‘Só kan ekonomie gered word’

geld ekonomie suid-afrika

Argieffoto

ʼn Suid-Afrikaanse ekonoom meen daar is maniere om Suid-Afrika uit die huidige ekonomiese moeras te kry.

Die opmerking kom nadat Standard & Poor’s Global Suid-Afrika afgegradeer het, terwyl Fitch die land kennis gegee het dat hy sake fyn dophou. Moody’s het vroeër vanjaar die land afgegradeer.

Mike Schussler, hoofekonoom by economists.co.za, sê dit sal politieke wilskrag verg om ʼn werkbare plan deur te voer. Schussler sê ondanks die afgradering kan Suid-Afrika asem skep omdat hy steeds buitelandse kapitaal kan lok. Dit is omdat die land steeds deel is van die Citi-wêreldindeks vir staatseffekte.

Schussler sê fiskale dissipline is nodig en besteding sal ingekort moet word. Hy sê die staat se salarisrekening is tans te groot en moet gesny word. Volgens Schussler is dit nodig om meer op infrastruktuur te bestee en korrupsie hok te slaan.

Ten tweede sê hy staatsondernemings moet reggeruk word. In ʼn radikale voorstel sê hy die Suid-Afrikaanse Lugdiens moet weggegee word en dat Denel verkoop moet word.

Schussler stel voor dat Eskom, Transnet en die lughawensmaatskappy Acsa opgebreek moet word. Hy sê van die opbrengste kan gebruik word vir afleggingspakette vir staatsamptenare. Hy sê sy voorstel kan tot beter dienslewering en uitvoerende bestuur lei.

Hy is veral opgewonde oor wat Transnet se toekoms kan inhou met hawens wat met mekaar kan meeding. Schussler waarsku dat private monopolieë nie staatsmonopolieë moet vervang nie. Hy wys daarop dat die staat steeds verspreiding van elektrisiteit as ʼn staatsfunksie kan hanteer, terwyl kragopwekking deur vier blokke wat meeding gedoen kan word. Hy sê dit is noodsaaklik dat onafhanklike kragprodusente ʼn gelyke kans gebied moet word.

Hy sê nog ʼn nodige stap is om die aktes op alle HOP-huise aan hul wettige eienaars te gee. Hy sê die stap is ook nodig vir landelike gebiede aangesien dit eiendomsekerheid sal verseker.

Schussler maan ook dat burokrasie moet afneem. Hy verwys na die onlangse visum-debakel wat toerisme gestrem het. Wat volgens Schussler ook belangrik is, is dat die regering met beleggers en sakelui moet praat, en veral kyk om mag af te wentel.

Hy sê die mededingingskommissie se magte moet ook bekyk word. Hy meen dit het tot ʼn magdom samesmeltings onder regsfirmas gelei.

Schussler meen data moet redelik goedkoop wees, terwyl klein- en mediumgrootte sakebelange van onnodige wetgewing vrygestel moet word. Dit kan werkskepping stukrag gee, sê hy.

Volgens Schussler is dit ook noodsaaklik dat die regering minder in die ekonomie betrokke moet wees en met swart ekonomiese bemagtiging moet wegdoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Dis die plan?! Fire 'n klomp onskuldige mense? ·

1. Julle verwar Fitch en Moody’s met mekaar in die tweede paragraaf.
2. So die beste plan waarmee die groot ekonoom voor die dag kon kom om Zuma se foute reg te maak is om ‘n klomp mense (gewone mense wat hard werk vir hulle salarisse – anders as Zuma wat net sit en planne uitdink om homself te verryk) af te dank en werkloosheid te vererger. Ja, vries die poste; vries salarisse vir ‘n jaar of twee. Maar afdankings is onnodig en teenproduktief in die lang duur.
3. Ja, raak gerus ontslae van Denel (oorlog is geldmors, sleg vir die omgewing en sleg vir die mensdom) en privatiseer SAL

Jordaan ·

Dit is jammer as gewone mense impakteer word, maar mens kan ook nie voortgaan met ‘n salarisrekeing wat buite verhouding groot is nie. Die eerste plek waar begin moet om koste te sny is die kabinet, ministeriele voordele en senior staatsamptenare (waar daar dikwels meer bestuurders as werkers is).

Jerry ·

Die voorstelle kan werk in n meer stabiele politieke omgewing. Suid-Afrika gaan elke dag agteruit tov stabiliteit in meeste sektore waar daar geplunder kan word. Die plundering gaan nie stop nie, want dit het reeds te ver gevorder, maw anargie is nie net ons voorland nie, dit is reeds met ons. Die anargiste stel nie belang in goeie werkbare ekonomiese planne nie. Hulle bestuur met opset alle sektore oor die afgrond.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.