Só kan plaaslike ekonomiese groei verseker word

Stilbaai Sakekamer het met die gesogte prys as die AHi Wes-Kaap se sakekamer van die jaar weggestap. Foto: Verskaf.

Tydens die AHi Wes-Kaap se jaarkongres wat pas op Velddrif in die Wes-Kaap aangebied is, is verskeie belangrike kwessies, soos erkenning aan die informele sektor in elke dorp en landbou en toerisme as ekonomiese katalisators, bespreek.

“Daar word steeds nié genoeg navorsing deur ekonome gedoen oor werkloosheid en die informele sektor nie,” het prof. Frederick Fourie, voormalige hoof van Ekonomiese wetenskappe en rektor van die Universiteit van die Vrystaat, vertel toe hy die kongres se aanbiedings geopen het.

“Werkloosheid is net te erg. Ons kan nie wag op ekonomiese groei as oplossing nie. Ekonomiese groei is nie noodwendig inklusief nie en arm mense deel nie in die ekonomie nie. Ekonomies groei ons ook nie arbeidsintensief nie,” het hy gesê.

Volgens Fourie maak miljoene mense ’n karige bestaan uit die informele sektor – sonder enige ondersteuning. In die Wes-Kaap sorg die informele sektor vir 11% van werkskepping – dus ’n baie belangrike sektor.

Cornie Swart, president van Agri Wes-Kaap, het kongresgangers toegespreek oor landbou as ekonomiese katalisator. Volgens hom is elke boerdery vandag ’n ekonomiese sake-eenheid. Om ’n sukses te maak moet ons egter veilige omgewings skep.

“Sake en landbou moet fokus op ’n bondgenootskap en hande neem om plaaslike ekonomie-sektore te ontwikkel en saam met munisipaliteite geleenthede te skep,” het hy gesê.

André Diederichs, stigter en hoof van Fabasa (Family Business Association of South Africa), het praktiese raad aan familie-ondernemings gegee. Sulke ondernemings moet hul visie en waardes in ’n grondwet vergestalt.

“Van die belangrikste waardes in familie-ondernemings wêreldwyd is diens-leierskap, voortdurende vernuwing, regverdigheid, bemagtiging, integriteit en passie,” het hy gesê.

Christo van der Rheede, adjunk-uitvoerende direkteur van Agri SA en geleentheidspreker tydens die AHi-gala-aand, het gevra hoe ’n regerende party aan die een kant beleggers wegjaag en aan die ander kant beleggers se ondersteuning vra.

“Ons wat die ideale van die Grondwet uitleef, moenie toelaat dat ’n minderheid ons kaap nie. Ons wat die land met alles wat ons het liefhet, ongeag of ons wit, swart of bruin is, moet na die tekenbord gaan en ’n plan opstel om mense in Suid-Afrika te verenig. Ons moet iets saam doen om ons land te red,” het hy gesê.

Volgens Van der Rheede is mense moeg vir ’n magspel. “Ons moet die land se Grondwet uitleef. Menswaardigheid, vryheid, nierassigheid, en nie-seksisme moet voor opstaan.” Instellings soos die AHi, Agri SA en die ATKV moet ’n kritiese rol speel om te verseker burgers in Suid-Afrika weet wat in ons Grondwet staan.

Monika de Jager, bestuurder van die Namakwa-Weskus-toerismemaatskappy, het gesê toerisme kan met relatiewe klein ingrypings ʼn groot impak maak.

“Sowat 60% van die werk wat in toerisme geskep word, is vir die jeug en 70% is vir vroue. Geografies is daar ook nie beperkinge nie. Sakekamers en toerisme-maatskappye moet dit ook ondersoek om dieselfde infrastruktuur te deel,” het sy gesê.

Entrepreneurs en rolspelers is tydens die gala-aand vereer nadat benoemings in die verskeie afdelings ontvang is.

Die AHi Entrepreneur van die jaar is Marice Mercuur van Clanwilliam. Mercuur het haar eie handelsmerk Rooibos-velsorg produkte, Marice, ontwikkel en het die bedryf gestormloop met dié produk. Foto: Verskaf.

Die AHi Entrepreneur van die jaar is Marice Mercuur van Clanwilliam. Mercuur het haar eie handelsmerk Rooibos-velsorg produkte, Marice, ontwikkel en het die bedryf gestormloop met dié produk. David Kairuz van Dave’s Kitchen op Stilbaai is die AHi se Beginner-entrepreneur van die jaar.

Die Klein Karoo Black Business Chamber of Commerce and Industry op Oudtshoorn is as die AHi se Opkomende sakekamer van die jaar aangewys en Richard Shumi, raadslid van die AHi, het dié prys namens die sakekamer in ontvangs geneem. Stilbaai Sakekamer het met die gesogte toekenning as Sakekamer van die jaar weggestap.

Dr. Willie Cilliers, uitvoerende hoof van die AHi, het ná afloop van die kongres gesê dat dit ʼn hoogtepunt vir die jaar was. “Vandag se gesprekke het ons oë oopgemaak as sakekamers. Prof. Frederick Fourie het vir ons die groot waarde wat ontsluit word binne die informele sektor herbevestig en eintlik vir ons as sakekamers uitgedaag om te bewys wat hulle kan doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.