Sakevroue vereer: ‘Ons hoef vir niemand in die wêreld terug te staan’

V.l.n.r: Marisa van der Merwe, Lorette Grobbelaar, Hester du Bruyn (organiseerder), Rika Venter (stigterslid), Bertha van der Spuy-Lombaard, Hlengiwe Dludlu en Samatha Adelaine.

Die Suid-Afrikaanse Raad vir Sakevroue (SARSV), wat pas sy dertigste bestaansjaar gevier het, sê daar is bykans geen einde aan wat vroue kan vermag as almal in Suid-Afrika saamstaan om vroue sukses te help behaal nie.

Die SARSV sê hy wil vroue aanmoedig om verantwoordelikheid vir hul eie mag te aanvaar en sê vroue moet saamwerk om verandering in die sakewêreld teweeg te bring.

Die raad het die afgelope naweek in Centurion in Gauteng van sy suksesvolste lede vereer vir hul sakevernuf. Al die vroue was vorige SARSV-pryswenners en elkeen moes in ʼn kort video sê hoe die eerbewys hul ondernemings en persoonlike lewens verander het.

Marisa van der Merwe

Marisa van der Merwe, stigter van MiniSkaak, het die raad se Gemeenskapsprys ontvang. MiniSkaak/MiniChess is ʼn bekroonde opvoedkundige program wat skaak gebruik as ʼn manier om basiese wiskunde-, wetenskap-, taal- en lewensvaardighede aan voorskoolse en grondslagfaseleerders te leer.

Van der Merwe het die SARSV bedank vir die werk wat die organisasie doen om sakevroue te steun. Sy sê vroue se bydrae tot die ekonomie is onmisbaar – nie net laat dit hulle toe om te groei en te ontwikkel nie, dit is ook belangrik vir hul gesinne, gemeenskap en die land se ekonomie.

“Ek was bevoorreg om uitstaande SA vroue deur die SARSV te ontmoet – hulle het my geïnspireer en gemotiveer én my opnuut gevul met waardering vir ons land en sy mense en in die besonder vir vroue wat moed en durf het, kreatiwiteit, vernuf en die deursettingsvermoë om drome na te streef en sukses te behaal. Ons land se vroue hoef vir niemand in die wêreld terug te staan nie,” sê Van der Merwe.

Sy sê die toekenning gee erkenning aan sowel ʼn Suid-Afrikaans gebore onderneming en unieke konsep, as aan hul kreatiewe sakestruktuur.

“Ons besigheid het hart – die bou van menslike kapasiteit vir die 21ste eeu – met die wete dat dit Godgegewe en uniek is. Ons bou daardie dinge wat masjiene nié kan doen nie.”

Samantha Adelaine

Samantha (née Dunbar) Adelaine, eienaar van Samantha Dunbar Inc. Physiotherapists and Biokineticists in Johannesburg, het die prys in die Groei-kategorie gewen.

Adelaine het ses praktyke in die Goudstad en nóg is in die vooruitsig. Sy sê gesondheidsorg kan in die sakewêreld soms ʼn grys gebied wees – haar groeiende onderneming is ʼn diens aan die gemeenskap. Sy neem dié maatskaplike verantwoordelikheid ernstig op en wil ten alle tye haar beroep se reputasie hoog hou.

“Die belangrikste element is om ʼn hoë standaard te handhaaf, terwyl die gemeenskap weet ons is altyd beskikbaar as hulle ʼn probleem het.

“Dis ook belangrik om jong mense toe te laat om te groei. My praktyk het baie jong, professionele werkers en dis vir my lekker om hulle toe te laat om te groei. Ek het al personeel wat hul eie praktyke oopgemaak het nadat hulle hier gewerk het,” sê Adelaine.

Sy sê sy sou egter nie kon vermag wat sy het, sonder die hulp van haar man nie.

“Ek word deur verandering gedryf, ek wou altyd voor almal wees. Ek dink nie enige onderneming kan groei as die eienaar nie so hard soos die personeel werk nie. My personeel weet ek doen dit en werk selfs harder as hulle. Ek bestuur nie net die onderneming nie, ek is aktief betrokke. Ek behandel steeds pasiënte – vandag is ek byvoorbeeld vol bespreek. Niks verander net omdat ek die eienaar is nie,” sê Van der Merwe.

Bertha van der Spuy-Lombaard

Eienaar van ClinicPlus, Bertha van der Spuy-Lombaard, het die Presidensiële-eerbewys ontvang.  ClinicPlus, wat uit eMalahleni in Mpumalanga bestuur word, bied omvattende beroepsgesondheidsbestuur- en konsultasiedienste aan myne en ander bedrywe in Mpumalanga.

