behoefte aan kapitaal. Verder is die besigheid in hierdie fase van ontwikkeling gewoonlik gedesentraliseer en in verskeie afdelings verdeel. Die eienaar is teen dié tyd minder betrokke by die daaglikse aktiwiteite van die besigheid. Teen hierdie fase is die maatskappy dus by ’n keerpunt: Gaan die eienaar dit regkry om die maatskappy deur dié fase van vinnige groei te lei? Indien wel, beweeg die maatskappy gewoonlik aan na fase 5 van die lewensiklus. Indien die eienaar dit nie regkry nie, krimp die maatskappy soms in. Indien die eienaar nie die snelle groei kan behartig nie, word hy/sy in hierdie fase vervang deur die invloed van ’n belegger in die besigheid.

Fase 5: Volwassenheid

Tydens hierdie fase van ’n maatskappy se lewe is die grootste uitdaging om die gevolge van vinnige groei te konsolideer. Die maatskappy moet tydens dié fase gewoonlik die bestuur baie uitbrei en professioneel rig. Stelsels word geïmplementeer soos begrotings, strategiese beplanning en dies meer, wat soms die entrepreneuriese gees van die maatskappy kan uitdoof. Teen dié punt is die eienaar en die besigheid finansieel en operasioneel geskei. Die maatskappy het die voordeel van genoeg finansiële hulpbronne en menslike vaardighede. Die grootste uitdaging is dat die besigheid nie meer innoverend is nie en dus stagneer.

Nie alle besighede sal ál vyf fases van ontwikkeling deurgaan nie. Sommige besighede sien astronomiese groei reg vanuit die staanspoor. Ander gaan vinniger deur sekere fases gaan en langer neem om deur ander te breek. Dit is selfs moontlik dat jou besigheid afhangende van die marktoestande of ander eksterne faktore ’n fase terugbeweeg. Dit is egter uiters belangrik dat besigheidseienaars weet in watter fase van groei hulle val, sodat hulle gereed kan wees vir die volgende stap.

  • Stigter is ’n Afrikaanse e-tydskrif wat jóú help om ’n beter leier, entrepreneur en bestuurder te wees. Elke uitgawe is tussen 28-34 bladsye en artikels handel oor finansies, leierskap, bemarking en vertel die stories en lesse van suksesvolle Suid-Afrikaanse entrepreneurs. Teken hier in en ontvang maandeliks jóú Stigter-tydskrif

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.