Sibanye-Stillwater gaan platinummyn-groep kry

Sibanye-Stilwater se Masakhane-myn in Driefontein (Foto: Matthews Baloi/ANA)

Wat beskou kan word as ’n noodsaaklike lewensboei, het die Mededingingskommissie toestemming verleen dat die goudmyngroep Sibanye-Stillwater die platinummyn-groep Lonmin kan verkry. Die transaksie word op 285 miljoen Britse pond geraam.

Een van die vereistes wat die kommissie wel gestel het, is dat Sibanye ten minste ’n kwart van die poste red wat Lonmin tans wil sny. Volgens markkenners kan dit ’n groot struikelblok wees vir Sibanye wat albei myngroepe op ’n winsgewende pad wil plaas.

Lonmin het berug geword nadat ’n staking deur lede van die Vereniging van Mynwerkers en Konstruksie-unie (Amcu) in Augustus 2012 tot die Marikana-slagting gelei het. Lonmin se wins was sedertdien onder druk. Die myngroep het eers vanjaar matig begin herstel.

Daarteenoor het Sibanye se jaar op ’n droewige noot begin weens ongelukke by sy myne waarin meer as 30 mynwerkers dood is.

Volgens die kommissie kan Sibanye van die beplande aflegging van 3 000 mynwerkers verhoed deur drie korttermynprojekte aan te pak.

Die kommissie se voorwaardes word gesien as ’n poging om die ANC se strewe te ondersteun dat die afskaling van poste in die privaat sektor verhoed word. Verskeie myngroepe, insluitend Goldfields, het aangekondig dat hy poste gaan afskaal.

Myngroepe wys daarop dat hoe produksiekostes en looneise hul winsmarges onder druk plaas.

Lonmin se wins word egter erg gekniehalter deur die lae platinumprys en hoë arbeidskostes. ’n Ekonoom van NKC Research, Elize Kruger, het egter vroeër gesê dat die swakker rand uitkomkans gee vir uitvoerders soos Lonmin.

Sibanye se eerste stap in die platinumsektor het in 2016 begin toe hy die Amerikaanse platinummyn- en palladium-groep Stillwater in 2016 gekoop het. Die transaksie het $2,2 miljard beloop.

Na verwagting sal die oorname van Lonmin teen die einde van vanjaar voltooi wees.

Die oorname is grootliks deur Sibanye se bestuurshoof, Neal Froneman, aangedryf. Die transaksie word gesien as ’n lewensboei om die sukkelende Lonmin te red.

Die goeie nuus is dat die transaksie kan meebring dat 3 700 poste uit die 13 000 wat Lonmin wou afskaal, gered kan word.

Die kommissie het bygevoeg dat poste ook gered kan word indien die platinumprys stewiger sou neig en die myngroep sy produksiekostes in toom kan hou. Dit waarsku egter dat, indien die platinumprys afplat, Lonmin moeilik poste sal kan red.

Froneman sê die samesmelting is billik, redelik en die beste belang van aandeelhouers. Hy sê die transaksie sal ook stabiliteit en ’n positiewe vooruitsig vir Lonmin skep.

Aandelehouers van beide maatskappye sal in Desember stem om goedkeuring aan die transaksie te verleen.

Dit is die eerste keer dat ’n Suid-Afrikaanse myngroep belange in goud en platinum gaan beheer sedert Anglo American in 1996 sy belang in JCI ontbondel het. Anglo het die platinum-bates behou. Sy goudbelange is aan verskeie groepe, insluitend die vermoorde Brett Kebble verkoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Afleggings ·

Hang af wat die oorname alles behels. Hulle mag dalk volgens die ooreenkoms vir die volgende 12 maande of 24 maande nie werkers afle nie, maar niks keer hulle daarna nie. Die maatskapy wat ons oorgekoop het se vereistes van die kommissie is dat hulle vir die volgend 24 maande geen aflegging mag doen nie, daarna kan hulle maak wat hulle wil.

marous ·

Wie is lOnmin se hoof dissipel ? 285 mil britse pond , net na die dame kom kuier het ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.