‘Welvaartskeppers’: Ja of nee om saam met familie te werk?

‘n Skermgreep uit die episode van “Welvaartskeppers” wat fokus op familie-ondernemings. (Foto verskaf)

In die negende episode van Welvaartskeppers kom die vraag of dit ’n wyse besluit is om saam met familie te werk aan die orde. Geo Botha verduidelik meer.

“Ons het almal al gehoor dat ʼn mens nie sake met vriende of familie moet doen nie, maar daar is seker tog meer aan hierdie onderwerp en ons het na die feite gaan kyk,” sê Botha. “Families besit en bestuur die meerderheid van sakeondernemings wêreldwyd volgens nuwe data oor familie-entrepreneurskap. Soveel as 75% van entrepreneurs en 81% van gevestigde sake-eienaars se mede-eienaars is familielede. Boonop sê 62% van gevestigde sake-eienaars dat die meerderheid van hul werknemers tans lede van hul familie is.”

In ’n land soos Suid-Afrika gaan familieondernemings volgens Botha ook al hoe meer ’n belangrike rol begin speel. “Die openbare sektor het reeds te veel personeel in diens en het nie verdere begrotings vir uitbreiding nie. Dan is daar gevestigde ondernemings wat al hoe meer gebruik maak van tegnologie. Dit kan moontlik lei tot ’n hoër werkloosheidsyfer,” sê hy.

PJ Botha, Geo se broer en mede-aanbieder, het in die sewende episode by die Williams-broers in Stellenbosch gaan kuier. Die twee broers is aan die stuur van BL Williams Construction Company, ’n konstruksiemaatskappy wat meer as 60 jaar gelede deur hul pa gestig is. Hoewel die broers uiteenlopende persoonlikhede en hul eie swak en sterk punte het, sê hulle dat dit juis die rede vir hulle sukses is en dat solank daar altyd met respek opgetree word, jy jou doelwitte kan behaal. Hulle verduidelik ook dat hulle onder moes begin en hulself in die maatskappy moes bewys aangesien hul pa hulle nie bo die ander werknemers voorgetrek het nie.

“Ek het gaan kuier by een van Suid-Afrika se maatskappye wat die vinnigste groei wanneer dit by leertoebehore en -klere kom,” sê Botha. “Freedom of Movement is deur die Boezaart-broers begin en spog nou met 14 winkels landwyd. Hulle het ook onlangs een in Engeland oopgemaak. Lean Boezaart het my deur hulle indrukwekkende reis gevat – van die begindae waar hy en sy drie broers groot drome as kinders gehad het en later toe hy en sy jonger broer, Roal, die gaping gesien het vir leersakke en -skoene. Die naam Freedom of Movement het self ’n baie spesiale storie en was die slagspreuk waarmee hul pa hulle groot gemaak het: “Solank jy jou werk gedoen het en verantwoordelikhede na gekom het, het jy die ‘vryheid’ verdien om jou tyd te spandeer soos jy wil.”

Albei hierdie stories is bewyse dat familieondernemings kan werk. As ʼn mens besluit om saam met familie te werk, kan die volgende punte van uiterste belang wees:

  • Werk op die meriete-beginsel: Dit is uiters belangrik dat familielede wat later ’n maatskappy begin – dikwels kinders wat by hul ouers aansluit – hulle self moet opwerk en hul pos moet verdien. Daar is niks so sleg vir die kultuur van ’n maatskappy soos ’n familielid wat voorgetrek word nie.
  • Skei verantwoordelikhede: Elke lid van die familie het sy eie sterk punte en moet dus in ’n spesifieke rol met verskeie verantwoordelikhede aangestel word. Dit is belangrik om seker te maak die rolle word duidelikheid uiteengesit sodat daar nie onsekerheid en verwarring is nie.
  • Onderskei tussen persoonlike en sakegesprekke: Dit is nie professioneel om oor die familie se persoonlike sake by die werk te praat nie en so ook nie goed om heeltyd van werk by die naweek se braai te praat nie.
  • Verwelkom julle verskille: Elke familielid het sy eie sterk en swak punte. Doen deeglike analise om te bepaal wie beter sal pas in ’n spesifieke rol. Die feit dat julle verskil, kan julle ’n baie sterk span maak.
  • Vertrou mekaar: Wanneer die rolverdeling gedoen is, is dit belangrik om mekaar ruimte te gee en die ander lid van die familie te vertrou. Niks lei so vinnig tot konflik soos een familielid wat nie ’n ander een vertrou nie en konstant wil inmeng.

“Wanneer familie-ondernemings korrek aangepak word en daar wedersydse respek is, kan dit lei tot van die suksesvolste ondernemings wat deur generasies kan bestaan,” sê Botha. “Laat staan die ego en wees ’n spanspeler. Dit kan net lei tot ’n wen-wen situasie en ’n suksesvolle nalatenskap.”

  • Welvaartskeppers is Donderdae om 17:30 uit op kykNET (DStv-kanaal 144) te sien. Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #Welvaartskeppers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

VaalDonkie ·

As jy die regte familie het, sure. Maar hier sit ek en wonder hoe ek R50 000 uit naby familie gaan kry sonder om die verhouding vir ewig te vernietig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.