Werkloosheid-, indiensnemingsyfers vir vierde kwartaal van 2018 bekend

Argieffoto: Reint Dykema

Statistieke Suid-Afrika het vandeesweek die werkloosheidskoers vir die vierde kwartaal van 2018 in sy kwartaallikse arbeidsmagpeiling (QLFS) bekendgemaak.

Werkloosheidskoers

Die amptelike werkloosheidskoers, volgens die eng definisie, het gedaal van 27,5% in die derde kwartaal van 2018 tot 27,1% in die vierde kwartaal. Die uitgebreide werkloosheidskoers, wat ontmoedigde werksoekers bytel en waarskynlik meer relevant vir Suid-Afrika is, staan tans op 37%.

“Die syfers gee ook ʼn aanduiding van die geskatte groei in indiensneming. Sedert die vierde kwartaal van 2008 het die geskatte hoeveelheid werkende mense in Suid-Afrika van 14,8 miljoen tot 16,5 miljoen toegeneem,” aldus Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga.

“Hierdie tempo van groei was natuurlik geensins vinnig genoeg om die werkloosheidsprobleem op te los nie – gegewe die groei in die hoeveelheid mense in die werkende bevolking oor dieselfde tydperk.”

Aard van indiensneming sedert 2010

Volgens Van Onselen is die aard van die groei in indiensneming sedert 2010 ook interessant. “Die grafiek hier onder beskou die groei in indiensneming buite die landbousektor. Dit is ʼn belangrike sub-kategorie van totale indiensneming.”

Die syfers dui daarop dat indiensneming in die formele sektor (buite landbou) – rooi kolomme – gemiddeld sedert begin 2010 baie swakker as in die informele sektor (buite landbou) – blou kolomme – gegroei het, aldus Van Onselen.

“Dit skets miskien ʼn prentjie van die moeilike huidige aard van die werkmark en beleidonsekerheid, regulatoriese rompslomp en ongunstige beleid wat swaar op die sake-omgewing weeg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.