Waar is Ramaphosa, ANC se ekonomiese oplossings vir langer termyn?

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: ANA

President Cyril Ramaphosa het ʼn groot ekonomiese toets gedop. Dit is die mening van Mike Schüssler, die senior ekonoom by Economists.co.za, in reaksie op Ramaphosa se toespraak by die 107de herdenking van die ANC en die bekendstelling van die party se verkiesingsmanifes.

Schüssler sê Ramaphosa se toespraak oor die ekonomie het talle gebreke gehad het en boonop onkunde getoon.

“Dit was ʼn uiter swak siening oor die ekonomie van ʼn land met ʼn lae ekonomiese groeikoers en stygende werkloosheidsyfer. Daar was geen visie in die toespraak nie. Ramaphosa het nie aan die verwagtinge voldoen nie,” het Schüssler gesê.

Hy wys daarop dat om te sê dat daar 270 000 nuwe werkgeleenthede elke jaar oor die volgende vyf jaar geskep sal word, belaglik is.

Schüssler sê dit toon dat die regering te laag mik om die werkloosheidskrisis op te los.

“Met ons enorme werkloosheidsyfer is die teiken waarna Ramaphosa streef, net ʼn druppel in die emmer,” het hy bygevoeg.

Volgens Schüssler het daar ook weer populistiese vraagstukke in sy toespraak voorgekom.

“Dit lyk nie juis of hy weet waar om raak te vat nie. Die toespraak het ook meer gegaan oor dieselfde mislukte stories van die ANC se geploeter met die ekonomie. Dit het nie juis vertroue aangewakker nie,” was sy kommentaar.

Boonop waarsku Schüssler dat die ANC die naweek weereens laat blyk het dat hy sy oë op die land se pensioenfondse het.

“Dit is iets waarteen ek nou ʼn lang ruk waarsku.”

Hy sê dit lyk of die ANC-regering eerder so ʼn stap sal oorweeg alvorens hy die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) om hulp sal nader.

Schüssler wys daarop dat Suid-Afrika se pensioenfondsbedryf die agste grootste ter wêreld is en dit juis die Russe aangespoor het om hul kernplanne aan die vorige president, Jacob Zuma, te smous.

Hy sê egter dit sal baie sleg wees indien die regering aan pensioenfondse begin voorskryf oor hoe om hul geld te belê.

Volgens die ANC se manifes sal die regering kan voorskryf in watter bates pensioenfondse moet of kan belê. Dit sluit in gebiede wat deur die staat goedgekeur is of in staatsbeheerde ondernemings.

Die manifes sê dat die ANC maniere sal ondersoek om in sosiaal-produktiewe beleggings, soos die informele nedersettings se ekonomie, insluitend behuising en infrastruktuur, te belê.

Die ontluikende markkenner, Peter Attard Montalto, het aan Moneyweb gesê die aankondiging was ʼn verrassing en toon duidelik dat die manifes ʼn oorwinning vir die Zuma-kamp is.

Montalto wys daarop dat met ontwikkelings ten opsigte van Eskom, daar waarskynlik druk sal kom sodat banke en pensioenfondse sal moet inspring om die sukkelende elektrisiteitsvoorsiener geldelik aan die gang te hou.

Schüssler sê dat Suid-Afrika beroof is deur staatskaping en die skuldiges nog nie aangekeer is nie.

“Doen iets hieromtrent dan kan ons weer gesels. Tot dusver het Ramaphosa getoon dat hy ekonomies onkundig is en nie na langtermyn-ekonomiese oplossings kyk nie,” het hy gesê.

Suid-Afrika se pensioenfondse het R8 triljoen onder hul bestuur. Die batebestuurder, Futuregrowth, wat R185 miljard onder sy bestuur het, het ook gewaarsku dat die regering se beplande ingryping in die sektor sonder enige vaste riglyne tot swakker opbrengste vir afgetredenes sal lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

B ·

Die ANC se ekonomies oplossing is lankal bekend en gepubliseer, dit word die NDR genoem en is gebasseer op die Vryheids Manifes, en is alreeds ver gevorderd met implimentering. Net die laaste paar domino’s staan nog.

Chris ·

‘n Mens moet 25 jaar terug in die verlede gaan delwe om so-iets oor Suid Afrika te kry.

André de Kock ·

Verskoon as dit ‘n dom vraag is, word pensioene in dieselfde lig gesien as voorsorg fondse. Nogmaals dankie.

Willie ·

As ek moet raai, sou ek sê alle plaaslike beleggings gaan uiteindelik oor dieselfde kam geskeer word. Jy as persoon hoef nie te emigreer nie, maar laat beslis jou geld emigreer.

What a joker! ·

Langtermyn???? Beplanning??? Jy maak seker n grap!! Hietdie lot kan nie eens vir vandag se beplanning voorsiening maak nie…Kyk hoe lekker lag hy Ramapaddakoker al te lekker vir wat jy so se hierso..

Pieter ·

Ramaphosa het ‘n graad in die regte. Sy finansiële rykdom kan toegeskryf word aan politieke konneksies, BEE en ander buite-ekonomiese aktiwiteite.

Dit is ‘n feit dat die ANC faal om te regeer en net kan afbreek en afneem. Onteiening sonder vergoeding is ‘n voorbeeld, daarna herverdeling van rykdom/vat aan beleggings in die banke? Regte klomp diewe.

Dit word tyd dat die ANC tot niet gaan en hulself se onregmatige eiendom afgeneem kan word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.