Seminaar versterk kleinsake-ondernemings

sakeliga-seminaar-2018-10-17-tommy-du-plessis-01

Prof. Tommy du Plessis, wat verbonde aan die Noordwes-Universiteit se Sakeskool en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Raad vir Kleinsake is, was een van die sprekers by Sakeliga se seminaar vir kleinsake-ondernemings. Foto: Reint Dykema.

“Net sowat 5% van kleinsake-ondernemings wat vanjaar begin het, gaan oor tien jaar nog sake doen. ʼn Verdere 90% van ondernemings vou binne die eerste drie jaar.”

Dit is waarom die Suid-Afrikaanse Raad vir Kleinsake (South African Council for Small Business, of te wel die SACSB) meen dit is noodsaaklik om opleidings- en netwerkgeleenthede vir eienaars van dié soort ondernemings en entrepreneurs te skep.

Die raad het uitgereik na die sakeregte-organisasie Sakeliga en hulle het saam met Maroela Media ʼn seminaar Dinsdag by Leriba Lodge in Centurion aangebied waar kenners die sleutel van winsgewendheid en besigheidsukses onder die soeklig geplaas het.

“Een van die groot probleme van entrepreneurs is dat elke ou eintlik op sy of haar eie eiland funksioneer. Dit is nodig dat hulle by seminare soos hierdie bymekaar kan kom en leer, nie net by ons nie, maar ook en veral bymekaar,” het prof. Tommy du Plessis, wat verbonde is aan die Noordwes-Universiteit se Sakeskool en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Raad vir Kleinsake, gesê.

Du Plessis meen opleiding is ʼn reddingsboei vir kleinsake-ondernemings en kan verhoed dat die entrepreneurs dieselfde foute as hulle buurman herhaal.

“Daar word deesdae so baie klem geplaas op die poging om nuwe ondernemings te stig dat die ouens vergeet van bestaande klein ondernemings en nie pogings aanwend om te verhoed dat hulle deel word van die statistiek nie. Dit is belangrik om hul deure oop te hou.”

sakeliga-seminaar-2018-10-17-carl-aucamp

Carl Aucamp het met kleinsake-eienaars gesels oor wanneer kan hulle hulself en hul onderneming as suksesvol beskou. Foto: Reint Dykema.

Hy en Arnold Vosloo en Carl Aucamp, die ander sprekers van die dag, beskik saam oor meer as sestig jaar se ondervinding in konsultasiewerk vir kleinsake-ondernemings. Hulle het hulle kennis en ervaring in die kleinsake-ondernemingswêreld met die gehoor gedeel.

Maroela Media, ʼn mediavennoot vir die geleentheid, het ook ʼn spesiale aanbieding gedoen vir hoe sakelui digitale en sosiale media kan benut om besigheidsukses te optimaliseer.

“Ons by Maroela Media het self ʼn sterk entrepreneuriese aanslag en daarom verstaan ons die uitdagings van kleinsake-ondernemings. Ons het self ʼn klein span wat kreatief te werk moet gaan met bemarking en ons inkomstemodel. Verder verstaan ons die digitale omgewing goed en daarom was dit net ʼn logiese passing om ʼn inisiatief te ondersteun wat kleinsake-ondernemings bemagtig,” het Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, gesê.

Volgens Moira-Marie Kloppers, hoof van kommunikasie en media by Sakeliga, handel dié organisasie se visie sedert die bekendmaking van hul nuwe handelsmerk in Julie vanjaar juis daaroor om ʼn gemeenskap van sakelui te vestig.

“ ʼn Belangrike manier om so ʼn gemeenskap te vestig, is om dae soos vandag te hê waar mense bymekaar kan kom en by mekaar en by kenners kan leer,” het Kloppers bygevoeg.

Maroela Media het by Du Plessis uitgevind wat sy top wenke vir entrepreneurs is:

  • Kyk na jou eie en jou personeel se houding. ʼn Positiewe werker beteken baie vir ʼn onderneming. “In Suid-Afrika is die houding van werkers ongelukkig pessimisties en negatief. Dit is nie nodig nie. Hier is nog talle positiewe geleenthede in die land en sakeondernemings wat goed doen.”
  • Entrepreneurs moet kreatiewe maniere vind om meer te verkoop. “Mededingende verkope is eenvoudig baie belangrik vir die sukses van enige kleinsake-onderneming.”
  • Kyk na maniere om kostes te bespaar. “Kyk na innoverende maniere om verliese in jou onderneming te keer.”
sakeliga-seminaar-2018-10-17-brendon-staniforth

Brendon Staniforth, bemarkingskonsultant by Maroela Media, het ook sy topwenke vir entrepreneurs oor bemarking gegee. Foto: Reint Dykema.

Brendon Staniforth, bemarkingskonsultant by Maroela Media, het 15 jaar se ondervinding in bemarking en advertensies. Hy het ook sy topwenke vir entrepreneurs oor bemarking gegee:

  • Vind eerstens uit wie presies is jou nis- of teikenmark en vind dan uit waar jy hulle gaan opspoor.
  • Gebruik verskillende mediums om aan jou teikenmark te adverteer.
  • Pas op vir duplikasie! Jy wil nie dieselfde persoon op tien verskillende maniere bereik nie, probeer eerder om verskillende mense deur verskillende mediums te bereik.
  • Kry vir jou iemand wat jy vertrou wat jou kan help met advies oor bemarking. Jy hoef dit nie alles self te doen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Uitstekende advies ·

Dankie vir die goeie raad. Hou gerus meer sulke seminare en sit dit op youtube.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.