Sassa-toue kronkel ál langer

Argieffoto

Op ʼn koue, nat oggend in Pretoria staan mense tou by die Sassa-kantoor. Hulle is daar om aansoek te doen om Sassa-toelaes, wat ouderdomspensioen, kinder- en ongeskiktheidstoelaes insluit.

Die kantoor is in Pretoriusstraat, maar die tou kronkel reeds om die hoek in Sisulustraat (Prinsloostraat). Koffie word gedrink om mense warm te hou. Van die aansoekers word deur familielede bygestaan wat voorheen deur die proses gegaan het.

ʼn Sassa-werknemer se aansoeke om toelaes styg weens werkloosheid en daar is kommer oor die uitwerking van die hoër BTW op armes.

Almal in die tou se oë is vol verwagtinge. Sommige sug dat dit hul laaste hoop is om finansiële bystand te kry.

Koos Jansen van Danville sê hy het voorheen aansoek gedoen, maar die mediese dokumente is nooit voltooi nie. Die 59-jarige pa van drie is ongeskik vir werk verklaar. Op die vraag oor hoe die hoër belasting op toegevoegde waarde se koers hom gaan raak, krap hy kop.

“Kyk, inkopies gaan duurder word. En die lewe is duur. Ek sal maar uitspring en kyk of ek deeltyds werk kan doen om die gesin te onderhou,” sê hy.

Hy en sy gesin woon saam met vyf ander gesinne in buitekamers. Sy vrou doen tydelike werk wat met die huur help.

In sy begroting het die vorige minister van finansies, Malusi Gigaba, aangekondig dat ouderdomspensioen en ongeskiktheidstoelaes met R90 tot R1 690 sal styg. ʼn Verdere 10 sal in Oktober bygevoeg word. Kindertoelaes styg met R20 tot R400.

Gigaba het die “hoër as inflasie-verhogings” aangekondig om juis die armes te vergoed vir die verhoging in BTW.

Nog iemand wat tou gestaan het, was Gert Willemse van Jan Niemandpark. Hy het sy aansoek om ouderdomspensioen kom finaliseer. Hy woon alleen in ʼn houthuisie by familie.

“Die nuwe BTW-koers gaan ons ruk. Ek sal maar net versigtig beplan hoe ek my inkopies gaan doen. Die geld wat ons kry, is min, maar jy kan nie daaroor kla nie. Dit is beter as niks,” sê hy.

Tersia Jonker van Proklamasieheuwel ontvang kindertoelaes. Dis moeilik om met R400 per kind uit te kom.

“Daarom werk ek soggens. Twee kinders is op skool en die derde in die kleuterskool,” vertel sy. Jonker voeg by dat sy juis die dag afgeneem het om haar jongste spruit vir ʼn kindertoelae te kom registreer.

ʼn Ekonoom by ENB, Dawie Maree, sê die besluit oor die verhoging in BTW was deurdag en sal eerder die middelklas as armes se sak skud.

Hy voorsien dat die onmiddellike effek ʼn daling in verbruikersbesteding gaan wees. Maree voorspel egter dat dit sal herstel sodra verbruikers gewoond raak aan die nuwe koers.

Volgens Maree is daar ruimte om meer basiese goedere van BTW vry te stel. Hy voeg by dat dit veral armes sal help.

Tans is daar 19 produkte wat van BTW vrygestel is. Dit sluit in droëbone, droëmielies, vrugte, groente, lensies, eiers, geblikte vis, melk, melkpoeier, stampmielies en kookolie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

marous ·

Gigaba was net ‘n buikspreker vir diegene wat die staatskas wil aanvul om aan te hou plunder.

Piet Botha ·

Daardie tien rand in Oktober is verlede jaar ook belowe maar ons het dit nooit gekry nie.

Hanna ·

My hart gaan uit na oumense en gestremdes, selfs die medies ongeskiktes. Maar om op die aalmoese v die staat afhanklik te raak agv kinders… Nee, mens het darem n keuse! Daar is n rede hoekom ek nie soveel kinders het nie, want ek weet wat dit kos!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.