Van der Spuy-Lombaard sê sy glo die onderneming se goeie dienslewering en haar uitstekende personeel het die toekenning moontlik gemaak. Sy sê sy het geweldig baie geleer sedert sy in 2012 die eerste keer die toekenning ontvang het. Haar onderneming het intussen beduidend gegroei – van drie personeellede toe sy haar deure oopgemaak het, tot 31 mense tans.

“Om die Presidensiële-eerbewys te kry, beteken hulle erken dat ons goeie sakevroue is en hulle erken die groei wat in ons besighede plaasgevind het. Vir my gaan dit oor die vertroue wat die beoordelaars in ons gestel het.

“Ek dink wat ons reg doen, is ons benadering tot mense. Ons fokus eerste op dienslewering en nie op die geld wat jy daaruit kan maak nie. En jy vat jou mense saam met jou, hulle is baie belangrik.”

Van der Spuy-Lombaard sê om ʼn behoorlike netwerk van sakekennisse op te bou, is ʼn belangrike element om ʼn onderneming te laat groei.

“En onthou, dit is God wat ons bekwaam maak, dit kom nie net uit onsself uit nie,” was Van der Spuy-Lombaard se raad aan ander sakevroue.

Hlengiwe Dludlu

Hlengiwe Dludlu, eienaar van HCD Trading & Consulting in Mbombela, was die publiek se keuse (People’s Choice) as wenner. Haar onderneming lewer ʼn omvattende diens aan ánder ondernemings en help met enigiets van boekhoudienste, tot toegang tot finansiering, registrasies en tenderprosesse.

Dludlu sê die prys is ʼn groot eer en sê talle mense is geïnspireer deur wat sy vermag het. Dit was haar droom om aan ander te wys dat sy haar eie onderneming suksesvol kan bestuur. Sy sê dat sy ander mense ook só oor hul ondernemings wil laat glo.

Dludlu sê sakelui speel ʼn belangrike rol om die land te bou en mense se omstandighede se verbeter.

“My geesdrif vir wat ek doen, is my grootste dryfveer. Ek is mal oor my werk, want ek moedig mense aan en help hulle om hulle eie ondernemings te laat groei.”

Sy sê hoewel sakevroue steeds baie hindernisse moet oorkom, enigiets gedoen kan word as jy genoeg passie vir jou werk het. Dludlu sê die bestuur van ʼn onderneming sal nie soos ʼn opdraande stryd voel as jy doen waarvoor jy geroep is nie.

“As jy doen waarvoor jy lief is, sal jy nie toelaat dat enigiets in jou pad staan nie. Die groter prentjie is jou visie – daai groter prentjie maak jou onstuitbaar.”

Lorette Grobbelaar

Lorette Grobbelaar, eienaar van Oliver Treads in Mosselbaai, het die Beoordelaarskeuse-afdeling gewen. Grobbelaar is al amper 30 jaar in die bandebedryf, ʼn wêreld wat nog grootliks deur mans oorheers word.

Sy skryf haar sukses in dié “mannewêreld” toe aan die goeie verhoudinge wat sy ten alle tye probeer handhaaf.

“Ek dink dis omdat ek ʼn vrou is en met my hart én my verstand dink. My sterk punt is kommunikasie. Ek is ʼn oopdeurbeleid-mens. Dit gaan oor verhoudinge: met my personeel, my verskaffers en my kliënte. Dis die hoofding vir my. Alles in die lewe gaan oor verhoudinge.”

Grobbelaar het haar onderneming van die grond af gebou, het verskeie terugslae beleef, maar geweier om moed op te gee.

“Ek glo jy moet ʼn verskil maak deur aan te hou. Vandag se mense kan nie meer aanhou nie. My raad aan ander sakemense is om aan te hou. Moenie sommer opgee vir ʼn hindernis wat oor jou pad kom nie. Gaan aan en jy sal bo uitkom,” sê Grobbelaar.

Die bekende sakevrou en kunskenner Rika Venter het die oorspronklike SA Raad vir Sakevroue in 1985 gestig. Die naam is later verander na die SA Council for Business Women (SACBW), as weerspieëling van raad se meer inklusiewe benadering.

Drie dekades later is die doel steeds om sakevroue se potensiaal te help ontsluit. Die SARSV bied ook ʼn platform aan vroue waar hulle netwerk kan doen en by mekaar kan leer. Daar is ook ʼn mentorskapprogram waar reeds suksesvolle sakevroue opkomende sakevroue bystaan.

Die SARSV sê hy bemagtig vroue om hul regmatige plek in die sakewêreld in te neem, deur praktiese hulpmiddels vir hulle beskikbaar te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.