Sal beleggers nou bereid wees om hul beursies oop te maak?

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Elmond Jiyane.

President Cyril Ramaphosa se plan om beleggings ter waarde van R1 200 miljard na Suid-Afrika te lok, kan lelik gepootjie word. Dit is die mening van verskeie ekonome in die lig van verskeie ekonomiese en politiese probleme wat die land in die gesig staar.

Die hoofekonoom by die Efficient Groep, Dawie Roodt, sê dat batebestuurders aan twee vereistes moet voldoen. Dit is om geld te bekom en dit dan te belê.

Hy sê daar is geen twyfel dat die span wat, onder andere, oudfinansminister Trevor Manuel en ’n voormalige uitvoerende hoof van Standard Bank, Jacko Maree, insluit, wel daarin sal slaag om deure oop te klop nie.

“Die uitdaging gaan wees of beleggers bereid is om hul beursies oop te maak.”

Roodt sê egter dat beleggers nie noodwendig eensklaps geld sal belê nie.

“Daarvoor is daar te veel probleme in die land wat die ekonomie laat wankel. Dit sluit in die grond-debat, kwellinge oor die Mynbou-handves, arbeidswetgewing, arbeidsverhoudinge, die lomp en groot staatsdiens en elektrisiteitsvoorsiening.”

Volgens Roodt is dit probleme wat beleggers kan afskrik en weghou.

“Daar is net te veel strukturele probleme wat beleggers kan afskrik. Die regering sal daadwerklik iets aan hierdie kwellinge moet doen,” sê hy.

Die Mynbou-handves en regte van grondeienaarskap het weer in die kollig gekom nadat die regering gister aangedui het dat hy die uitspraak van die Noord-Gautengse hooggeregshof gaan betwis.

Volgens dié uitspraak van twee weke gelede het die hof beslis dat, sodra ’n groep bemagtig is, dit altyd bemagtig is. Die regstwis gaan oor die 26% aandeelhouding wat aan swartes toegestaan moet word ingevolge die tweede Mynbou-handves, maar na 30% opgestoot is in die afgelaste derde Mynbou-handves.

Die minister van minerale hulpbronne, Gwede Mantashe, het gister aangekondig dat die regering die bepaling gaan beveg. Dit ondanks die feit dat die regering die derde Mynbou-handves tydelik terughou.

Mantashe probeer om die nuwe Mynbou-handves teen volgende maand te voltooi. Maar ʼn mynprokureur, Paul Burkhard, het op ’n radioprogram gesê dat hy opdrag het om die twee vorige Mynbou-handveste ongrondwetlik te laat verklaar.

Roodt sê dat die mynbousektor ’n belangrike beleggingspoort is, maar dat onsekerheid en onmin waarskynlik die derde Mynbou-handves sal kelder.

Die hoofekonoom by Economists.co.za, Mike Schussler, sê dat Suid-Afrika nie die enigste land is wat beleggings nodig het nie. Hy sê beleggers soek sekerheid en dat  kwessies soos die gronddebat en die besit van aandeelhouding onsekerheid skep.

Schussler sê dat die staatsdiens en vakbonde ook ’n uitdaging gaan wees, en dat die regering ernstig aandag aan dié twee kwessies sal moet gee.

Volgens Schussler gaan die regering baie gou by die punt kom waar hy besluite sal moet neem oor die staatsdiens, arbeidswetgewing en, onder meer, die gronddebat.

“Dit gaan moeilik wees om buitelandse beleggings te lok met hierdie uitdagings wat nog nie opgelos is nie. Iewers gaan Ramaphosa besluite moet neem wat ongewild kan wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Trustee ·

AG ENGELAND se tannie kon nie wag om hom MILJOENE in die hand te stop nie, dieselfde regering wat SANKSIES teen die NP toegepas het oor apartheid BELOON nou vir Ramaphosa vir die plaasmoorde en onteiening van grond sonder vergoeding . NEEWAT .. die oorsese lande gaan ons BESLIS nie help nie .. dalk vir die ANC geldjies in ‘n koevertjie of sportsak gee, maar VERSEKER nie om die land beter te maak nie.

Johan ·

Ek sal nie in die land belê nie……wie sal so stupid wees…….

Botha ·

Bogenoemde en dan die afbrand van geboue en die alewige “strikes” oor alles en nog wat.

marous ·

Wat is die kans vir opbrengste aan dividende vir aandeelhouers in hierdie land ? Die enigste manier is om natuurlike hulpbronne te uit te put teen ‘n winskoop . Dit wil se as hulle nog iets kan vind wat oor is na die befaamde familie oornag terug is ooste toe , en alles in ghaos agtergelaat het. R1200 miljard belegging kan baie vining in ‘n nagmerrie donasie verander …

Lou ·

Ongeveer 25 jaar gelede het Hyundai besluit om in suider-afrika te bele. Toe open hulle ‘n fabriek in Botswana vanwaar hulle versprei na die res van suider afrika, Suid Afrika inkluis. Ek persoonlik dink dit was ‘n baie slim skuif van hulle. Botswana is polities stabiel en ondervind geen misdaad en arbeidsprobleme nie. Ons kan by hulle gaan leer….

Ekke ·

Los eers die geld! En vra liewer die Buiteland wat doen hul.om hul land se mense te beskerm en verander die wette in SA dat die land se mense ook beskerm word .daai ou Engelse tannie lees seker nie SA nuus nie ..

Ben ·

Dink hy die buitelanders is stupid? Hulle sal nie hier kom bele nie, want alles hier gaan die afgrond in!

Oom Ekonoom ·

Ek sal nie my geld in die land bele nie, ek sal dit eerder skuif en so vinnig as moontlik oorsee waar dit veilig is.

Gerrit ·

Nie met sy grondonteiening sonder vergoeding beleid nie ,nie eers mugabe sal so dom wees om in sa te belê nie ,hy gaan uitvind dit is moeiliker om geld en aandele verniet te kry oor n wet wat jy help impliminteer het het as om mense te vra om in die piesang republiek te investeer.

Pietman ·

Dis maklik om die samelewing te flous met kamtige beleggings wat wat “gelok” word. Indien een of ander politikus “X ” geld belowe. Wat beteken dit? Tussen alle lande is daar jaarliks wedersydse vaste beleggings . Is daardie bedrag dalk ‘n weerspieëling of deel daarvan? Of dalk deel van die aalmoese wat in elk geval oorbetaal sou word. Mondelinge verbintenis deur ‘n politikus is slegs politiek. Goeie media vir die bedelaar en goeie media vir die skenker. Kan glad nie indink dat beleggers wag vir politici om hul te kom oortuig nie. Beleggers is rasionele mense wat besluite neem op grond van feite en risiko’s.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.