Wie sal Tongaat Hulett red?

Foto: Tongaat Hulett

Ontleders meen Suid-Afrika se suikerbedryf staan op die drempel van interessante verwikkelinge. Die tafel hiervoor is gedek nadat Tongaat Hulett verlede week sy notering op die Johannesburgse Effektebeurs (JE) opgeskort het ná vermeende ongerymdhede met die maatskappy se finansiële state.

In die eerste scenario wat heelwat ontleders en beleggers opgewonde het, word daar bespiegel of Tongaat Hulett deur ʼn sterker mededinger oorgekoop kan word en daar word gereken die KwaZulu-Natalse suikerprodusent Illovo kan die gekose kandidaat vir dié oorname wees.

As dit egter, streng gesproke, oor prys en aanpasbaarheid gaan, beteken dit dat die Remgro-beheerde RCL Foods net-net ʼn skouer voor sal wees.

Ontleders meen juis nou dat 5 000 werkgeleenthede in die gedrang sou kom en Tongaat Hulett se pad vorentoe met duwweltjies besaai sal word, kan Suid-Afrika se mededingingsowerhede dalk goedgunstiglik oor ʼn moontlike samesmelting beslis, mits dit werkgeleenthede bespaar en swart ekonomiese bemagtiging ʼn hupstoot gee. Juis omdat dit die nasionale regering se erns is om poste te spaar.

Die KwaZulu-Natalse provinsiale regering het reeds daadwerklik opgetree om die werkgeleenthede by Tongaat Hulett te spaar. Dit het ook die Saftu-lid (Suid-Afrikaanse Vakbondfederasie) van die Voedsel- en Verwante Werkersunie (Fawu) nadergesleep om in te spring, sou poste in die gedrang kom. Fawu het by die Kongres van Suid-Afrikaanse Vakbonde (Cosatu), wegbreek nadat Numsa bande met die vakbondfederasie verbreek het.

Die Tongaat-kwessie is egter sensitief en ontleders meen dat vennootskappe eerder die toekoms van die ylende suikerprodusent kan bepaal. Tongaat Hulett was eens ʼn beursgunsteling met ʼn markwaarde van meer as R25 miljard. Nou is dit net ʼn aks meer as R2 miljard werd.

Wat die twee ander produsente betref, kan RCL dalk ʼn moontlike koop oorweeg omdat dit Transvaal Suiker Beperk (TSB) besit wat die Selati-handelsmerk besit. Ontleders meen dat RCL se kennis van die voedselbedryf wyd is nadat die Remgro-groep al sy voedselhandelsmerke onder RCL verenig het.

Dit sluit bekende handelsmerke soos, onder meer, Rainbow Chickens, Yum Yum-grondboontjiebotter, Nola, Pieman, Magua en Ouma-beskuit in.

Ontleders sê RCL weet hoe om voedselhandelsmerke te bedryf. Een kenner wys egter daarop dat vele uitdagings die suikerbedryf in die gesig staar.

Dit is veral goedkoop buitelandse invoere en die storting van produkte wat hier in Suid-Afrika lol. Dit, tesame met die probleme wat die hoenderbedryf het, kan ʼn samesmelting vroeg-vroeg in die kiem smoor. Die ander moontlike speler is Mamongae Mahlare wat in Afrika se boubedryf haar sakekennis opgedoen het. Sy het, onder meer, in Tanzanië en Mosambiek gewerk.

Sy is nou bykans 16 maande lank Illovo se bestuurshoof. Die maatskappy is ook die afgelope paar jaar deur die droogte in KZN gerem. Net soos ander suikerprodusente, is die grondkwessie ook ʼn las waaroor hulle sal moet besin.

Tog is Mahlare se siening oor die suikerbedryf positief. Sy meen dat die huidige suikerdebat hoogs polities kan word. Sy is ook bekommerd oor suikerpryse en wys daarop dat die internasionale prys vir suiker R1,74 per 500 gram is teenoor R4,93 van ʼn paar jaar gelede.

“Geen land, insluitende Brasilië, maak geld uit suiker nie,” sê sy.

Die vraag is nou of ʼn suikerprodusent of ʼn buiteperd die moed sal hê om Tongaat Hulett uit sy verknorsing te help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

George in Bloem ·

Van 25 miljard af na 2 miljard en iets in die finansiele state nie pluis nie? Ek dink nogal dis veilig om te se “transformation is now complete comrades”? How about a VIVA?!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.