‘Welvaartskeppers’: Is kwalifikasies werklik nodig?

Foto ter illustrasie. (Foto:
Himal Rana/Unsplash)

Is kwalifikasies werklik nodig om welvaart te skep? PJ Botha van die finansiële reeks, Welvaartskeppers, het goeie wenke vir dié wat wonder of formele kwalifikasies nodig is om sukses te behaal.

“Die kort antwoord is nee,” sê PJ Botha. “Maar dit verhoog tog jou kanse op sukses.”

Hy noem dat groot name soos Apple se Steve Jobs en Microsoft se Bill Gates nie hulle kwalifikasies voltooi het nie, maar tog groot sukses behaal het.

“Maar hulle is dalk die uitsondering op die reël. Ek stel voor dat wanneer ʼn persoon die geleentheid kry om ʼn kwalifikasie te verwerf, hulle dit moet aangryp want kennis is mag,” sê PJ. “Daar moet egter onthou word dat om ʼn kwalifikasie te verwerf persoonlike deursettingsvermoë asook finansiële opofferings verg. ʼn Kwalifikasie waarborg ook nie noodwendig ʼn werk of bevordering in die werkplek nie.”

ʼn Paar punte wat vir die Welvaartskeppers-span uitstaan ná die gesprekke in dié episode, is die volgende:

  • Doen deeglike navorsing oor jou kwalifikasie
    Doen noukeurig huiswerk oor wat jy as ʼn loopbaan sien. Die meeste beroepe is nie soos wat hulle in flieks uitbeeld nie, so probeer vakansiewerk doen in die veld waarin jy belangstel. Dit is dalk nie ʼn slegte idee om ʼn oorbruggingsjaar te neem voordat jy finaal besluit nie.
  • Jy het in die verkeerde rigting studeer, wat nou?
    In jou studies leer jy meer as net wat in die handboeke geskryf is. Hoewel jy nie altyd gebruik wat jy geleer het nie, vorm dit tog die manier hoe jy dink. Jy kan altyd verder studeer of van rigting verander. Tydens my gesprek met Marlie Coetzee verduidelik sy dat sy met kommunikasiekunde begin het, maar sy toe besef het sy hou eerder van die sake-kant en dit het gelei tot verdere studies om uiteindelik ʼn MBA-graad te verwerf. Erik Kruger het as fisioterapeut studeer, maar het toe heeltemal van loopbaan verander en sy eie besigheid in selfontwikkeling-afrigting begin.
  • In sekere beroepsrigtings word kwalifikasies vereis
    Marlie Coetzee stel selfs mense met ʼn M-graad aan en vir enige ander gespesialiseerde werk, gaan jy ook ʼn kwalifikasie benodig.
  • Vaardighede is meer belangrik as ʼn stuk papier
    Tabz Dube het nooit die geleentheid gehad om te studeer nie, maar hy het die vaardigheid van leerwerk, wat hy by sy ouma geleer het, gebruik om ʼn suksesvolle besigheid te bou.
  • Bly ewig ʼn student
    Die leerproses stop nie by universiteit of ʼn kursus nie. Jy moet aanhou leer in jou beroep om in aanvraag te bly. Erik Kruger het ook daarna verwys – dat jy iemand moet kry wat jou help om te sien waaraan jy kan werk en waar jy voortdurend kan verbeter.

 Geo en PJ Botha gesels oor hoe belangrik, indien enigsins, ʼn kwalifikasie is om in die toekoms welvaart te kan skep – kyk hier onder:

“Dit herinner my aan hierdie storie,” sê PJ. “As jy sukses vergelyk met ʼn gat wat jy in die sand wil grawe, kan jy die gat met jou hande grawe, wat moeilik en tydsaam gaan wees. Maar jy sal dit met harde werk gedoen kry. Indien jy ʼn kwalifikasie verwerf, is dit soos om ʼn graaf by te kry. Dit maak die grawe-proses net so ʼn bietjie makliker. Indien jy egter net gaan rondstaan met jou graaf, gaan jy ook nie sukses behaal nie. ʼn Sterk wil om hard te werk, tesame met uithouvermoë, is die resep vir persoonlike sukses.”

  • “Welvaartskeppers” saai Donderdae om 17:30 uit op kykNET (DStv-kanaal 144). Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram, met die hutsmerk #Welvaartskeppers. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Barend ·

As jy nie kwalifikasies het nie moet jy self ‘n besigheid begin. In RSA gaan jy beslis nie in die koperatiewe wêreld regkom nie. As jy niks het nie kyk hulle nie eers na jou nie. Dis hoekom mense kanse vat met vals sertifikate.

ABDP ·

Ek stem saam met hom. Kwalifikasie is nie die alfa en omega nie, maar tog ‘n aanwins. Ek het vinnig besef dat die lewe gaan oor berreidwilligheid, veelsydigheid en dan bou jy vaardighede op.

annie ·

Hoekom ‘n gat in sand wou grawe? Al het jy ‘n graaf. Dit val die hele tyd toe en wat groei in sand of soek jy olie soos Mantashe of dalk ‘n skat wat ‘n seerower begrawe het? Sommer grawe? Elders sal beter werk. Ten minste sal ‘n boom kan/wil groei. En om bo-op te wil bou werk ok nie op sand nie. Sand is ‘n boumateriaal of goed vir glasmaak. Kyk wat het onlangs in Natal gebeur. Grondsand wat leeg staan, lyk soos gratis en verniet… Ja en toe verniet-ig. Slegte voorbeeld broe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.